Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Drumpels op weg na ons bestemming

As Suid-Afrikaners aanhou wag vir iets in die toekoms, kan dit verhoed dat hulle dít raaksien wat reeds daar is, skryf Cas Wepener.

Skets: Hanlie Malan
Skets: Hanlie Malan

In Mei sal die sesde algemene verkiesing sedert 1994 plaasvind. Met die eerste paar demokratiese verkiesings was metafore soos die nuwe Suid-Afrika en biskop Desmond Tutu se reënboognasie baie gewild. Dit het gehelp om te verduidelik dat ons midde-in ’n oorgang was.

Presies hoe so ’n oorgangstyd lyk, was egter nie duidelik nie. Dit was daarom ook nie toevallig nie dat die idee van ’n drumpelfase te midde van ’n oorgangstyd gewild geraak het. Het ons in hierdie verkiesingsjaar, ’n kwarteeu ná 1994, daardie oorgang gemaak en is ons ’n nuwe Suid-Afrika en reënboognasie?

Om die vraag te beantwoord kan dit dalk sinvol wees om oor die idee van ’n drumpelfase (ook genoem liminaliteit) in ’n oorgangstyd te dink. Die woord “liminaliteit” kom van die Latynse woord “limen”, wat drumpel be­teken. Mense in ’n drumpelfase is tussenin, op die drumpel, soos ’n seun wat inisiasie deurloop wat nie meer ’n seun is nie en ook nog nie ’n man nie. Die konsep was destyds handig om (sommige) mense te help met hul disoriën­tasie ná apartheid, maar met die veronderstelling dat dit sal oorgaan.

Moeiliker belewenisse in ons land wat in verband staan met byvoorbeeld ekonomiese ongelyk­hede en slegte rasseverhoudings laat mense dikwels steeds verwys na die idee van ’n (uitgerekte) oorgangstyd. Suid-Afrikaners moet vasbyt, die land is maar net nog op pad en sal nog arriveer.

Is die idee van die een of ander soort bestemming wat nog nie bereik is nie en deur die idee van ’n oorgangstyd en drumpelfase ver­onderstel word, hoegenaamd nog van waarde?

Suid-Afrikaners moet vasbyt, die land is maar net nog op pad en sal nog arriveer.

Bybelkenners kan dalk vermoed dat ons nog 15 jaar oor het voordat die oorgangstyd verby is, aangesien dit daardie simboliese 40 jaar neem sodat een generasie (wat baie mor omdat hulle wat vir hulle lekker vleispotte was, onthou) kan sterf voor ’n nuwe generasie die beloofde land kan binnegaan.

Sielkundiges kan dalk weer aan die hand van die fases van die sterwensproses voorstel dat Suid-Afrikaners in die 1990’s in ’n ontkenningsfase was, dat ons die fase van woede beleef het sodat ons weet dat ons nou in ’n tyd van onderhandeling sal ingaan (byvoorbeeld oor grond) voordat die depressiefase ons tref, om uiteindelik aanvaarding tegemoet te gaan.

Dan is daar natuurlik ook die postkoloniale denkers volgens wie die beloofde land nie sal verskyn en ons uit ons oorgangstyd sal tree alvorens die laaste kop en hart in hierdie land, in die woorde van die Keniaanse denker Ngugi wa Thiong’o, grondig gedekoloniseer is nie.

Miskien is dit van meer waarde om te werk met die beeld dat ons inderdaad as land in ’n drumpelfase is, maar dat daar vele drumpels is.

Groet oorgangstyd nou

Die tradisionele manier van dink oor ’n oorgangstyd en die toepassing daarvan op Suid-Afrika veronderstel ’n liniêre beweging, amper iets soos ’n reis met ’n vaste begin- en eindpunt. 1994 was werklik ’n oorgang en hierdie denke was van groot waarde, maar dit lyk of hierdie manier van dink steeds met ons is. Daar is baie mense wat, soos die donkie op die perdekar in die fliek Shrek, voortdurend vra: “Are we there yet?” Ek dink ons moet die donkie stilmaak deur die idee van ’n drumpel te behou, maar dié van ’n oorgangstyd nou te groet.

Vanuit my baie beperkte (wit en bevoorregte) begripshorison, dink ek dinge is tans uiters kompleks. Wanneer ek aan die laaste kwarteeu dink, kom die beeld by my op van daardie reusetroppe springbokke wat in die verlede oor die vlaktes getrek het en hoe dit moes gelyk het wanneer hulle ’n rivier oorsteek. Party is al anderkant (sopnat en half verward), ’n klomp swem nog dat dit klap, ’n klomp wag nog om deur te gaan (hulle wil nie eintlik nie, maar volg die trop), en intussen vertrap sommige mekaar in die rivier. Tog hou ek nie van die beeld nie, veral omdat dit veronderstel dat ons nog nie het wat ons soek nie.Omhels veelheid van drumpels

Miskien is dit van meer waarde om te werk met die beeld dat ons inderdaad as land in ’n drumpelfase is, maar dat daar vele drumpels is. Ook dat verskillende mense en verskillende groepe op verskillende drumpels staan en dat dít wat vir ons in die toekoms wag, bes moontlik nóg drumpels is.

Cas Wepener

Miskien is, gegewe die groot verskeidenheid mense met hul uiteenlopende belewenisse wat saam in een land woon, ’n erkenning en waardering van die bestaan van baie drumpels tegelyk ook ons bestemming, ons beloofde land.

Dalk ís ons toekoms die omhelsing van drumpelstatus en spesifiek die omhelsing van ’n veelheid van drumpels. Miskien is daardie nuwe Suid-Afrika ons beloofde land wat oorloop van melk en heuning, nie ’n stil land waar alles net ter wille van rus en vrede gedoen word nie, maar ’n raserige drumpelplek.

Die melk en die heuning proe ons reeds in daardie oomblikke wanneer ek erken my drumpel is maar net een drumpel tussen baie ander. Ek proe dit wanneer ek kans sien om op ander se drumpels te gaan staan en te sien hoe lyk die beloofde land vanaf hul drumpels. Ek proe dit wanneer ek ander nooi na my drumpel sodat hulle iets van my perspektief kan beleef. Dít gebeur klaar. Toegegee, dalk is mageu nie my idee van lekker melk nie, maar net so geval die smaak van my sojamelk ook nie almal nie.

Die spektrum van ons reënboog word wasig sigbaar wanneer mense aanvaar dat die drumpel inderdaad ons bestemming is. Dis belangrik om dit te omhels, want om aan te hou wag vir iets in die toekoms, kan verhoed dat ek dít raaksien wat reeds daar is.

  • Wepener is ’n skrywer en akademikus.
Meer oor:  Cas Wepener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.