Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dié teater is veel meer as babaspeletjies

Teater vir babas en peuters is soos ’n soort mega-baarmoeder waarin niks onmoontlik of onwettig is nie. Willemien Brümmer het by die afgelope Cradle of Creativity-fees in Kaapstad Suid-Afrika se heel eerste toneelstuk vir suigelinge gesien.

’n Baba hou verwonderd ’n liggie vas tydens die 15 minute speeltyd ná ’n uitvoering van Scoop: A Kitchen Play for Babies and Carers. Foto: Mark Wessels

Uit ’n knus wit tent in die foyer van die Magnet-teater in Observatory, Kaapstad, klink die klank van ’n mbira op. ’n Pofferige handjie word uitgesteek na dié Afrika-duimklavier en ’n nat mondjie kweel saam.

In die vier hoeke van die tent sit vier akteurs en tussen hulle die gehoor – vier ma’s met hul babas wat rustig op hul skoot sit of nuuskierig nader kruip na die aksie.

Voor die aanvang van dié vertoning, Scoop: Kitchen Play for Carers and Babes, het een van die akteurs aangekondig die ma’s kan binne die tent borsvoed, of daarbuite. “Vuil doeke is ook nie ’n probleem nie. Vir die ma’s se gerief is daar ’n matjie om hul babas op droog te maak net buite die tent.”

Vir ’n halfuur lank huil nie een baba nie. Dis asof hulle in ’n magiese ruimte is vol feetjieliggies en klank; ’n soort mega-baarmoeder waarin niks onmoontlik of onwettig is nie.

’n Akteur haal ’n bossie sleutels uit en vier stemme los mekaar af in ’n wysie wat sus en troos. Die sleutels en die sang word ’n simfonie. Die akteurs haal groen, blou, pers en pienk plastiekbakkies uit en maak vloeiende bewegings asof hulle slaapsand uit die een bakkie na die ander gooi.

Die akteurs blaas op fluite en bring diertjies te voorskyn wat nies- en tjorts-geluide maak. Die babas kraai van die lag.

Daarna sing die akteurs in melodieuse stemme terwyl hulle met liggies in bakkies die babas begoël: “Sleep child, the moon is calling. Kom lê naby my soos die son langs die berge. . .”

Teater nie net vir intelligentsia nie

As jy gedink het die teater is net vir die intelligentsia met hul swart rolnektruie wat lag slegs op die regte oomblik en kwaai kyke kry indien hulle iets sê, het jy nog nie van baba- en peuterteater gehoor nie.

En nee, dis nie ’n verheerlikte speelgroepie nie . . .

Scoop, met regie deur Koleka Putuma, onder leiding van die Magnet se medestigter, die teatertowenaar Jennie Reznek, is die eerste teaterstuk in Suid-Afrika vir babas van drie weke tot 12 maande. Dié stuk is verlede week by die Magnet opgevoer as deel van die randfees van die kinderteaterorganisasie ASSITEJ Suid-Afrika se Cradle of Creativity-fees.

In Suid-Afrika en Afrika is dié kunsvorm nog in doeke.

Die ASSITEJ Wêreldkongres en Internasionale Teaterfees vir Kinders en Jong Mense is vanjaar vir die eerste keer in Afrika aangebied. Dit was die 19de keer dat dit gehou is. Anders as gewoonlik was ma’s met buidelsakkies en gillende peuters nie ’n vreemde verskynsel by ’n teaterfees nie en was klein mensies net so veel deel van die aksie op die verhoog as die akteurs.

In Italië en Europa is dié soort teater al sedert die 80’s aan die ontkiem, maar in Suid-Afrika en Afrika is dié kunsvorm nog in doeke.

Yvette Hardie, president van ASSITEJ Internasionaal en direkteur van ASSITEJ SA, wat die 12 dae lange fees, kongres en konferensie Kaap toe gebring het, sê dit was nie altyd maklik nie. “Niemand het dit nog vantevore ervaar nie, so hulle weet nie waaroor ek aangaan nie. Maar ek voel tog ontsettend tevrede en baie opgewonde, want ek dink omdat ons die fees vir die eerste keer na Afrika gebring het, is kunstenaars bereid om daarmee om te gaan en daar gaan hopelik ná afloop van die fees ’n kritieke massa mense wees wat weet waaroor dit gaan.”

Indalo Stofile kielie ’n baba met ’n blou lap in Scoop: A Kitchen Play for Babies and Carers in die Magnet-teater in Kaapstad. En nee, dis nie ’n creche nie. Dit is die eerste toneelstuk in Suid-Afrika vir babas tussen drie weke en 12 maande oud. Foto: Mark Wessels

Hier te lande het dit alles begin toe Jennie Reznek by ’n fees in Japan vir die eerste keer ’n toneelstuk vir babas gesien het. “Sy’t ná die uitvoering na my gekom en gesê ‘dis ongelooflik, ek het geen idee gehad dit bestaan nie en ek wil dit graag in Suid-Afrika sien gebeur!’” onthou Yvette.

ASSITEJ SA het toe die finansiering gekry om die Italianer Roberto Frabetti, bekend as “Mr Small Size”, in 2012 na Suid-Afrika te bring om met jong teatermakers hier te werk. Pillow Fort Productions en die Magnet-teater het hierna begin eksperimenteer met werke vir peuters en kleuters, maar in daardie stadium was babateater nog ’n vae droom.

Jennie Reznek, teatertowenaar en medestigter en -direkteur van die Magnet-teater in Observatory, Kaapstad. Dit was danksy haar dat Suid-Afrika nou sy eie toneelstuk het vir suigelinge. Foto: Verskaf

Jennie het toe gevra dat nog kenners op dié gebied na Suid-Afrika kom. Anna Newall van die Replay Teatergeselskap in Noord-Ierland het haar babastuk, TiNY, hierheen gebring. Sy het dit in klinieke en hospitale oral oor die Wes-Kaap opgevoer – die eerste babateaterstuk wat nog in Suid-Afrika gesien is.

Terselfdertyd het sy slypskole hier aangebied om die Magnet Early Years Theatre Company te leer hoe om hul eie werk te maak.

“Ons wou regtig ’n Suid-Afrikaanse werk maak met Suid-Afrikaanse teksture en Suid-Afrikaanse klanke,” vertel Jennie. “Dit was gegrond op die model wat TiNY gebruik het omdat hulle ’n soortgelyke tent gehad het, maar ons sang was baie anders en ons het sekere dinge geleer oor hoe om op ’n nie-narratiewe manier met klank te werk. Ek dink dikwels ons stuk is soos perdefluistering vir babas, want die klanke is so stemmingsvol en so kragtig.”

Sy glimlag waar sy in die solderkamer van die Magnet-teater sit terwyl busse en busse vol kleuters en peuters in die parkeerplek aankom.

“Dit is bitter min dat hulle huil omdat daar iets is waarvan hulle nie hou in die tent nie. Die tent is ’n ruimte vir ma’s en versorgers en babas waar hulle aan niks anders hoef te dink nie. Dis ’n halfuur waartydens hulle net saam met hul babas kan wees en waartydens hulle hul band kan versterk.”

Matthias Barkhuizen (2) en Noah Smollan (18 maande) hardloop na ’n bakkie eiers op die verhoog in die Noorweegse Spurv (Sparrow) vir peuters tussen drie maande en twee jaar oud. Dié toneelstuk is in die Baxter-teater uitgevoer deur Teater Fot as deel van die Cradle of Creativity fees. Foto: Edrea du Toit

Scoop is in 2015 geskep en hoewel dit bedrieglik eenvoudig mag lyk, moes die vier akteurs intense opleiding kry.

“Ons het heelwat navorsing oor die ontwikkelingsfases van babas gedoen,” vertel Jennie. “Oor wat hulle kan sien en kan geniet. Ons het ook ’n bababank gehad, so ons het verskillende idees vir die werk uitprobeer en dan babas ingebring om te sien hoe hulle reageer. Partykeer sou die babas net hul koppe draai, en dan sou ons sien ons kan dit nie gebruik nie. Hoe jonger die babas is, hoe stadiger is hul reaksietyd, so hulle kan dalk ’n klank hoor, maar dit sal ’n rukkie neem voordat hulle die bron daarvan opspoor. Daar’s dus niks wat vir te ’n kort tydjie gebeur nie, want dit sou om dowe neute wees.”

Om met babateater te werk is om na die hart van die geheim te reis van wat dit beteken om ’n mens te wees.

Wat belangrik is, is dat nuwe neurologiese seinbane gelê word. “As jy ’n baba in ’n kamer sit met geen stimulasie nie, sal daardie seinbane nie gelê word nie. Hoe meer interaksie jy met jou baba het en hoe dieper die band met die baba is, hoe meer neurologiese seinbane word gelê en hoe beter kan hulle later leer.”

Jennie se donker oë vonkel. “Om met babateater te werk is om na die hart van die geheim te reis van wat dit beteken om ’n mens te wees. Ek wens ek het toe ek my eie babas gehad het, geweet wat ek nóú weet.”

Die groot probleem met die skep van nuwe babateaterstukke in Suid-Afrika is die ou klaaglied: Geld. “Ons het geld nodig,” sê Jennie. “Ek voel ons is ’n diep gewonde samelewing en dat ons werklik ’n belegging in die jongste en mees weerlose van ons burgers nodig het om dit te verander en om die verhouding van die volwassenes met die mees weerloses te verander. Ek voel daar moet spanne oral in klinieke en babasentrums wees en ek dink die geld behoort van die regering te kom.”

Help, daar’s ’n baba in die Baxter!

Matthias gee ’n eier terug aan die akteur Andreas Thoreson Medboee ná afloop van ’n vertoning van Spurv. Foto: Edrea du Toit

In ’n land soos Noorweë, waar teater vir klein mensies reeds die afgelope 15 jaar deur die regering gefinansier word, is dit ’n ander storie.

In Spurv (of Sparrow) vir kinders van 0 tot twee jaar deur Teater Fot, begelei vier Noorweegse akteurs ’n groep peuters en grootmense vanaf die Baxter-teater in Rondebosch se foyer na die Flipside-teater. Op dié dag daag net drie klein mensies op, waarvan een my tweejarige seun, Matthias, is.

Twee musikante maak met ’n basviool en slaginstrumente musiek terwyl ’n nuuskierige en spelerige trop mossies hul pad vind uit die eier en later die nes om van die eerste uitdagings van die lewe te trotseer.

Hulle kommunikeer met hul lyf.

Al is daar ’n basiese storielyn, verwelkom hulle die peuters wat op die verhoog ronddwaal en hier ’n eier optel en daar ’n kardoes of ’n nes. Die akteurs improviseer rondom die kinders sodat hulle deel word van die aksie. Hulle roep die kinders met hul mondfluitjies en kloek soos ma-voëls om die jongelinge.

Wanneer dit alles klaar is, weier Matthias om die verhoog te verlaat en hy dool nog verwonderd daar rond soos by ’n pretpark vir peuters.

Die regisseur, Lise Hovik, vertel kinders in Noorweë word al vanaf eenjarige ouderdom in die Kindergarten gesit. “Ons moes nuwe maniere vind om met baie jong kinders te werk en een daarvan is deur kuns.”

Dié stuk, die eerste in ’n trilogie oor voëls vir kinders van verskillende ouderdomme, word reeds sedert 2012 uitgevoer en het al dwarsoor die wêreld gereis. Hovik, wat haar doktorsgraad gedoen het oor teater vir baie jong kinders, sê dié stuk werk veral vir pre-verbale kinders. “Hulle kommunikeer met hul lyf en hulle kommunikeer op ’n baie musikale en fisieke manier met ritmes. Ons voel dis baie dieselfde as wat in die teater gebeur.”

’n Babalaboratorium

Noah Smollan kyk hoe ’n broeisel gebore word tydens die Noorweegse babatoneelstuk Spurv. Hoewel die stuk ’n basiese storielyn volg, is die karakters opgelei om te improviseer rondom hul jong gehoor se mannewales. Foto: Edrea du Toit

In nog ’n stuk, Caban ZA, deur die Belgiese teatertroep Theater De Spiegel, in samewerking met Suid-Afrikaanse musikante, word ’n ruimte in die Baxter-teater letterlik ’n laboratorium vir ’n “voortgaande navorsingsopvoering”. Dis nie teater soos jy dit ken nie: Kinders tussen die ouderdomme van drie maande en drie jaar oud word deur ’n musikant deur ’n tonnel begelei na ’n speelarea met onder meer ’n bamboeshut, ’n kamp en ’n soort bed met pels en spieëls op. ’n Belg met ’n klarinet begoël die kinders met sy instrument terwyl ’n baba in ’n drasakkie op sy ma se bors lê en slaap; ’n peuter gryp ’n marimba en begin woes slaan en nog een dans op die ritmes van Afrika en Europa.

“Dis ’n soort eksperimentele ruimte vir babas en baie jong kinders met musiek en installasies en dit word in België gebruik om nuwe produksies te skep. Dis byna soos ’n toetsruimte om nuwe idees te toets en om te improviseer rondom jong kinders,” vertel Yvette oor hierdie produksie op die hooffees.

Daar was ook nie die oordaad van geluide en beweging nie.

Magriet Pienaar, ’n ma van ’n 13 maande oue baba en ’n kleuter van drie, vertel die lewende ervaring van die vertonings wat sy verlede week gesien het, is ’n wonderlike alternatief vir die 2D-flieks, TV-programme en You Tube-reekse wat normale kindervermaak in haar huis is.

“Die drie teaterstukke wat ons bygewoon het, was meer soos interaktiewe installasies as shows en ek het dit veral geniet dat hulle my kinders daardeur ingetrek het. Daar was ook nie die oordaad van geluide en beweging soos by ’n tipiese kinderspeelgroep nie, soos die Clamber Clubs en Moms ’n Babes-groepe wat ons ook bywoon.

“Ek het my baie jong kinders geneem want ek wil hulle blootstel aan lewende teater; ek waardeer dit nou nog dat my ouers en skool my in my grootwordjare aan teater gewoond gemaak het.”

Al mag dit vir sommiges lyk na ’n blote spelery met akteurs as babawagters, is teater vir babas en peuters baie duur om te maak, vertel Yvette. “Jy werk met professionele akteurs en met ’n teaterstuk wat spesiaal vir hierdie gehoor geskep is. Slegs ’n beperkte aantal babas kan dit bywoon. Die akteurs werk met heelwat navorsing oor vroeë kindertydse ontwikkeling en die stukke is gemik op baie spesifieke ouderdomsgroepe en stadia van ontwikkeling.”

’n Wêreld van die sintuie

Lise Hovik, regisseur van Spurv. Dis deel van ’n trilogie oor voëls vir kinders van verskillende ouderdomme. Lise het haar doktorsgraad in teater vir baie jong kinders. Foto: Edrea du Toit.

Die redes is legio hoekom babas en peuters ook toegang tot die teater behoort te hê. “Dis eerstens ’n ongelooflike bindingservaring vir ouers en hul kinders,” sê Yvette. “Ouers sien hul kinders in ’n nuwe lig want hulle sien hoe die kinders betower word, hoe nuuskierig hulle is en hoe hulle volledig in beslag geneem kan word deur iets. Dikwels het jy ouers wat sê ‘my kind sal nooit vir 40 minute na iets kan kyk nie’, en dan sien hulle hul kinders het ’n baie langer aandagspan as wat hulle gedink het.”

Veral babas leef in ’n wêreld van die sintuie en hulle word konstant gebombardeer met nuwe inligting soos klank, beweging en kleur. “Die teater distilleer dit tot ’n samehangende en geordende ondervinding. Die teater stel jou in staat om te fokus. Dit stel jou in staat om een ding op ’n slag in te neem en dit nooi jou om op reis te gaan. Ek dink dis ontsettend belangrik vir kinders se vermoë om te leer, om te konsentreer, om hulle te verbind tot iets en om iets te volg.”

Sy beklemtoon elke woord. “Ons almal glo, en beslis by ASSITEJ, dat die kunste ’n basiese mensereg is en dat ons almal moet toegang hê tot die kunste. Ons moet dus vanaf die jongste moontlike ouderdom toegang hê tot die kunste en daarom is dit ook vir die jonges ’n basiese mensereg.

Yvette Hardie, president van ASSITEJ Internasionaal en direkteur van ASSITEJ SA, die internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jong Mense. Sy het gesorg dat die ASSITEJ Wêreldkongres en die Cradle of Creativity-fees, ’n internasionale teaterfees vir kinders en jong mense, pas vir die eerste keer na Afrika gebring is. Dit is vanjaar vir die 19de keer gehou. Foto: Verskaf

“Hoe meer ons kinders kan aanmoedig om al hul sintuie te gebruik en op ’n kunstige en kreatiewe manier met die wêreld om te gaan, hoe meer gee ons hulle die gereedskap om die lewe tegemoet te gaan.”

Vir my en Matthias was dit ’n wonderwêreld van lig, klank en beweging, amper om soos Alice deur die spieël te verdwyn.

Saans het hy soos ’n geleerde die woordjie “teater” gesê en hy’t klanke en woorde herhaal wat hy tydens die vertoning gehoor het.

Soggens het hy soos ’n opwenhasie met die stoeptrappe afgebons wanneer dit tyd was vir nog ’n vertoning.

Vir die eerste keer hoef ek nie meer met ’n vae nostalgie aan die teater te dink nie. ’n Nuwe era het vir my en Matthias aangebreek – een van die verbeelding waar dit selfs vir grootmense moontlik is om soos ’n kind te glo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.