Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die vrou en die graf van die mooi offisier
Petro Hansen

Wie ken die storie van die graf van die “mooi” Britse offisier wat in die Anglo-Boereoorlog naby Philippolis in die Vrystaat gesneuwel het?

Google sprak geen sprook daaroor nie, maar in Die Huisvrou van 22 Julie 1947 kry jy hierdie merkwaardige verhaal deur J.H. Schoeman, soos oorvertel deur ene Andries Enslin:

“Philippolis was vroeër jare die hoofstad van Adam Kok. Vandag het die dorpie nog die koddige strate as erfenis van die Griekwas. Ten weste van Philippolis op die plaas Kaliesfontein lê ‘die Graf van die Offisier’, wat destyds aan soveel mense bekend was. Die plaas het oorspronklik aan die alombekende oom Hans van der Linde behoort, en was een van die aantreklikste plase waar baie jong mense van heinde en ver kom kuier het. ’n Uitstappie na die graf was ’n gereelde vermaak en veral verliefde paartjies het graag daarheen gegaan.

“Andries Enslin was een van die burgers wat een noodlottige môre na die mooi Engelse offisiertjie geskiet het. Tereg en met nadruk het oom Andries glo vertel dat dit nie moontlik was om te sê wie hom geskiet het nie. Almal het geskiet, maar nie een van die soldate is geraak nie; net die offisier is deur die Boerepatrollie doodgeskiet. Toe die Boere op hom afkom, bemerk hulle hoe besonder mooi die jong man was. Die offisier is op die plek begrawe.

Gedurende die jaar 1903 het die magistraat op Springfontein eendag ’n grafsteen ontvang.

“Gedurende die jaar 1903 het die magistraat op Springfontein eendag ’n grafsteen ontvang. ’n Brief van ’n dame in Engeland het gemeld dat sy die steen aanstuur om op die graf van haar gesneuwelde verloofde opgerig te word. Sy het ook geld vir die oprigting van die steen saamgestuur. Aan haar versoek is voldoen. ’n Jaar later het die dame op Philippolis aangekom en ’n paar weke daar gebly.

"Elke môre het sy ’n koets bestel om haar na die graf te neem en haar weer teen sononder te gaan haal. Hierdie besoeke aan Philippolis het sy gereeld elke twee jaar herhaal, sodat daar later huurmotors op Philippolis was wat haar smôrens geneem het en saans gaan haal het. Sy het gereeld oor 23 jaar tot en met 1926 gekom. Dit was haar laaste besoek en niemand het ooit weer iets van haar gehoor nie. Sy was gewoond om elke jaar aan die magistraat geld te stuur om die graf te laat versorg, maar later het die geld ook nie meer gekom nie.

“Sy was glo ’n fyn opgevoede dame, vriendelik en beleef, maar het nooit met iemand vriende gemaak nie, en ook nooit iets omtrent haar besoek gesê nie. Daar word vertel dat elke keer ná haar teruggaan daar ’n oop voetpaadjie om die graf getrap is. Op die marmersteen staan die eenvoudige woorde: ‘Here lie the remains of Edward Henry Barker, Lieutenant South African Light Horse, killed in action on this spot 1st March 1901’.

Hierdie opskrif laat mens dink aan die woorde van Langenhoven: Andere is op die steen as treurendes vermeld, andere, want sy had geen aanspraak nie. Van haar wat hom so liefgehad het, is daar nie ’n woord nie.”

Meer oor:  Petro Hansen  |  Soldaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.