Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dit is wat die kroegman gesien het

Altyd dieselfde vier ouens, altyd dieselfde tyd, sit altyd op dieselfde plek en hulle drink altyd presies dieselfde. Jo Prins vertel van sy ervaringe as kroegman in ’n Britse pub.

Jo Prins

Een van die lekkerste werke wat ek tot nog toe in my lewe gedoen het, was dié van kroegman.

En ’n kroegman is nie sommer iets wat jy word nie, jy het óf die temperament daarvoor – óf nie. Ja, jy kan geleer word, maar dit neem ’n spesifieke geduld en liefde vir mense, maar veral vir mense se stories.

Só bevind ek my sowat 20 jaar gelede, hier in 1998 rond, redelik platsak. Ek is gekeur om die jaar daarna ’n honneurskursus in joernalistiek by Stellenbosch te gaan doen, maar die fondse wat ek het gaan my waarskynlik net tot in Maart hou – dis nou as ek my two minute noodles rek.

In die verlede, hier in die middel 90’s rond, het ek ’n goed betaalde job by Lloyds Stockbrokers in Londen gehad, maar dié 09:00-tot-17:00-, das-en-pak-omgewing was sieldodend – om dit ligtelik te stel.

My plan was om met my laaste geld ’n retoerkaartjie Londen toe te koop, en hopelik weer só ’n werk te kry wat genoeg ponde betaal om my nie net deur my honneurs te kry nie, maar sommer ’n jaar of wat daarna ook aan die gang te hou.

Die jaar se uurglas was besig om onder my gat uit te loop.

In Londen is ek, met ’n groen pak en das, van die een onderhoud na die ander. City Bank, weer Lloyds, Barclays . . . maar niks wou dié keer byt nie. En elke keer was dit ’n hele paar pond om met die tube by my bestemming uit te kom.

Ná omtrent twee maande van werk soek en ’n vriendin wat aanvanklik heel vriendelik hul woonkamer se rusbank as slaapplek aangebied het, moes ek dringend begin plan maak. My gasvrou was moerig, my geld so te sê gedaan, maar meer nog: Die jaar se uurglas was besig om onder my gat uit te loop.

Ek moes my visier gewoon laer stel.

Hier teen Mei, Junie, is ek op ’n dag in ’n onderhoud in Twickenham om een van drie kroegmanne te wees in The Prince Blucher – ’n Engelse Fuller’s pub wat deur ’n Ier bestuur word.

James, dié Ier, sou later gereeld dié grappie vir my vertel: “If it weren’t for alcohol the Irish would have ruled the world!”

In elk geval, ek en die Ier het van ons eerste handdruk af baie goed oor die weg gekom. Ek’s mál oor hulle (en die Skotte) se aksent en die Ierse meisies doen nogal dinge vir my (hoewel hulle my meestal enige aand onder verskeie tafels kon indrink).

Die Ier het op sy beurt weer van mý aksent gehou, maar ook van die feit dat ek ’n Suid-Afrikaner is wat in die wynland grootgeword het en darem iets van wyn en bier weet.

Die betaling was nie fantasties nie, maar dit was ’n “live in job with three square meals”. Elke sent wat jy gemaak het, kon jy spaar.

Ek en James het saam ’n Guinness gedrink om die transaksie te beklink en net daar moes ek hoor dat geen werknemer alkohol op sy perseel mag gebruik nie.

“Sorry, company rules. This will be your last pint.”

Effe bekaf, maar dankbaar vir die werk en die dak oor my kop, het ek die volgende oggend ingeval. En die Ier het my onder sy vlerk geneem.

Verbysterend, het ek altyd gedink, die Magtige Britse Ryk se fondasie is ’n swetterjoel pubs in elke burrow en die lot begin vroegdag al vat.

Groentjies, kelners én kroegmanne, word aanvanklik ingespan om elke liewe oggend douvoordag die hele pub van hoek tot kant te skrop en te mop. Elke stukkie brons moet teen 10:00 blink gepoets wees, elke glas skoon.

Want teen 11:00 (ja, soggens) stap die eerste kliënt daar in.

Verbysterend, het ek altyd gedink, die Magtige Britse Ryk se fondasie is ’n swetterjoel pubs in elke burrow en die lot begin vroegdag al vat.

Wat die 11:00-span interessant gemaak het, was dat almal honde by hulle gehad het. Ja, meneer het vir sy missus gesê hy vat gou vir Jess – die stertswaaiende golden retriever – vir ’n stappie, en dan hier in die laaste stretch oorkant die Twickenham Green, kom drink hy gou ’n pint.

Altyd dieselfde vier ouens, altyd dieselfde tyd, sit altyd op dieselfde plek en hulle drink altyd presies dieselfde.

Ná ’n week ken jy dalk nie almal se name nie, maar jy weet dié ou met dáái hond en wat dáár sit, drink ’n pint Courage (“to face me missus”) en dan net voor hy loop ’n skoot van The Famous Grouse se whisky.

Saans was dit ’n heeltemal ander crowd met die Twickenham-gholfbaan se greenkeeper wat altyd hier in die hoek teen die kroegtoonbank gesit het en tot toemaaktyd net rooiwyn gedrink het. Wat hom vinnig my vriend gemaak het, was sy voorliefde vir Suid-Afrikaanse rooiwyn wat vir hom net so goed soos enige Franse rooiwyn was teen die helfte van die prys.

En dan was daar natuurlik die rugby-crowd die eintlike rede waarom The Prince Blucher waarskynlik nooit sal ondergaan nie.

Voor en ná ’n groot game by Twickenham is daar behoorlik ’n see van mense wat in golwe tien of 20 pints bestel. En behoede die man wat tussenin sy bestelling tien pints Guinness ook bestel, want dié stout moet in sarsies ingegooi word, eers settle en dan gooi jy die kop laaste bo-op.

Ek het groot manne al gesien vuisslaan oor wie se Guinness dit is.

Skaars ’n week voordat ek daai jaar by The Prince Blucher klaarmaak, pak die Springbokke die Engelse op Twickenham. Almal verwag ’n wegholoorwinning met die Bokke onoorwonne op hul Britse toer.

Maar die Bokke verloor met 7-13. Die pub bly tot laat ná die wettige toemaaktyd oop en die Ier oortree al sy reëls en koop vir my soveel Guinness as wat ek kan drink.

Die geld het my darem tot Junie die volgende jaar gehou . . .

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.