Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dink ook mooi oor die Bybel se geskiedenis

Die boek van Patric Tariq Mellet, The Lie of 1652, het mense aan die praat en hulle verskil behoorlik daaroor.

Braam Hanekom

So ook oor die departement van basiese onderwys se voorstel dat geskiedenis ’n verpligte vak op skool gemaak word.

Kom ons stel dit duidelik. Geskiedenis en geskiedskrywing is bitter belangrik, maar ongelukkig nie altyd so onskuldig nie. Daar is die feite, die selektiewe hantering van die feite en natuurlik die interpretering van die feite. Hoe langer dinge in die verlede terug gebeur het, hoe groter raak die kanse dat mense meningsverskille oor die “feite” sal hê. Daarby moet ons ook verreken hoe ons eie ideologiese voor- en afkeure ons omgang met die historiese feite kan beïnvloed.

’n Onlangse kyk na ’n program op kykNET oor die geskiedenis van die Griekwas in Suid-Afrika, het my weer diep laat dink oor die onreg wat mense aangedoen is, maar ook die baie mooi erfenis wat daar onder ons inheemse mense opgesluit lê. As al ons kinders die geskiedenis voortaan in skole sal moet leer, hoop ek daar kom ook ’n kans dat Hermann Giliomee se Die Afrikaners êrens gelees sal word.

’n Vinnige kyk na die Bybel laat ’n mens besef dat die skrywers die geskiedenis om verskeie redes baie ernstig opgeneem het. Dink maar aan hoe die volk Israel gedurig herinner is aan die pad wat God met hulle geloop het. Die herhaaldelike terugverwysings na spesifieke plekke en omstandighede val ’n mens op.

Die vele narratiewe wat die geskiedenis soms baar, het dikwels verskeie bronne nodig vir kruiskontrole.

As Lukas die geboorteverhaal van Christus aankondig, dan begin hy nie deur te sê: “Eendag lank, lank gelede” nie. Hy sê wel: “In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word.” Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië (Luk. 2:1-2). Hiermee anker hy die geboorte van Christus in ’n spesifieke historiese konteks.

Die vele narratiewe wat die geskiedenis soms baar, het dikwels verskeie bronne nodig vir kruiskontrole. So help buite-Bybelse bronne, soos dié van Flavius Josefus en ander, ons om ’n duideliker prentjie te kry oor Christus se historiese konteks. Oor die “dat” van die historiese Jesus sal min mense stry. Dit is egter oor “wie” hierdie Jesus was, waar die paaie uiteenloop.

In Matteus 16 lees ons dat Jesus eers vir sy dissipels vra wie die mense sê Hy is, maar dan vra Hy vir hulle wie húlle sê Hy is.

Dit is die vraag wat opnuut dié Kerstyd aan elkeen van ons gevra word. Dalk juis aan die einde van ’n moeilike en uitsonderlike jaar. Al die aanduidings is dat Covid-19 ons in ’n andersoortige Kersfees gaan indwing. Kerkdienste gaan veel kleiner wees en ons sal moet mooi dink oor groot familiesaamtrekke en ander byeenkomste. Petrus se antwoord aan Jesus sal, soos deur die eeue, egter bly weerklink.

  • Dr. Hanekom is die direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Waarheid  |  Geskiedenis  |  Bybel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.