Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die versoeking om ou skeidsmure weer op te bou

Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou. In 1982 verskyn ’n proefskrif van Hannes Adonis met dié titel.

Dit bied ’n historiese perspektief op die verstrengeling van die NG Kerk se sendingbeleid met praktyke van rasseskeiding. Adonis – later professor in kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Wes-Kaapland en Stellenbosch Universiteit – ontleen sy studie se titel aan Efesiërs 2:14: “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.”

Gedurende die afgelope paar weke woon ek twee byeenkomste by wat my aan die titel van Adonis se proefskrif herinner.

Die mure in ons koppe bly dikwels langer staan as mure van beton.

Die eerste is ’n konferensie in Berlyn oor neonasionalisme, populisme en godsdiens. Spreker ná spreker vertel hoe in hul eie kontekste ’n groeiende gevoel onder mense waarneembaar is dat hul identiteit bedreig word, en dat dit dikwels tot vreemdelingevrees en polariserende uitsprake aanleiding gee. Al is die muur in 1989 in Berlyn afgebreek, lyk dit dus of daar toe­nemend talle nuwe kulturele, politieke en godsdienstige mure is wat in mense se gedagtes, spreke en handelinge beslag kry – in Europa, maar ook elders.

Ook in hierdie dae kom ’n groep van ons by ’n ­retraitesentrum naby Hermanus byeen om oor versoening en verwante begrippe te praat, onder meer na aanleiding van die feit dat dit 50 jaar is sedert die ekumeniese dokument A Message to the People of South Africa in 1968 verskyn het.

Hierdie destydse omstrede dokument open met die stelling dat die evangelie van Jesus Christus die goeie nuus is dat God in Christus die mure van skeiding tussen God en mens, en daarom ook tussen mens en mens, afgebreek het.

Dit is verder besorg oor die onrusbarende tekens dat ’n “doctrine of separation has become, for many, a false faith, a novel gospel which offers happiness and peace for the community and for the individual”.

En dit laat ons met die vraag hoe ons in ons dag te midde van moontlike ervarings van bedreiging weer voor die versoeking staan om ons hoop en heil te soek in ’n valse evangelie wat vir ons sekuriteit en voorspoed op grond van die logika van skeiding beloof. Want dit is inderdaad nie so maklik om te glo dat mure van verdeling, vooroordeel en vyandskap afgebreek is nie.

Die woorde van Willy Brandt aan die Duitse parlement ’n jaar ná die val van die Berlynse muur bly gepas: “Die mure in ons koppe bly dikwels langer staan as mure van beton.”

Meer oor:  Geloof  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.