Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Erla-Mari Diedericks: Dis nooit te laat nie . . .

Almal het Nuwejaarsvoornemens. Maar wat as jou jonger self jou voor stok kry oor jou lewe wat nie in rat is nie? vra Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Nou die aand droom ek dat ek terugloop in die wandelgange van tyd. Daar, in ’n hoekie waar die son nog skyn, vind ek myself.

Ek is 16 jaar oud en sit op my bed en lees.

“Hello,” sê ek.

Tiener-ek kyk op. Sy sien ’n ou vet vrou.

“Nee ek doen nie,” antwoord Tiener-ek. “Jy dink altyd namens my en dit maak my so gatvol.”

Verbaas kyk ek na haar. Ek het vergeet hoe voor op die wa ek was as tiener.

“En ek is bly jy is hier, want wat is jy besig om met my lewe aan te vang!”

Vir ’n oomblik wil ek uit die tienerkamer uithol. Die gesprek is glad nie besig om te verloop soos wat ek dit gevisualiseer het nie. Volgens die ghoeroes is ek veronderstel om terug te keer na my jonger self en haar gerus te stel dat alles reg uitgewerk het. En hier is sy besig om my uit te skel vir te vale.

“Ek weet nie wat met jou gebeur het nie, maar ek hou nie daarvan nie.”

Ek moet seker afgehaal lyk, want sy verander haar deuntjie so effens.

“Jy het van my drome laat waar word, though . . . thanks daarvoor! Ons is ’n joernalis! Dis awesome! En ons skryf boeke! Ek dink dis super cool.”

Ek frons.

“So hoekom is jy dan so vies vir my?”

Tiener-ek pruil haar mond. “Jy doen niks meer waarvan ek hou nie!”

Tiener-ek spring op van die bed en gooi haar arms in die lug.

“Wel, wat het van al die goed geword waarvan ek hou!”

“Soos wat?” vra ek. “Jy het dan nou net self gesê ek het al jou drome laat waar word.”

“Ja jy het, maar ek het nie meer fun nie.” Tiener-ek pruil haar mond. “Jy doen niks meer waarvan ek hou nie!”

“Soos wat?”

“Lees! Jy lees nie meer nie!”

“Ek lees! Waarvan praat jy!”

“Jy lees nonsens soos Facebook en tweets! Waar is die boeke wat ons kan laat droom! Wat ons laat dink!”

Sy het ’n punt beet.

“Jy luister nie meer musiek nie. Jy speel nie meer klavier nie, jy teken nie meer nie. Wat maak jy nou eintlik met jouself?”

Ek is stomgeslaan. My klavier staan nog in die huis, maar ek speel nooit nie. Musiek luister ek wel, maar gewoonlik wat maar op die radio is. Wat maak ek eintlik met myself?

“Jy is heeltyd op daai dating sites, dis wat jy doen!” sê sy. “Jy mors net jou tyd.”

“Jy is baie slim vir ’n tiener.”

“Ek was nog altyd baie slim, maar jy het dit vergeet. Jy het dom geword. Jy dink jy kan niks op jou eie doen nie.”

“Ag man, wat weet jy,” kap ek haar. “Jy is 16.”

“Moet dan nie met my praat nie, praat met jou twintigjarige self. Sy het baie om vir jou te sê. Glo my.”

Meteens is Tiener-ek weg. Ek is in ’n helderkleurige woonstel in Yeoville. Appelkooskleurige mure, maroenbanke en helder kelims skep ’n kunsinnige, pragtige vertrek. Groot vensters kyk uit oor Houghton. Ek het vergeet hoe mooi dit was.

Twintigs-ek lê op die bank en huil.

“Wat is fout?” vra ek.

“Ek wil weg uit Jo’burg. Ek soek ’n gewone lewe! Ek wil ’n kêrel hê, dalk selfs trou.”

Ek sit by haar op die bank.

“Wel, die goeie nuus is, ons trek oor ses maande, jy weet dit nog net nie. Jy gaan binnekort in die Kaap bly! Maar raai wat, jou demone trek saam. Die gevoel van eensaamheid. Die gevoel dat daar iemand êrens is wat jou heel gaan maak, trek saam.”

Wel, jy gaan eendag wel trou en die gevoel van leegheid gaan vervang word met ’n gevoel van teleurstelling.

“Nee! Wanneer gaan ek dan daarvan ontslae raak!”

“Wel, jy gaan eendag wel trou en die gevoel van leegheid gaan vervang word met ’n gevoel van teleurstelling.”

“Gaan dit dan nooit ophou nie?” vra Twintigs-ek.

“Dit kan ophou!” gil Tiener-ek wat intussen die vertrek ingestap het. “Kyk net hierdie cool flat! Maar jy waardeer dit nie! En as jy Kaap toe trek, wow, jou lewe daar was nice! Al die shows en die flieks en die bekendes wat jy ontmoet het! Alles waaroor ek nog altyd gedroom het.”

“Waarom is ons dan altyd ongelukkig?” vra ek.

“Omdat jy vergeet het van my. Die ewige kind wat in haarself glo. Die ene wat klavier speel en liedjies komponeer en sing met die haarborsel voor die spieël. Die kind wat boeke verslind en gedigte skryf en klere maak en die hele dag net skep en skep. Jy voed nie meer vir my nie. Ek is al byna dood.”

Ek is bly Tiener-ek sleep my nie na my getroude-ek of die veertigjarige-ek nie. Want ek wil nie eens hul klaagliedere hoor nie. Maar ek weet dit sal dieselfde wees: Jy het ons tyd gemors: Op mans en om die regte ding te doen en om ander mense se begeertes na te jaag.

En al die tyd het ek ons almal verwaarloos.

“Toemaar,” sê Tiener-ek. “Ek het goeie nuus vir jou: Dis nooit te laat nie.”

Voorspoedige Nuwe Jaar, en onthou: Dis nooit te laat nie.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.