Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Dra by tot Seisoen van Moed
Skets: Hanlie Malan

"Moeder Hoop het twee pragtige dogters; hulle name is Woede en Moed. Woede oor hoe sake tans daar uitsien en Moed om toe te sien dat die situasie verander.”

Dit is woorde van die kerkvader Augustinus, wat in die vierde en vyfde eeu in Noord-Afrika geleef het.

Augustinus se uitspraak het besondere betekenis vir ons in Suid-Afrika. Een deel van hierdie uitspraak het ons die laaste paar jaar voor ons oë sien uitspeel omdat baie mense in ons land kwaad, of eerder woedend, was of is. Dit is nie vir almal ewe maklik om die eerste dogter – Woede – as ’n pragtige dogter van Moeder Hoop te beskryf nie.

Tog, ná al die omwentelinge van die laaste klompie dae, kan ons terugskouend die belang van hierdie dogter, oftewel die skoonheid van Woede, waardeer. ’n Mens sou bykans kon sê dat ons land in ’n Seisoen van Woede verkeer het (nie dat daardie seisoen verby is nie), wat gehelp het om ’n nuwe seisoen te laat deurbreek.

Diegene wat opleiding het en toegang het tot kommunikasie-organe soos koerante, het die pen opgeneem in hierdie seisoen.

Die politieke ontleder en kommentator Justice Malala skryf in 2015 in We Have Now Begun Our Descent: “I am angry. I am furious. Because I never thought it would happen to us . . . Not us, not the rainbow nation that defied doomsayers and suckled and nurtured a fragile democracy into life for its children.”

Eusebius McKaiser wy weer ’n hele hoofstuk in sy boek Run Racist Run aan woede. McKaiser skryf dat hy weier om uitdrukkings van ongeregtigheid primêr as intellektuele uitdagings te aanvaar.

I am angry. I am furious. Because I never thought it would happen to us . . .

“They are not. They are not. They are real, material challenges and it is unhelpful, and frankly inhumane, to only examine inequality, poverty, racism, misogyny, violence and other ills dispassionately.”

Daarom skryf hy sonder ’n omhaal van woorde: “I am angry. I am fucking angry. I am angry at the profound levels of injustice in our country that refuse to go away.”

Malala en McKaiser kon boeke en artikels skryf, maar diegene wat nie daardie middele tot hul beskikking het nie, het Moeder Hoop se eerste pragtige dogter omhels deur handelinge soos protesoptogte en stakings.

Vir party mense was die Seisoen van Woede belangrik om uitdrukking te kon gee aan hul emosie.

Die rede(s) waaroor mense kwaad was (en is), het uiteraard gewissel, maar die feit dat mense woedend was, en dikwels met goeie rede, is ’n gegewe. Hierdie woede en uitdrukking daarvan was en is steeds van kritieke belang in ons land. Die kans bestaan dat Suid-Afrika tans ’n nuwe seisoen tegemoetgaan.

En gedagtig aan Augustinus se uitspraak, is dit bes moontlik ’n Seisoen van Moed.

Net soos die lente nie sonder die voorafgaande winter kan aanbreek nie, net so was die Seisoen van Woede noodsaaklik vir die aanbreek van ’n Seisoen van Moed. Net soos albei dogters van Moeder Hoop pragtig is, net so besit albei seisoene hul eie skoonheid.

Vir party mense was die Seisoen van Woede belangrik om uitdrukking te kon gee aan hul emosie. Wat ons dikwels egter miskyk, is dat ’n Seisoen van Woede by uitstek ook ’n belangrike seisoen is om te luister, aangesien daar min mense in die land is wat nie ook op die een of ander wyse aan die ontvangkant van woede staan nie.

Dit is belangrik om te luister wie is kwaad, waaroor hulle kwaad is en waar ek inpas ten opsigte van daardie woede (ek is kwaad, goed, maar presies waarom is ander mense weer vir my kwaad?). Dus is albei modi – uitdrukking gee en luister – belangrik en noodsaaklik sodat ons uiteindelik ’n tree verder kan gee op die lang pad na geregtigheid en versoening in Suid-Afrika.

Die Seisoen van Woede was dus belangrik en bly eintlik steeds noodsaaklik, maar net so is die Seisoen van Moed nou dringend nodig. Om kwaad te wees, is slegs een kant van die munt; die keersy is om skouer aan die wiel te sit en ’n verskil te maak sodat jou woede jou nie apaties maak nie, maar eerder betrokke.

Die aanhoor van woede wat op jou gerig is, is ’n pynlike saak. Tog is dit dikwels ook ’n ideale geleentheid om jou hand in eie boesem te steek. Dit verg egter moed. Die moed waaroor dit hier gaan, is taamlik omvattend, maar op ’n heel basiese vlak beteken dit om moed te hou ten spyte van uitdagings en ook om waagmoed te hê om iets te doen wat jou eintlik bang maak.

Dit is verwant aan Gandhi se bekende uitspraak, te wete om self die verandering te word waarop jy hoop.

Terwyl ek hier skryf, doem die karakter Daantjie in P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides onwillekeurig by my op. Daantjie wat as ou man lank ná die Suid-Afrikaanse Oorlog kiertsregop en vroom in die ouderlingsbank sit, maar met sy diep geheime.

Ou grootbek, moet my nie oordeel alvorens jy nie self al in die loopgraaf gelê het nie, want dit is daar waar jy uitvind wie jy is.

Onder meer is daar die donker geheim dat hy ’n grootprater vol bravade was, maar telkens wanneer hy in die loopgraaf beland het, sy moed hom begeef het. Ek dink die karakter Daantjie boesem vrees by die meeste lesers van daardie roman in, want P.G. laat Daantjie voor jou kom staan met die aanmaning: “Ou grootbek, moet my nie oordeel alvorens jy nie self al in die loopgraaf gelê het nie, want dit is daar waar jy uitvind wie jy is.”

’n Seisoen van Woede was en bly steeds belangrik in ons land. Suid-Afrikaners moet gelukgewens word vir die kreatiewe en sinvolle wyses waarop hulle hul woede tot uitdrukking gebring het en hopelik kan ons daarop voortbou wanneer die situasie dit verg. Woede maak energie los en help om verandering teweeg te bring.

Moeder Hoop het egter twee pragtige dogters. Ons lê nie in ’n loopgraaf soos Daantjie nie, want dit is nie oorlogstyd nie. Ons staan egter wel voor die uitdaging om onsself af te vra of ek net gaan kwaad bly en of ek ook gaan vra wat my bydrae in ’n Seisoen van Moed kan wees.

  • Wepener is hoof van die departement van praktiese teologie van die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Demokrasie  |  Justice Malala
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.