Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Ek wil weer Louis Armstrong se wonderlike wêreld sien’

Dis nogal ironies dat die tema by sy seuns se skool in die jaar van die koronavirus “A Wonderful World” is. Nou wonder Francois Bekker wanneer hy weer die mooi van die wêreld sal kan aanskou.

’n Wonderlike wêreld? Kersiebome bot in Seoel, hoofstad van Suid-Korea. Foto: Reuters

Die jaar het vir ons gesin op 15 Januarie met die opening van die skole landwyd begin en dit het van die eerste dag af klopdisselboom verloop.

Die kinders kom soggens self aan die gang en wonder bo wonder was dit vir my moontlik om die drie spruite betyds by hul skole te kry – ons dogtertjie by haar skool en die tweeling by die seunskool. Die gebruiklike skemerkelkies by die twee skole vir die ouers en onderwysers om sosiaal te verkeer het gevolg.

Die jaar se tema by die seuns se skool het tot my gespreek: “A Wonderful World” – om die moontlikhede en mooi van die lewe raak te sien. Om saam met Louis Armstrong elke dag die groen van die bome en die rooi van die rose te sien.

Die weke wat volg, word roetine. Skool, musieklesse, sport, eet, werk, slaap. Herhaal.

Ek kan nie die dag onthou toe ek die woord vir die eerste keer gehoor het nie. Vroeg Februarie? ’n Virus in China. Korona. Hoogs aansteeklik en dodelik.

Veral twee aspekte van die beriggewing het my nie laat regop sit nie. Ver anderkant die Indiese Oseaan met enkele gevalle uit ’n bevolking van miljoene mense, was nie ’n storie wat my knus in my studeerkamer in Lynnwood, Pretoria, bekommerd gemaak het nie.

Dat selfs 007 die knie moes buig voor die virus . . . dít het my laat besef iets is fout.

Beriggewing oor die virus op nuuskanale soos Sky News het toegeneem. Die virus het vinnig versprei. Nog steeds was ek dankbaar dat ek my hier aan die suidpunt van Afrika bevind, waar ons daaglikse nuus veral bestaan uit beurtkrag en kommissies van ondersoeke wat die omvang van korrupsie probeer bepaal.

Een stukkie nuus het wel in my kop vasgesteek. Op 4 Maart is aangekondig dat die wêreld-première van die nuwe James Bond-rolprent gekanselleer is. Dat selfs 007 die knie moes buig voor die virus . . . dít het my laat besef iets is fout.

Ek onthou iets van toeriste wat op ’n plesierboot in kwarantyn geplaas is. En toe berigte oor Suid-Afrikaners wat in China is. Weer het ek die statistiese feite oor die virus onderskat. Enkele gevalle uit totale bevolkings voel nog steeds ver van my af.

Sterftesyfers in lande soos Italië wat die hoogte inskiet en nog lande wat ingrypende stappe doen om die virus te bekamp, het ’n mens begin kriewelrig maak.

Wendings nader aan die huis was die kansellasie van die sportbyeenkomste, selfs die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

’n Wêreld van maskers

Francois Bekker

Tog het die lewe normaal voortgegaan. Tot die naweek van 14/15 Maart toe aangekondig is dat alle skole tot ná die April-vakansie gesluit sal wees. Die gevolge van die virus uit China was skielik ’n werklikheid hier in die ooste van Pretoria.

In die dae wat gevolg het, het die wêreld stadig begin anders lyk. Inkopiegangers met gesigmaskers in die Jakarandastad. Nog meer data oor die verspreiding van die virus het die nuus oorheers.

Teleurgesteld moes ek my berus by die kansellasie van Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Suite 2 in die Atterbury-teater, waarvoor ek al weke gelede kaartjies bekom het. Byeenkomste waar 100 of meer mense bymekaar sou kom, is verbied.

Op die aand van Maandag 23 Maart het pres. Cyril Ramaphosa die verreikendste aankondiging sedert 2 Februarie 1990 gemaak. Vanaf middernag op 26 Maart sal Suid-Afrika vir drie weke onder ’n landwye staat van algehele inperking verkeer. Soos Beeld se voorblad dit op Dinsdag 24 Maart uitbasuin het: “SA gesluit”.

Geen vryheid van beweging nie. Geen ekonomiese bedrywighede nie. Winkelsentrums, restaurante, boekwinkels, klerewinkels, kitskosplekke, kroeë en kuierplekke is toe. Die toerisme-bedryf word tot stilstand gedwing. Geen vlugte binnenslands of na die buiteland nie. Die ganse Suid-Afrikaanse gemeenskap word gelas om tuis te bly en mag net hul huise verlaat vir mediese behandeling of om kos te koop in supermarkte wat mag oopbly.

Mense het gestroom na die supermarkte om genoeg voorraad vir drie weke te koop. Nog meer mense met gesigmaskers. Oral waar jy gaan, is spuitkannetjies om jou hande te ontsmet. Op sosiale media kon ’n mens lees hoe Suid-Afrikaners dié ingreep begin verwerk.

Met ’n ekonomie wat reeds pap is, kan ’n mens net raai wat dit aan ondernemings sal doen as hulle drie weke lank geen sake kan doen nie. Baie mense soos kelners sal geen vergoeding ontvang nie. En daar word reeds bespiegel dat die inperking nie by drie weke gaan bly nie.

Vrydag 27 Maart. Die land staan stil. Min of geen motors op die snelweë nie. Meer en meer mense begin positief vir die virus toets. Die eerste sterftes word aangemeld.

Al waarvoor ek nou hier in my studeerkamer hoop, is om binnekort weer Louis Armstrong se woorde oor ’n “wonderful world” te kan glo.

* Bekker is ’n DA-raadslid in Pretoria en skryf veral boekresensies ‘om sy sanity te behou”. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  China  |  Pretoria  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.