Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Erfgoed uit ’n koue kindertyd lank gelede

Toe ek Sondagoggend die voordeur oopmaak op pad kerkorrel toe, slaan die geur van winter my.

En ek weet die seisoen is aan die draai.

Annelie Botes

Ek is by uitstek ’n wintermens. Daar is weinig dinge so esteties mooi soos sagte winterreën teen die ruite.

Of om in die reën langpad te ry met fleskoffie en padkos.

In die winter is daar nie vlieë en muskiete nie en die krieke kriek nie snags nie. Jou voete is nie opgeswel nie, jou lyf is nie knaend taai nie, die vloere is nie louwarm nie.

Dis die tyd vir brei, wollerige komberse en ’n vliesstofkamerjas. Snags is die flenniebeddegoed knus en die kat rol styf teen my heup op. Soggens is dit ’n luukse om met my oggendkoffie terug te klim in die lou bed.

Wintertyd is ek altyd dankbaar ek werk nie vir ’n baas nie, en dan het ek onverdunde waardering vir die voorreg om in die middel van die oggend te bad.

Tydsaam, met ’n beker Earl Grey-tee.

As koshuiskinders moes ons Maandae met hanekraai opstaan, terwyl die maanlig op die gerypte gras glimmer.

Ek kon my verluister aan die reënmusiek op die plaashuis se sinkdak.

Wanneer ons ons flenniepajamas uittrek, was my ma gereed met ons langmoufrokkies wat sy voor die Aga gehang het. Die dorp was 26 myl ver op die draaitjierige Kammanassiepad, en ons moes nog ons koshuiskoffers in ons kamers neersit. Halfagt moes ons in die ry staan vir die saalbyeenkoms.

Omdat ek nie ’n horlosie gehad het nie, was my musiekles direk ná saal, sodat ek nie vergeet nie.

Dan is my vingers styf van koue en kan ek nie my toonlere en oefeninge uit A Dozen a Day vlot speel nie, en dan kry ek raas.

Daarom het ma vir my en my sussie warmwatersakke met gebreide jassies gegee vir die lang pad dorp toe. Dwarsdeur saaltyd kon ek my hande warm hou.

Wintervakansies, reëntyd in die Uniondale-­wêreld, het ek soos ’n moederhen oor my poppe gewaak. Hulle met warm water gewas en afgedroog met ’n handdoek wat voor die Aga gehang is. Vir hulle truitjies, gebreide kousies en mussies aangetrek en tot by die nek toegemaak onder my eendedonskombers.

Ek kon my verluister aan die reënmusiek op die plaashuis se sinkdak.

Naweke het ek moeite gemaak met kerriehoender, soetpatats en rolpoeding. En as dit reën op ons Bedford-huis se sinkdak, moes hulle lúister.

My ma se kos het lekkerder geruik in die winter. Kaneelpampoen, bonesop, vetkoek, frikkadelle in tamatiesmoor, melkkos. Gemmerpoeding, souskluitjies.

Saans het ma se lyf na roospoeier geruik wanneer sy vir ons uit ’n boek slaaptydstories lees.

Al kon ons self lees, het “Doringrosie” en “Sneeuwitjie” mooier geklink wanneer sý dit lees.

Later jare, toe ons kinders op Maandae teen wintervoordag moes koshuis toe in Somerset-Oos, het ek hul frokkies en skoolhemde in die oond warm gemaak. Warmwatersakke gemaak vir hul skote.

Naweke het ek moeite gemaak met kerriehoender, soetpatats en rolpoeding. En as dit reën op ons Bedford-huis se sinkdak, moes hulle lúister.

Wys net weer eens hoe die ingewortelde erwe van die vadere spontaan deurslaan. Watter kant toe ook al.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Menings  |  Winter  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.