Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die troos is dat ek en jy behoort
Jan Lubbe
Jan Lubbe

‘Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dié vraag het oor die Lae Lande gehang, want die begin van die 17de eeu in Nederland was in groot be-staansonsekerheid gehul. Die lewens-verwagting was nie hoog nie. Bykans die helfte van die kinders wat gebore is, het nie vier jaar oud geword nie.

Polities was die eenheid van die jong Nederlandse “Staten” broos, nog skaars bevry van die Spaanse juk.

Godsdienstig was die land verdeeld: na die noorde Protestants, na die suide Katoliek. Net oorkant die Duitse grens het ’n burgeroorlog gewoed wat eers teen 1648 tot vrede sou kom.

Identiteitsvrae: Wie is ons as Neder-landse volk? En waar vind ek sekerheid – oor my lewe, oor my kinders, oor die toekoms, oor die ewigheid?

Hieroor het daar in 1604 aan die Universiteit van Leiden ’n teologiese diskussie ontstaan. Aan die een kant Jacob Arminius, vir wie geloof ’n saak van God se genade was, maar met jou as mens se aanvaarding daarvan, jou medewerking en volharding daarin. Sekerheid berus ten slotte in jóu keuse vir God.

Daarom ook Arminius se groot klem op prediking, bekering en ’n heilige lewe. “Werk jou eie heil met vrees en bewing uit. . .” (Fil. 2:12). Aan die ander kant Franciscus Gomarus, vir wie geloof ’n geskenk uit God se liefde en genade was; van ewigheid af het Hy jou daartoe bestem en werk Hy dit gaandeweg deur sy Gees in jou lewe uit. Alle sekerheid begin en berus by God alleen; tot voor sy Skepping selfs. “In Christus het Hy ons gekies om heilig voor Hom te lewe. . .” (Ef. 1:4).

In die vier eeue sedertdien loop die verdelingslyn steeds diep deur en tusen kerke.

Agter die twee standpunte het ’n mensbeskouing gelê: enersyds, optimisties, dat ’n mens met Gods hulp en regte leiding vír God sal kies en kan glo; andersyds, dat die breuk tussen mens en God in die sondeval ons tot in ons diepste wese geskend het en ons tot die kwade laat neig, weg van God af.

Dit was weer Desiderius Erasmus teenoor Martin Luther oor die vrye wil van die mens; dit was weer die kerkvaders Pelagius teenoor Augustinus oor die totale gebrokenheid van die mens.

Wat die teologiese geskil laat uitkring en uiteindelik op die spits gedryf het, was dat Arminius en sy volgelinge voorstanders daarvan was dat die politieke owerheid finale gesag besit, ook in godsdienstige sake en met die doel om vrede en verdraagsaamheid onder die bevolking te handhaaf.

Gomarus weer was oortuig dat teologiese kwessies op ’n kerklike wyse beslis moes word. Uiteindelik het die Nederlandse Staten-Generaal ’n nasionale Sinode in Dordrecht byeengeroep wat van 13 November 1618 tot 29 Mei 1619 gesit het – volgende Woensdag 400 jaar gelede.

Gomarus, Calvyn, Augustinus en Paulus is – by wyse van spreke – gelyk gegee.

In die vier eeue sedertdien loop die verdelingslyn steeds diep deur en tusen kerke: Van waar sal daar vir my sekerheid kom? Berus dit op ’n dag en datum en die graad van my godsdienstigheid, of lê dit veranker in die liefde van ’n God uit Wie en deur Wie en tot Wie alles is; die slotsom waartoe die einste Paulus in verwondering gekom het (Rom. 11:36)? Die Sinode van Dordt wou dit duidelik antwoord. Mis-kien té duidelik, té presies.

Wanneer ons Dordt onthou, moet ons die lig én die skaduwees daarvan raaksien. Die gevaar van (kerk)politieke mag in sake van die siel. Die gevaar van die mite van wit uitverko-renheid (asof Dordt dít gesê het, inteen-deel!). Die gevaar van ons vergaderings en aansprake oor wat God presies wil hê. Nee, die Sinode van Dordrecht herinner ons dat ons aan Iemand behoort en daarom geroep word tot nederige dankbaarheid, ’n vroom lewe en blywende vreugde. Dít troos.

Meer oor:  Martin Luther  |  Kerk  |  Kerke  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.