Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Die wonder van woorde wat oor en weer migreer
Bun Booyens

Die interessantste nuusbrokkie die afgelope week of wat was vir my die 24 Suid-Afrikaanse woorde en frases wat in die Oxford-woordeboek opgeneem is.

As jy dit nie raakgelees het nie, die woorde is: amakhosi (stamhoofde); bunny chow; deurmekaar; district surgeon; dwaal; eina; gumboot dance; howzit; ingcibi (man wat besnydenis doen); ja; ja well no fine; kasi (huis); kif (“cool”); Mzanzi (Suid-Afrika); sokkie (langarmdans); sarmie (toebroodjie); shackland; spaza (winkel); skedonk; tickey box; toyi-toyi; traditional healer (eerder as “toordokter” van ouds); ubuntu; voetstoots; wine of origin.

Saam gelees skep hierdie woorde ’n verbasend bruikbare prentjie sou jy dinge in Suid-Afrika vir ’n besoeker wou beskryf: kos, drank, geweld, gasvryheid, padveiligheid, mediese hulp, medemenslikheid . . . min of meer als word gedek. Al woord wat eintlik nie daar hoort nie, is “tickey box”. Ek kan nie onthou waar en wanneer laas ek een gesien het nie.

“Eisj” is moontlik die een Suid-Afrikaanse woord wat die afgelope twee dekades die vinnigste hier veld gewen het. Dit beskryf daardie eg Suid-Afrikaanse lotsaanvaarding en gatvolheid – wanneer jou skedonk gaan staan, wanneer jou wine of origin opraak, wanneer die tou buite die district surgeon nie korter wil raak nie, en veral wanneer jy hoor daar is vanjaar wéér meer as dertig seuns dood weens ’n onbeholpe ingcibi.

Nou-nou” is straks die skelmste woord in Afrikaans.

“Nou-nou” is straks die skelmste woord in Afrikaans. Jy klink gehoorsaam, want jy stem mos in om die opdrag uit te voer, maar net nie dadelik nie – en met geen duidelike spertyd nie.

Woorde migreer wanneer die sprekers van ’n ander taal nie daarsonder kan klaarkom nie. Selfs groot kitskosgroepe het deesdae pap en wors op hul spyskaart. “Porridge and sausage” sou ’n geheel ander dis wees.

Tydens diensplig het dit my opgeval hoeveel woorde uit die Britse weermag oorgeloop het na Afrikaans. “Toggle rope” het “tokkeltou” geword, “staff” het nie “personeel” geword nie, maar “staf”. En “orders” is net so verafrikaans.

Afrikaans het ’n kleurryke versameling militêre woorde in ruil teruggegee. Engelssprekende instrukteurs het seepglad gepraat van “slegmoer”, “vetseun”, “rowers” en “suurstofdief”, want daar was eenvoudig nie Engelse sinonieme met genoegsame plofkrag nie. Ook die Afrikaanse “paraat” is verengels.

Sekerlik die twee nuttigste woorde in Afrikaans is “sommer” en “mos”. “Sommer” se vrypostigheid en selfvertroue is al baie besing. “Mos” impliseer jou toehoorder weet reeds dít wat jy gaan sê. As jy iets verkeerds gedoen het, begin jy jou verdediging met “Ja, maar hulle het mos gesê . . .” Daardie “mos” – net drie letters – maak die ander party medepligtig.

Wanneer ek terugdink, kry ek skaam dat die eerste twee Xhosa-woorde wat ek geleer het “aikôna” en “hamba” was. Asseblief, dankie en jammer het eers veel later gekom.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Taal  |  Afrikaans  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.