Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Digkuns kan mense verenig

Die digkuns kan mense van alle kleure en geure en godsdienstige oortuigings bymekaarhou, skryf Willem Fransman jr.

Jeff Lakey (links), Willem Fransman jr. en Edward Jenneke lees van hul werk voor op McGregor se poësiefees. Foto: Verskaf

Die afgelope paar weke leef ek binne-in my droom.

Byna soos Bartho Smith se klassieke werk, Bacchus in die Boland, ’n voorbeeld van ’n drama binne-in ’n drama is, so leef ek as ’n digter binne-in ’n gedig!

’n Paar weke gelede was ek en twee vriende, Edward Jenneke en Jeff Lakey, deelnemende digters by die gewilde McGregor Poësiefees.

Edward is ’n matrikulant aan Langeberg Senior Sekondêr en Jeff ’n amateurgeskiedkundige en oud-onderwysman. Albei bly in Robertson, ’n buurdorp van McGregor.

Vanjaar se tema van die poësiefees was “The Sound of Water”.

Ons program se titel was “Oumense moettie mettie wate’ mossie!” Dis ontleen aan ’n liedjie van Koos Kombuis. Daarin het ons gedigte oor die gebrek aan water en die koms van die reëns voorgedra.

Daar het ek tot die slotsom gekom dat die digkuns, in watter vorm ook al, mense van alle kleure en geure en godsdienstige oortuigings bymekaar kan hou.

My naweek kon nie op ’n beter noot begin het toe ek my in Ian McCallum vasgeloop het nie! McCallum was lid van die Springbokspan van 1970 wat die magtige All Blacks van Brian Lahore in Suid-Afrika met ’n toetsreekssege van 3-1 verpletter het.

McCallum is deesdae ook ’n digter van formaat.

Later die aand op die amptelike verwelkomingsgeselligheid, het ek en my geselskap ook onder andere skouers geskuur met grotes soos Hugh Hodge, Joan Hambidge en Diana Ferrus. Daar is kopstukke gesels oor ’n glas rooi- of witwyn.

Dit laat my toe dink aan WEG Louw se woorde in Naggesprek: “Ons het met uitgelatenheid gewerk (gekuier!) en heelwat wyn gedrink, want sonder wyn, sover ek weet, het nooit ’n vers ontstaan nie!”

Albei ons vertonings is baie goed ondersteun. Aan die ander kant is alle vertonings nogal besonders goed bygewoon; so asof daar ’n hongerte na die digkuns in hierdie wye en droewe land van ons is (om dié keer vir N.P. van Wyk Louw aan te haal).

Wat meer wil ’n mens hê?

Ek was die hele naweek in goeie geselskap. Ek het die heerlikste wyne geniet wat die McGregor-streek kan bied . . . en ’n paar gladde-jantjies ook!

Ons was bevoorreg om van die bestes wat die fees kon bied, se vertonings by te woon. Wat ’n heerlike ervaring om ’n hele naweek net poësie in te drink en baie te lag.

Digkuns kan mense bymekaarhou

Willem Fransman jr. saam met lede van die Wesland-kunstevereniging. Foto: Tossie Beukes

Daar het ek tot die slotsom gekom dat die digkuns, in watter vorm ook al, mense van alle kleure en geure en godsdienstige oortuigings bymekaar kan hou.

Deur die geskiedenis heen, is digters hoog aangeslaan in hul dorpe, stede of selfs in hul lande van herkoms.

In sommige hoogs beskaafde Europese lande, soos Brittanje, Frankryk, en in die Lae Lande soos Nederland, België en Vlaandere word ’n stad-, streeks- of volksdigter aangewys.

Dié persone staan dan as Poet Laureattes bekend. Om die digter se kop is selfs ’n lourierkrans gedrapeer.

’n Poet Laureatte is ’n digter wat amptelik deur ’n stad, dorp of land aangestel is. Die taak van so ’n digter is dan om ’n gedig te skep vir elke groot geleentheid of geselligheid wat daardie stad, dorp of land wil vier.

Die Vlaamse uitgewer Luc de Meester is van mening dat poësie die kroon op alle kreatiewe denke span.

Volgens oorlewering was die Italianers Albertino Mussato en Francesco Petrarca die eerste digters wat hierdie gesogte posisie beklee het.

Koning Hendrik VII van Engeland het Bernard André as die eerste Britse Poet Laureatte aangewys.

Tot vandag toe is daar nog lande wat die tradisie van ’n Poet Laureatte voortsit. Hoekom dan nie?

Die Vlaamse uitgewer Luc de Meester is van mening dat poësie die kroon op alle kreatiewe denke span.

Vir die mense in die Lae Lande is die pleging van poësie amper heilig. Dáár sal ’n digter net sy pen aan die digkuns waag nadat hy alle ander genres van die kreatiewe skryfkuns probeer en goed onder die knie het.

Die naaste wat Suid-Afrika aan die idee van ’n amptelike Poet Laureatte gekom het, was toe genl. Louis Botha vir C. Louis Leipoldt die staatsdigter wou maak.

Ek verskil toe met hom en sê dat baie ouens op die Kaapse Vlakte van meet af aan begin dig.

Toe ek van die township-digters se werke begin voordra, was hy verstom oor die gehalte.

Volgens De Meester moet ons ook hul tradisie van die digkuns volg. Daar hou elke dorp of stad jaarliks ’n poësie-week. Jy vind gedigte dan op elke moontlike plek opgeplak of aangebring, van winkelvensters tot groot advertensieborde!

Voorlesings vind plaas en die digter is die “flavour of the week”. In sommige dorpe het digters selfs popster-status bereik, word vertel. Mense soos Herman van Veen, Dana Winner en Stef Bos is lankal kultusfigure.

“Poetry slams” (bekgevegte) word gereël en goed bygewoon. ’n Uitvloeisel hiervan is hul Winternagtenfees, waar die digkuns die botoon voer. Suid-Afrikaanse digters tree ook dikwels dáár op.

Leipoldt wou nie staatsdigter word

Die naaste wat Suid-Afrika aan die idee van ’n amptelike Poet Laureatte gekom het, was toe genl. Louis Botha vir C. Louis Leipoldt die staatsdigter wou maak. Ongelukkig vir hom het Leipoldt dié idee afgelag.

Daar is talle wat sal sê dat Antjie Krog op die oomblik die naaste sal kom aan ’n volksdigter, Joan Hambidge het Krog in ’n stadium die Pablo Neruda van Afrikaans genoem. (Neruda was ’n Chileense digter en diplomaat wat in 1971 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het.)

Willem Fransman jr.

Nog op skool skryf Krog in ’n gedig in haar skool se jaarboek van 1970: “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand, vrede en liefde kan bring in my mooi land.”

Aan die manlike kant sal ’n hele klomp hul hande kan opsteek. Don Mattera van Soweto en die “People’s Poet”, Mzwakhe Mbuli, is maar twee. Mbuli het tydens UDF-byeenkomste die volk letterlik aan sy lippe laat hang met sy wonderlike bariton-stem.

Dis net jammer Adam Small, lank gesien as die gewete en stem van die stemloses, is nie meer met ons nie. Breyten Breytenbach sal ook nie ’n slegte keuse wees nie.

Die digter se belangrikste taak is om sy mense se vrese, vreugdes, swaarkry, ambisies en teleurstellings te verwoord.

’n Land en ’n volk moet sy digters goed behandel en koester. Politici behoort eerste die digters in hul kiesafdelings te nader voordat hulle grondverskuiwende besluite neem.

Ook kan hulle sommer daar gaan leer dat dié soort mense woordsuinig is en ’n ding korrek en fyn vasvat.

Ek hoop nou net dat ’n klomp winkeleienaars hier lees en digters nooi om hierdie baie belangrike taak met digters en kreatiewe woelgeeste in hul dorpe aan te pak.

Verlede week het ek ’n werksessie, “Prettige poësie met ’n palet” vir die Wesland-kunstevereniging in Vredendal gaan aanbied. Ons het kunswerke met die digkuns gekombineer.

Ná sowat ’n anderhalf uur het die aanwesige digters begin gedigte skryf. Van die mooiste gedigte het, in kombinasie met die nodige kunswerk, die lug gesien.

Ek was in my element.

Vir sommige is ’n senter wat deur ’n gaping sny “poetry in motion”.

Vir my is dit ’n gedig wat goed geskryf is en gevoelvol én met passie voorgedra word.

Dán leef ek my droom.

Lank lewe poësie!

* Willem Fransman jr. is ’n vryskut-joernalis en skrywer.

Meer oor:  Adam Small  |  Antjie Krog  |  Mcgregor  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.