Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die tong se dans in Afrikaans

Afrikaans is die taal van sy hart. Hy huil en lag daarin, skryf Piet Matipa in dié uittreksel uit sy boek, Dwarsklap (Penguin Random House).

Afrikaans is maar eenmaal ’n soet taal, maak nie saak hoe hard daar probeer word om dit stout te maak nie. Dit beteken nie jy moenie probeer nie.

Ek is al jare lank in ’n verhouding met Afrikaans en is baie lief vir hom. Hoekom? Want Afrikaans is aantreklik, jonk, snaaks, slim, partykeer moeilik, maar ek verstaan hom. Afrikaans is nie die enigste een by wie ek kuier nie.

Ek is nogal los. Ek kuier ook by Zoeloe, ons is al die langste saam, en by Tswana. Ek en Tswana verdra maar mekaar.

Dan is daar natuurlik Engels. Ek hou nie so baie van haar nie, sy was al by almal.

Ek het Afrikaans ontmoet toe ek agt jaar oud was.

Afrikaans is maar my hart se punt, en dan Zoeloe. Ek het Afrikaans ontmoet toe ek agt jaar oud was. Ek het hom nie geken nie. Ek is in die kinderhuis aan hom voorgestel. Almal om my het hom gebruik.

Ek onthou nog so goed hoe ek probeer het om hom te ken. Die ander kinders in die kinderhuis het met my gepraat en ek het net geluide met my mond gemaak asof ek ’n regte gesprek voer.

Afrikaans is in die verlede op baie afgedwing en daarom haat hulle hom so. Hulle sien hom as ’n simbool van onderdrukking.

Vir hulle is hy aggressief en gevaarlik. Hulle probeer hom soveel moontlik vermy, en dit is nogal jammer. Hy is nie op my afgedwing nie. Ek het hom mettertyd leer ken en toe ek my weer kom kry, was ons in ’n verhouding. Sonder dwang. Dit was soos om te loop. Een tree voor die ander.

Ek huil en lag met Afrikaans

Ek was in ’n dubbelmedium-laerskool maar ek en Afrikaans was so verlief dat die meeste van my klasse in dié taal was. Daarna is ek na die Hoërskool Waterkloof en ons liefde het net al hoe meer gegroei. Daar het ek hom dieper leer ken. Mens kan nie in ’n verhouding wees sonder dat jy verby die oppervlak kyk nie. Ek het begin toneelstukke skryf in Afrikaans. Ek het gehou van sy bou, sy sêgoed. Op universiteit het ek nog nader aan hom gekom.

Ek huil met Afrikaans. Ek onthou toe ek net my nuwe fiets gekry het, die een waarvoor ek so gebid het (toe ons klein was, was ons geloof so groot). Dit was ’n geskenk en ek het oral daarmee gery. Dit was my trots.

Hy help my nog altyd om my pyn uit te druk.

Ek onthou toe ek hard met my fiets geval het. “Eina!” was die woord wat ek gebruik het en daarna het trane soos ’n rivier gevolg. Toe ek gevra is wat gebeur het, het ek tussen my trane deur in Afrikaans verduidelik. Hy help my nog altyd om my pyn uit te druk.

Ek lag met Afrikaans. Hard en onophoudelik en sommer baie lekker ook. Ek het ’n videogreep gekyk wat die rondte gedoen het – dit was van ’n Afrikaanse nuusleser wat per ongeluk “voorvel” in plaas van “voorval” gesê het. Die taal stel baie lokvalle vir ’n mens waaroor jy net kan glimlag. En toe ek ’n misdaadverslaggewer was, het ek baie die woord “dood” moes tik en as ek weer my berig lees, sien ek ek het “doos” getik. Saam met die smart was daar ten minste iets om vir ’n sekonde oor te lag.

Ek vervies my soms vir Afrikaans

Ek raak baie kwaad in Afrikaans en soms vir Afrikaans.

Aan my woede gee hy uiting met sy versameling vloekwoorde, al sou ek baie meer verkies. Soos voorheen genoem, bevat vloekwoorde in dié taal die regte emosie, wat ’n lekker uitlaatklep is.

Rym is lekker in Afrikaans.

Ek vervies my dikwels wel vir Afrikaans. Nie alles is altyd maanskyn en rose nie. Ek weet nooit of sommige goed een woord of twee woorde is nie. Ek het eers onlangs uitgevind dat “op pad” inderdaad twee woorde is. Afrikaans maak my soms kwaad met woorde wat klink asof dit aan hom behoort, maar dan vind ek uit die woord bestaan nie.

“Huidiglik” bestaan nie, dit moet “tans” wees. Ons almal gebruik dit so lekker, Afrikaans kan dit sommer aanneem.

Rym is lekker in Afrikaans. Soos die rympie oor die woord “kermkous” wat ek vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VIVA)

geskryf het:

Gebore in Gromstad

Geleë in eerste rat

Geskool in hoërgraad-neul

Gesout in vreugde steel

Beroep: ’n teemkomponis

Belet die mond om te rus

Bespeel ’n viool wat ween

Besaai met note wat kreun

Applous applous applous

A, dis ou kermkous

Ek en Afrikaans kan nog nie saam fliek nie. Ek het probeer, maar ek sukkel nog met sy flieks. Ek is seker hy sal my eendag oortuig. Vir eers kyk ons liewer saam TV.

Afrikaans is in my gedagtes en in my drome. Ek droom saans in Afrikaans. Mens sou nou dink dat ek ’n multikulturele droom sou hê, maar dit is nie die geval nie. Die meeste van die tyd praat al die karakters in my drome Afrikaans.

Ek en my broer, Soteria, praat selfs Afrikaans met mekaar. Met al sy ander vriende praat hy Zoeloe en Engels, maar met my is hy ’n Afrikaner.

Ek verjaar selfs met Afrikaans. Al my gelukwense is meestal in dié taal. Daar is net so een of twee in Engels.

Afrikaans was nog altyd 'n taal vir almal.

Ek verstaan nie hoekom mense verbaas is dat ek ’n verhouding met Afrikaans het nie. “Jy praat mooi Afrikaans.”

Hy behoort tog nie aan ’n groepering mense nie. Hy behoort aan wie hom praat. Taal is niemand s’n nie. Dit is almal s’n. Almal is eienaars van die taal.

Taal het nie kleur nie; al praat swart mense Zoeloe, het hulle nie eienaarskap van die taal nie. ’n Wit mens of bruin mens kan dit sy eie maak.

Afrikaans was nog nooit ’n taal van die onderdrukker nie. Dit was nog altyd ’n taal vir almal – dit is net jammer die onderdrukker het dit gebruik.

Lank leef Afrikaans met sy min vloekwoorde en al!

* Dwarsklap: Skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika is deur Penguin Random House gepubliseer en kos R240.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.