Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dít is hoekom gelowiges Valentynsdag kan vier

Hoe de swernoot het hierdie land ten spyte van die ernstige krisisse in die verlede nie ondergegaan nie? Die antwoord lê in geloof, hoop en liefde, skryf Nico Botha.

Blomme bly mooi en sjokolade smaak altyd lekker.Delah Gamieldien is gereed vir Valentynsdag. Foto: Hayley Franklin

Mens kan jou soms interessante beskuldigings op die hals haal. ’n Goeie vriend wou weet waarom ek steeds probeer om allerlei sosio-politieke ontledings te maak en scenario’s te skets wat weinig met my eintlike nering te make het. Hoekom hou die skoenmaker hom nie liewer by sy lees nie?

Toe ek vra wat hy bedoel, antwoord hy: Dat hy van ’n dominee of teoloog verwag om eerder te reageer op die vraag watter soort geloof ’n mens moet hê in ’n tyd soos dié in Suid-Afrika. Helaas is die antwoord nie so maklik nie.

’n Mens moet miskien allereers ’n goeie begrip ontwikkel van die frase “ ’n tyd soos dié”. My vriend meen natuurlik dat dié vier woordjies met een woord saamgevat kan word – “krisis’.

Maar was daar al ooit ’n tyd dat Suid-Afrikaners nie in krisis gelewe het nie? Was daar al ooit ’n tyd dat hierdie nie ’n “geknelde land” was nie? Dis ’n grootse, heerlike, boeiende land met ’n ontsaglike diversiteit, maar juis daarom ook ’n land wat gebuk gaan onder ’n krisis in suspensie.

’n Mens het ’n soort geloofsgeletterdheid nodig om mooi te verstaan wat die dreigende gevare is vir die land.

Vanaf die vroegste tye toe daar ernstige botsings tussen die koloniste en die inheemse bevolking ontstaan het en onder apartheid toe die krisis radikaal op die spits gedryf is. Maar nou ook. Die anatomie van die huidige krisis is so bekend dat dit half oorbodig is om keer op keer die lysie van weë en smarte te maak.

Wat Suid-Afrikaners wel met sekerheid weet is dat die huidige krisis baie groot gevare inhou. ’n Mens het ’n soort geloofsgeletterdheid nodig om mooi te verstaan wat die dreigende gevare is vir die land. ’n Mens moet die tekens van die tyd kan lees.

Gevare en geleenthede

Dikwels is dit nie eens nodig om gesofistikeerde ontledings te maak nie, maar om vanuit die geloof die voor die handliggende tendense raak te sien en te interpreteer. Maar behalwe die “gevare” is daar ook nog ’n ander woord wat met ’n “g” begin: Geleentheid.

Dis dalk ’n paradoks, maar juis die gevare waaraan Suid-Afrikaners blootgestel word, skep geleenthede om op ’n ander manier in die lewe te staan.

Prof. Nico Botha Foto: Deaan Vivier

Die afgelope tyd is daar weer druk debat gevoer oor die betekenis van FW de Klerk se “epogmakende” aankondigings dertig jaar gelede. Miskien moet ’n mens hom dit uiteindelik op ’n minder siniese manier ter ere na gee. Hy het besef dat daar ’n krisis was in tweërlei sin: Dat die apartheidstelsel self in ’n ernstige krisis verkeer het en dat die krisis wat dit uiteindelik kon veroorsaak te verskriklik was om aan te dink.

Dat die nuwe krisis in die land mense onrustig en selfs paniekerig maak hoef ons nie te verbaas nie. Is die gelowige of godsdienstige houding in so ’n situasie dalk om nie net die gevare raak te sien nie, maar ook die skeppende geleenthede in die situasie?

Die vraag kan ook anders gestel word. Kan die geloof só funksioneer dat die verlammende uitwerking van die Suid-Afrikaanse krisis deur diensbaarheid teengewerk word?

Geloof het daarom met kennis te make – nie “kopkennis” nie, maar ’n dieper kennis, ’n wete dat dinge nie sommer uitmekaar sal val nie.

Dié vrae kan nooit gemik wees op ’n oppervlakkige soetmakertjie nie, maar juis op ’n verdieping van die geloof.

Want die wyse waarop die geloof werk is om terug te kyk en te vra: Hoe de swernoot het hierdie land ten spyte van die ernstige krisisse in die verlede nie ondergegaan nie? Geloof het daarom met kennis te make – nie “kopkennis” nie, maar ’n dieper kennis, ’n wete dat dinge nie sommer uitmekaar sal val nie.

In ’n sekere sin is geloof ’n sinoniem vir droom. Mensgemaakte krisisse is altyd (bedoeld of onbedoeld) daarop uit om die droom dood te maak en in die ergste geval selfs die dromer.

’n Voorlopige antwoord aan die vriend wat iets wil hoor oor ’n gelowige of godsdienstige reaksie op die huidige krisis in Suid-Afrika is dit: Christengelowiges kan ’n groot bydrae maak deur die openbare gestalte van hulle godsdiens as geloof, hoop en liefde te verstaan.

En indien dit nie te veel van ’n herhaling is nie, lê die aard van die geloof juis daarin dat ’n mens ook sonder duidelike empiriese getuienis hoopvol bly. Hoop is anders as optimisme.

Die optimis weet met ’n groot mate van sekerheid wat die resultaat van iets sal wees. Die hoopvolle mens daarenteen sit die stryd om ’n bepaalde saak wat die moeite werd is voort, selfs al is die uitkoms nie seker nie.

Die gelowige, hoopvolle mens wat die liefde nastreef verstaan iets van die teenstrydighede van die lewe. Inderdaad, dat die lewe ’n beweging van teenstrydighede is.

En daarom doen ons hierdie week met oorgawe mee aan Valentynsdag, al besef ons hoe kommersieel dit geraak het. Blomme bly mooi en sjokolade smaak altyd lekker.

*Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Valentyn  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.