Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Doelbewuste etiek is ál skild teen skelmgeit
Erik Holm

Die laaste tyd was die hoofvermaak in die internasionale media die skelmstreke van politici en sportlui. ’n Halfdosyn presidente of oudpresidente is aangekla of skuldig bevind aan korrupsie, insluitende ons eie juweel van ’n oudpresident.

Skelmgeit is natuurlik ’n eie kind van kompetisie. Ons het almal ’n aangebore talent daarvoor; dit lê in ons diepgewortelde simiaanse (aap-stam) kultuur. Party antropoloë reken selfs dat ons groot brein se evolusie direk verband hou met die simiaanse sosiale kontrak.

Alle aap-sosialiteite se interaksies berus grootliks op skelmgeit: alliansies bou tot jou voordeel, voorgee wat nie so is nie, lieg en bedrieg en manipuleer om beter sosiale status te bereik. Dit is tewens die enigste manier waarop ’n aap vooruit kan boer.

Vir so ’n sosiale seleksie moet jy slim wees. Jy moet kan onthou wie jy hoe bedrieg het, wie jou vyande en jou vyande se vyande is en hoekom en hoe al die ander se onderlinge skelmstreke daar uitsien. Jy het ’n groot brein nodig om die massa (ewig veranderde) data te prosesseer. Dit is dan wat die sielkundiges “sosiale intelligensie” noem. Die boere het dit sommer slimmigheid genoem. Slim wees is eintlik iets heel anders as intelligent wees – dit staan veel nader aan skelm wees.

Daar is beroepe en bedrywe waar skelmgeit jou nie veel sal baat nie. Onderwysers, digters of boere, byvoorbeeld, kan hoogstens in hul private lewe ’n goeie aanwending daarvoor kry. Maar daar is beroepe waar dit feitlik fataal is om nie skelm te wees nie. Dit is daardie waar jou sukses totaal afhanklik is van jou posisie in die kompeterende rangorde, waar jy staan of val deur jou vermoë om die kompetisie te verneder en tot ’n val te bring en jouself tot elke prys te bevorder.

Opvallend was dat mense so verontwaardig reageer op die uitvangery, nie op die wandaad as sodanig nie.

Die hoogs kompeterende beroepe is dié wat direk om mag en geld gaan. Voor in die koor is politikus. Kort daarop is die abstrakte finansiële wese, waar geld gemaak word sonder teëprestasie. Internasionale sport het nou by dié uitgelese bendes aangesluit, duidelik omdat groot geld deel daarvan geword het.

Opvallend was dat mense so verontwaardig reageer op die uitvangery, nie op die wandaad as sodanig nie. Ons het almal ’n goeie begrip en selfs toleransie vir slimstreke. Maar uitgevang word, dit is ’n skande! ’n Mens is verontwaardig oor hoe lomp ’n skelm Austra­liër die skuurpapier in sy onderbroek wegsteek en hoe blatant ’n uitgevangde Zuma by kerke inkruip. Dit is sies! En wat dit beteken, is dat ons nie naastenby so verontwaardig is oor dié wat met skelmstreke wegkom nie en selfs dalk ’n bietjie geheime plesier en respek sou voel.

Ons sukkel maar met ons aangebore simiaanse natuur, want ons is tog maar trots op die slimmigheid wat daarmee saamgaan. Doelbewuste etiek is die enigste teëvoeter wat ons het. Ons ideale van eerbaarheid, opregtheid, regverdigheid en onbaatsugtigheid. Maar dié is ongelukkig nie aangebore nie – jy kry geen sweem daarvan by ons aap-verwantes nie. Dis nie winsgewend en betalend in ’n kompetisiestryd nie. Juis daarom is dit ons bewonderenswaardigste prestasie en kleinood. Dit onderskei ons van die patetiese selfsugtigheid van ’n aap. Dis die moeite werd om daarvoor te veg.

Meer oor:  Erik Holm  |  Korrupsie  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.