Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dink net, as deernis ook dié lys kon haal . . .
Aniki
Aniki Joseph

‘Ondanks die droogte kan ons nie anders as om te plant nie . . . Ons plant op geloof.” Dié aangrypende woorde van ’n mielieboer in die droogtegeteisterde Noordwes ruk my. Roep ou herinneringe helder op.

Ek is weer ’n langbeen-eerstejaarstudent met vakansie by my ouerhuis op die platteland. Dit is ’n versengend warm Dinsdagoggend.

Moeder staan voor die tafel in haar kombuis met die vrolike geel gordyntjies. Sy neem een van haar beste borde en skep dit vol huiskos uit die pruttende potte op die stoof. Dan bedek sy dit met nog ’n bord en vou dit versigtig in ’n skoon vadoek toe. Die spierwit vadoek se punte is na bo bymekaar gevou en dit lyk kompleet soos twee spierwit haasoortjies toe sy die borde in die gevlegte piekniekmandjie laat sak. Dan vat sy twee pienkwang-perskes, was al die fyn donshaartjies onder skoon lopende kraanwater af, druk dit saggies droog en plaas dit ook in die mandjie.

“Kom, kinta. Kom stap saam met my,” sê sy.

Padlangs vertel sy my die storie van die jong vrou wat twee huise verder in die straat af woon. Sy het enkele weke vantevore ’n baba verloor. Haar man werk ongereelde ure en haar ouers woon ver weg in ’n stad. Sy het geen ander familie naby nie. Moeder het lank genoeg geleef om te verstaan dat ’n goeie bord huiskos, ’n simpatieke oor en ’n opregte drukkie nie die pyn ongedaan kan maak nie, maar wel draagliker.

Mens moet nooit so verontwaardig en moedeloos voel oor die teleurstellings en misoeste van die lewe dat jy nie weer die saad van hoop wil plant nie.

“Mens moet nooit so verontwaardig en moedeloos voel oor die teleurstellings en misoeste van die lewe dat jy nie weer die saad van hoop wil plant nie,” sluit sy af.

Só leer ek toe op ’n praktiese wyse die belangrike beginsel van deernis en empatie. Om in voeling te wees, om met innige medelye uit te reik. Die eenvoudigste gebaar van opregte deernis in aksie is immers beter as die grootste intensies van medemenslikheid.

Jare later staan ek met my huilende eersteling oor my skouer in die voorkamer van ’n woonkompleks in die stad. Ek het min geslaap en kan nie onthou wanneer laas het ek net gesit en rustig ’n bord huiskos geniet nie. Manlief is uitstedig om ’n verpligte kongres by te woon en my ouers woon ver weg op die platteland.

Dan lui die voordeurklokkie. Ek sluit die veiligheidshek oop en daar staan die buurtannie.

“Dag, kinta. Tannie het net gereken jy is seker maar bedrywig met die baba en toe sê my hart vir my dat ’n bord huiskos dalk net jou kragte sal herstel.”

Só leer ek dan nog ’n waardevolle beginsel. Die beginsel van dat goeie dade soms ’n vreemde, maar definitiewe pad terug volg om die gewer nog meer te seën as die ontvanger.

Die nuutste neigings vir 2019 sluit glo grootmaatkook, outydse huiskos, kleurvolle hekelwerk, holografiese grimeerkleure, maksimalisme, gousblomgeel kragpakke en pofmoue in. Dink net hoeveel mooier die wêreld sou wees indien medemenslikheid ook die lys kon haal.

Joseph is ’n rubriekskrywer en reisiger van Pretoria.

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Hoop  |  Plant  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.