Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die strewe na uitnemendheid mag nie taan

Volgens Handelinge 15: 36-39 weier Paulus om langer met Johannes Markus, die nefie van sy medeleraar, Bárnabas, saam te werk. Die rede hiervoor is die gebrekkige werketiek van Johannes Markus.

Hy het hulle op ’n sendingreis in die steek gelaat – hy doen letterlik halwe werk – en Paulus voel só sterk oor goeie werketiek en oor uitnemendheid dat hy bereid is om van Bárnabas en Johannes Markus weg te breek.

Dis werklik hartseer om te sien hoe ons tevrede is met middelmatigheid en selfs onderprestasie. Ons sê dikwels beleefd dankie vir die afhandeling van ’n taak, selfs al was dit nie op standaard nie. Ons is dan beleefd maar oneerlik.

Ons almal ken mense wat te beleefd is om eerlik te wees, en van mense wat te eerlik is om beleefd te wees. Ons moet sowel beleefd as eerlik wees om middelmatigheid te oorkom en aan ’n samelewing van uitnemendheid te bou. Dis juis middelmatigheid wat bydra tot talle probleme waarmee ons as samelewing stoei, onder meer patetiese prestasie en power dienslewering. Ons kan nie kompromieë aangaan oor uitnemendheid nie.

Hoe ons uitnemendheid definieer, is van groot belang – ons moet dit kontekstueel omskryf. Die meet van leerlinge uit uiters benadeelde sosio-ekonomiese omstandighede se prestasie kan byvoorbeeld nie net met ’n enkele prestasiepunt gedoen word nie.

Hoe ons uitnemendheid definieer, is van groot belang – ons moet dit kontekstueel omskryf.

Groter geregtigheid sou behels dat hierdie agterstande ook by die definisie en meting van uitnemendheid in ag geneem word.

Hierdie pleidooi vir ’n kontekstuele definisie moet nie misverstaan of misbruik word nie. Die soeke na ’n meer regverdige omskrywing van uitnemendheid wil nie die vooroordeel voed dat ’n toename in diversiteit desnoods tot ’n afname in uitnemendheid lei nie.

Aan die Universiteit Stellenbosch het ons denke oor die verhouding tussen uitnemendheid en diversiteit onder die leiding van verskillend rektore gegroei.

In prof. Chris Brink se tyd het ons geredeneer dat ’n toename in diversiteit kan gepaardgaan met ’n toename in uitnemendheid.

Onder leiding van prof. Russel Botman het ons gesê ons streef na uitnemendheid deur ’n toename in ’n diversiteit van persone, agtergronde en standpunte.

Onder prof. Wim de Villiers sê ons nou dit is nie moontlik om van uitnemendheid te praat sonder om van verskillende vorme van diversiteit te praat nie.

Ferm uitsprake oor uitnemendheid dra klaarblyklik vrug. Sommige Bybelkenners meen Johannes Markus het ag geslaan op Paulus se sterk optrede en ’n nuwe blaadjie omgeslaan – een waarop die oudste evangelie, die evangelie van Markus, geskryf is.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.