Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dis nou tyd om binnewêreld netjies te maak
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Daar is maar min wat ’n mens nóg kan bylas oor alles wat reeds gesê is oor Die Virus, inperking en paniekaankope. Elkeen tref reëlings, smee planne, skryf lysies neer en hou een oog op die nuuskanale, die brose aardbol net-net in balans op Atlas se skouers.

Ek wíl nie desperaat lyk nie, maar vanselfsprekend moet aankope gedoen word en ’n verbysterende ontdekking word gedoen ten tyde van die inkopietog. Vergeet van die skaarste aan botterskorsies, ontsmettingsmiddels en langlewemelk: Daar is nou ook ’n nypende tekort aan wax strips.

Stomgeslaan wend ek my van een winkel en apteek tot die volgende, maar helaas. En dit tickle my pienk, soos die Ingelse sê. Is dit gelykstaande aan die topverkope van rooi lipstif in die Tweede Wêreldoorlog? Duidelik bevind ek my in ’n nie-so-uitgelese groep vroue (en mans?) wat voornemens is dat geen onwelkome haar die oorhand sal kry in die volgende drie weke nie.

Dalk het dieselfde mense met die bevlieging vir haarloosheid ook al die pienk tonic gekoop, want daardie rakke in die drankwinkel was ook leeg. Terwyl ek staan en kopkrap, is daar ’n palawa voor in die winkel. ’n Vrou se winkeltrollie met drie leë kaste bierbottels het omgeduiwel.

Vergeet van die skaarste aan botterskorsies, ontsmettingsmiddels en langlewemelk: Daar is nou ook ’n nypende tekort aan wax strips.

Kyk, ek het volslae bewondering vir mense wat koelkop in ’n krisis kan bly. Hier staan ek en probeer ’n verleentheid oor my meer as ’n tikkie desperaatheid vir kwinien by die gin verbloem en dié vrou verklaar blymoedig en kliphard: “Daar is nog een kas buite. Julle moet weet daar is géén manier waarop ek vir drie weke gaan hou met ’n bedonnerde man as hy droëbek moet sit langs die braaivuur nie.”

Humor (soos sjokolade en biltong) is ’n goeie teenvoeter teen die onbekende wat op ons wag. Want dis hier, dié tyd waarvan so lank gesê is: “Iets moet tog meegee. So kan die wêreld nie aangaan nie.”

Ja, ons kort iets soos ’n wax strip vir die siel.

Maar sou die humor nie hou terwyl ons klein ruimtes moet deel nie, las ek nog goed by die kooplysie: verf en kwaste vir die dowwe hoeke in die huis, skroewe en spykers om vir eens tog al die losgetrekte vloerlyste, lendelam deurknoppe en ander afgeslyte goete by te dam, kompos en saailinge vir die tuin, meters lap om ’n ou bank mee oor te trek, motorpolitoer. Laat ons nie ledig wees nie.

En tog is daar ook ’n byna-wens om regtig ledig te wees. Om ’n verskoning te hê om vir eens die tyd te neem om die binnewêreld te orden. Daar is splinters van nare ervarings wat een-een uit die weefsel van herinnering uitgevis en weggesmyt moet word, futiele angstigheid in die hartkamers wat in bedwang gebring moet word en die wag voor die mond wat so lank op awol was, terug te bring huis toe. Ja, iets soos ’n wax strip vir die siel.

Dalk help dit als so ’n klein bietjie om Atlas ’n blaaskans te gee.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Covid  |  Nabetragting  |  Koronavirus  |  Selfondersoek  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.