Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Eie Rubicon wag op Ramaphosa
Gert Coetzee

Noudat dit ou nuus is dat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, skuif die aandag weer na die vraag wanneer – en of – pres. Cyril Ramaphosa die Rubicon gaan oorsteek. Voordat ’n antwoord gewaag kan word, moet ’n mens eers weet wat sy Rubicon sou wees. Om te beraam of hy dit gaan oorsteek – anders as oudpres. PW Botha wat in 1985 toe nie sy Rubicon oorgesteek het nie.

Ondanks voorbrand deur die Nasionale Party, met Pik Botha as hoofverkondiger (en agterná as hoof-apologeet), het PW Botha op 15 Augustus daardie jaar verseg om die hervormingsmaatreëls vir afskaffing van apartheid aan te kondig in “die belangrikste toespraak van alle tye” waarop die wêreldmedia en die land gewag het. Sy Rubicon-swye het die afwagting soos ’n ballon geprik.

Eers met die herskikking van die wêreldorde waarvan die einde van die Unie van die Sowjet-Sosialistiese Republieke, die slag vir kommunisme en die val van die Berlynse muur (die afgelope Saterdag 30 jaar gelede) deel was, het Suid-Afrika se tyd aangebreek.

Oudpres. FW de Klerk, wat toe die stappe vir hervorming op 2 Februarie 1990 aangekondig het, het later in ’n CNBC-onderhoud na die “venster van geleentheid” verwys. In 1996 het die NP weer teruggetrek oor die Rubicon toe De Klerk die party aan die regering van nasionale eenheid onttrek het – drie jaar voordat die ooreenkoms oor ’n koalisie-regering sou verstryk het.

Verwoeste Vrystaatse munisipaliteite se beteuterde verskynings voor Skoor verlede week is ’n uitsiglose voorbeeld.

Ná die NP se waarheidsmoment in 1990, het die party nog vir 15 jaar gehou, alvorens sy rakleeftyd in 2006 (as die NNP) verstryk het.

Met Ramaphosa is gedink die omkeer-oomblik was met sy verkiesing as ANC-leier op Nasrec 2017. Daarná het sy Thuma Mina-toespraak gevolg toe hy die onteerde Jacob Zuma as staatshoof opgevolg het. Helaas, solank staatskapers in Luthuli-huis en die parlement sit, bedrieërs op vrye voet is, hoogs betaalde ANC-kaders op alle regeringsvlakke verwoesting saai en die gesplete ANC-tong rassisme uitspu, bly die beloofde nuwe daeraad wyk.

Verwoeste Vrystaatse munisipaliteite se beteuterde verskynings voor Skoor verlede week is ’n uitsiglose voorbeeld.

Ja, daar was aanstellings in die NVG en ander staatsverwante instellings; die Zondo-kommissie het sy oomblikke; die SAL gaan glo poste sny, maar van Rubicon-oorsteek, is nie sprake nie.

En Tito Mboweni, minister van finansies, lewer wel pleidooie vir ekonomiese herskikking, maar kry sterk weerstand intern en van vakbonde. Ook, op amoreuse gebied, van Gwede Mantashe, wat sy Rubicon in vroulike gestalte teëgekom het.

Solank sê en doen nie strook nie, is al Ramaphosa se beleggingsbeloftes ook vergeefs. Wat dit gaan verg?

Solank sê en doen nie strook nie, is al Ramaphosa se beleggingsbeloftes ook vergeefs. Wat dit gaan verg?

Beter as Jan-Jan Joubert, oudkollega, in die hoofstuk “Kan die ANC homself red?” in sy nuwe boek Gaan Suid-Afrika oukei wees? kan dit nie gestel word nie. Hy gee ses oorlewingstappe wat die ANC sal moet volg. Die party moet sy laksheid met wetstoepassing los; ongewilde maar nodige besluite deurvoer; kaderontplooiing los; landsbelang bó Cosatu-wense stel; beleid binne die regulasies en wette van die land uitvoer; en meer toekoms- en oplossingsgerig en minder rasbehep raak. Dis ’n raak mondvol.

Beginsel- en waardegewys, is daar geen rede om te vermoed dat die dinge onder die huidige ANC kan geskied nie. Onder dié ANC gaan Suid-Afrika onder.

En hiér lê Ramaphosa se Rubicon.

Dit gaan verg dat hy in landsbelang bereid sal moet wees om die party waarvan hy leier is te laat skeur.

Wanneer die “venster van geleent­heid” aanbreek en of hy dit gaan benut, bly te siene. Hóé sou deel van die geskiedenis uitmaak.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Rubicon  |  Korrupsie  |  Politieke Hervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.