Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die verhale wat ons as mense bind . . .

Die afgelope week was daar ’n nuusstorie wat my vasgenael gehou het: dié van die Thaise seuns en hul sokkerafrigter wat in ’n oorstroomde grot vasgekeer was.

Ek het asem opgehou toe die gewaagde reddingspoging van stapel gestuur is, en myself kort-kort betrap dat ek vir hulle skietgebedjies opstuur.

Groot was die verligting toe almal wonderbaarlik gered is.

Ek was nie die enigste een wat deurgaans die nuuswebwerwe dopgehou het om te sien hoe die reddingspoging vorder nie – die verhaal van die seuns in die grot het die wêreld aangegryp.

Mense het hulself in die seuns se skoene geplaas, en vele ouers het hulle ingedink hoe dit moet voel as húl kinders ondergronds vasgekeer sou wees.

Empatie, die vermoë om jou voor te stel hoe ander in ’n gegewe situasie moet voel, is iets wat ons as mense uniek maak.

Empatie, die vermoë om jou voor te stel hoe ander in ’n gegewe situasie moet voel, is iets wat ons as mense uniek maak.

Dit bring ook die beste in die mens na vore. In die geval van die Thaise seuns het taal- en nasionaliteitsgrense nie in die pad van die reddingspoging gestaan nie – kundiges vanoor die wêreld heen het saamgespan om die kinders te red.

In ’n wêreld wat met diepe verdeeldhede te kampe het, is sulke verhale soms broodnodig.

Dit laat die vraag ontstaan: Kan ons verhale vind om verdeelde gemeenskappe saam te bind? Vir ’n historikus is so ’n vraag ietwat problematies.

Ons het al gesien hoe maklik dit neig in die rigting van “nasiebou”, waar dit dikwels daaroor gaan om mag en magshebbers te dien. Dán word verhale oorvereenvoudig en verromantiseer, in so ’n mate dat dit byna mities klink.

Vir historici gaan dit eerder daaroor om die veelkantigheid van enige gegewe verhaal uit te lig, en die kompleksiteit van die verlede te begryp.

Daarin lê die sleutel: Ons soek na begrip, nie na oordeel nie.

Dit help ons om raak te sien dat daar verhale is wat oor grense heen strek en ook dat daar ooreenkomste is tussen die onderskeie gemeenskappe se verhale.

My eie navorsing handel oor Afrikanernasionalisme, maar wanneer ek die koerante lees, en sien wat swart nasionaliste kwytraak, kan ek nie anders as om vergelykings te tref nie.

Nasionalisme verander van haar, maar nie van kleur nie.

Nasionalisme verander van haar, maar nie van kleur nie.

Dit beteken daar is genoeg gronde en ooreenkomste om mekaar se verhale te kan verstaan. Kry ons dit egter reg?

As ek kyk na berigte oor die sittings oor grondonteiening wat tans plaasvind, kom dit vir my voor dat daar baie opgekropte woede en frustrasie is, en ’n behoefte om gehoor te word – maar dat die klowe so groot is dat wedersydse begrip moeilik te vind is.

Dit is ’n tema wat hom die afgelope paar jaar al in ons openbare diskoers herhaal.

Dit herinner my aan ’n lesing deur prof. Pumla Gobodo-Madikizela wat ek ’n paar jaar gelede bygewoon het. Sy is ’n sielkundige, wat by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) betrokke was.

Sy het vertel van die Gugulethu-Sewe, wie se moeders voor die WVK getuig het. By dieselfde sitting het die ma van ’n gestorwe troepie ook getuig. Die sewe vroue het haar omhels. Want, het hulle gesê toe Gobodo-Madikizela hulle daaroor vra, die taal van die baarmoeder spreek tot hulle.

Sulke verhale, waar ons ons gedeelde menswees kan ontdek en na mekaar kan uitreik, gee ’n mens hoop.

Dit laat my dink aan die woorde van ’n bevelvoerder van die Thaise vloot die afgelope week: “Daar was net ’n klein bietjie hoop, maar dit was al waarmee ons kon werk.”

) Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  Lindie Koorts  |  Thailand  |  Sokkerspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.