Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ek ruik Ma in anys, gemmer en in kaneel
Aniki Joseph

‘Ek gaan nêrens,” sê Ma. Die sigaret trek kromvingertjie. Die vel op haar hand skyn bleek. Dun soos die vliese van ’n rou ui. Die blou are duidelik sigbaar.

“Hulle sal my hier uitdra eendag. Voete eerste.” Die as mis die asbak net-net. “Oor my dooie liggaam,” sê sy en steek nóg ’n sigaret aan. “Ek en jul pa kom reg. Ons kyk na mekaar.” Dit is net met die hart wat ’n mens werklik kan sien. Ek sien die deernis waarmee sy Pa se koffie roer en aangee. ’n Leeftyd se liefde.

“Maar, Moeder . . . ” probeer ek weer.

Pa lyk verleë. Hy kug. Stel aan sy gehoorapparaat. Vroetel aan die tafeldoek se punt. Dan druk hy my hand saggies onder die tafel. Die lewe se padkaarte opgefrommelde lyne oor sy skraal gesig.

Met die groetslag druk ek Moeder twee keer styf teen my vas. Ek voel haar hartklop. Vir ’n oomblik voel dit asof ons harte in gelyke ritme klop.

“Last touch,” sê sy.

Ons vingerpunte raak vlugtig deur die oop venster van die motor. Soos altyd wanneer ons afskeid neem.

Ons vingerpunte raak vlugtig deur die oop venster van die motor. Soos altyd wanneer ons afskeid neem. Touch en waai. My hart is seer.

Ek kontak die ander kinders. Ons onderhandel, pleit, soebat en bekommer. Begin weer voor, maar Moeder het besluit. Ons aanvaar en ondersteun, maar bly hoop. Iewers in my hart het die werklikheid kom tent opslaan. My eens opgewekte, hardwerkende moeder leef haar dae eenvoudig nie meer vorentoe nie . . .

Dis ’n Saterdagoggend toe die foon douvoordag lui. “Ek is moeg, my kind,” sê Ma.

“Is daar fout?” vra ek.

“Nee, ek is net moeg. Ek wil huis toe gaan.

“Ek kom dadelik.”

Ek probeer met Pa praat. Hy kan my nie hoor nie. Dan bel ek die ander kinders.

Elke mens se vingerafdrukke is uniek. So is dit ook met rou.

Die stadsgewoel lê agter ons soos die platteland oopvou in klossies vaalbos. Slap grensdrade. Hier en daar wapperende plastieksakke. Verbleik, verstrengel en verstrik in son, wind en tyd.

Tannie Lettie in die woonstel oorkant Moeder begin saggies huil toe ek haar vertel dat ons haar hospitaal toe bring. “My ou vriendin was nie meer haarself die laaste ruk nie. Sy wou glad nie meer uitgaan nie. Het sommer helder oordag al die gordyne toegetrek.”

Ek hardloop die trappe af. Op die oomblik toe ek die onderste trap bereik, skree ’n hadida bokant my kop. Ek kyk op. Hulle dra Moeder teen die trappe oorkant af. Voete eerste. Last touch.

Elke mens se vingerafdrukke is uniek. So is dit ook met rou.

Pa kom kuier om die beurt by die kinders.

Tannie Lenie bel. “My seun kom my vandag haal. Ek het besluit om tog maar by hulle te gaan woon. Die kinders soebat al so lank.”

Ek plant krismisrose in die stil deel van die tuin. Verwonder my aan die ligpers blomme en dat ek iets kon laat groei. Ek bak Ma se resepteboek deur: ruik haar in anys, gemmer en kaneel. Ek skryf ’n gedig. Vir my ma.

Joseph, ’n nuwe rubriekskrywer van Pretoria, sal voortaan tweeweekliks ’n bydrae vir Van alle kante lewer.

Meer oor:  Kaneel  |  Hospitaal  |  Ma  |  Dood  |  Gemmer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.