Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die stigma van geskeides

Om te skei verander nie nét jou status nie, dit verander ook jou reis in menswees, skryf Louise Karsten.

Louise Karsten

Ná my egskeiding was ek geskok oor hoeveel getroude mans op geskeide vroue jagmaak.

’n Mens sal dink dat slegs enkellopendes mekaar ná die trauma van ’n egskeiding sal opsoek.

As jy self geskei is, weet jy dat die eerste paar maande só pynlik is dat jy in elk geval vir niks meer as ’n platoniese vriendskap kans sien nie.

Jou gewete sal ook vir jou sê dat seks met ’n getroude nie eens ter sprake kan kom nie.

Behalwe dat jy te midde van die chaos wat skei bring, jou kinders emosioneel moet bystaan en weer sin moet probeer maak van jou nuwe identiteit, blyk dit nou dat geskeides boonop ook vir hul wickets moet keer.

’n Geskeide vriendin bel die ander dag uit die bloute: “Jy sal nie glo wat gebeur het nie!”

Sy klink ontsteld.

“Het jy die liefde van jou lewe ontmoet?” vra ek in ’n poging om die spanning te verlig.

Sy bars in trane uit.

“Nee. Allesbehalwe. My getroude kollega het my gebel en gesê hy my iets reguit vra. Hy vra toe of ek met hom ’n affair wil hê.”

Ek is sprakeloos. Asof ’n egskeiding self nie klaar vernederend genoeg is nie.

'n Egskeiding is nie net ’n finansiële ramp nie, dit is ook ’n emosionele ramp.

Geskeide mansvriende sing straks dieselfde deuntjie. Getroude vroue maak dikwels jag op hulle. Sommer vinnig ook, kort nadat die skeisaak afgehandel is. Geskeide mans vind dit glad nie vleiend nie.

Een van hulle sê: “Ongelukkig getroude vroue buit die situasie uit en dink ons wil net seks hê.”

Hy vertel dat geskeide werkende ma’s ook geneig is om te kla oor die druk wat die skielike enkelouerskap bring en sê: “Ek is veel eerder besig met ouerskap as met ’n leë huis.”

Dit is dus nét so moeilik om skielik ekstra tyd en ’n stil huis te hê as om alleen kop te hou met kinders se bedrywighede en ’n beroep.

Boonop is egskeiding nie net ’n finansiële ramp nie, dit is ook ’n emosionele ramp.

Jou vriende verdwyn, veral dié wat bedreig voel deur jou nuwe status. Jy word nie meer saam met ander paartjies na etes genooi nie en wanneer jy wel genooi word, kan jy as geskeide nie té veel ontspan nie.

Dit geld nie net partytjies nie.

Ek knyp die pen stywer tussen my vingers vas en trek vinnig ’n kruisie by enkellopend.

’n Vriendin het my onlangs na ’n kantoor van binnelandse sake vergesel. Terwyl ek ’n vorm met my persoonlike besonderhede invul, sien sy hoe ek vir ’n oomblik huiwer.

“Maak gou,” jaag sy my aan en loer nuuskierig oor my skouer.

Daar is ’n ry blokkies waar ek ’n kruisie moet trek om my status aan te dui. Die keuses is: getroud, geskei, weduwee, wewenaar of enkellopend.

Ek knyp die pen stywer tussen my vingers vas en trek vinnig ’n kruisie by enkellopend.

Egskeiding het my intens bewus gemaak van hoe broos verhoudings is en ook dat daar ’n ondraaglike stigma aan geskeides kleef.

* Karsten is ’n joernalis en skrywer wat saam met haar twee dogters in die Tuinroete bly. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Louise Karsten  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.