Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Boom-mosaïek bied visie van heling, vernuwing

In die Basiliek van San Clemente in Rome is daar teen die halfkoepel bo die altaar ’n simboolryke 12de-eeuse mosaïek waarna dikwels verwys word as “Die boom van die lewe”. In die sentrum hiervan is Jesus aan die kruis, met Maria en Johannes aan weerskante. Wat dadelik opval is die welige struik aan die onderpunt van die kruis waaruit vrugbare lote in spiraalagtige vorme uitspruit. Dié lote en hul blomme en vrugte vul die grootste deel van die mosaïek. Onder is ’n Latynse inskripsie wat die kerk vergelyk met ’n wingerdplant wat floreer as dit in die kruis gewortel is.

Op die kruis self is daar 12 duiwe, wat die 12 apostels voorstel, gereed om die evangelieboodskap uit te dra. Tussen die lote vind ’n mens uitbeeldings van die alledaagse lewe in al sy verskeidenheid en volheid. Daar is byvoorbeeld monnike en teoloë, adellikes en werkers, engele en gode. Iewers gee ’n vrou hoenders kos. Talle voëls is ook te siene.

Die geheelindruk wat die mosaïek laat is een van groenheid, groeikrag en beweging. Dit is asof die kruis wyd sywaarts uitgroei en eintlik die hele skepping omvou. Maar die kosmiese reikwydte van die kruis strek ook opwaarts na die hand van die Vader wat ’n oorwinningskroon aangee, met bo dit die opgestane Christus in heerlikheid. En van benede die kruis as lewensboom vloei vier strome wat herinner aan die riviere in die tuin van Eden (Genesis 2). Twee bokkies drink hier water, wat weer die psalmdigter se woorde oproep: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God” (Psalm 42:2).

’n Mens kan jou nogal voorstel hoe kerkgangers, pelgrims en ander besoekers deur die eeue met hul vrese en versugtinge oor die altaar heen na hierdie mosaïek opgekyk het. En hoe die beeld van ’n nuwe en lowerryke Eden met die gepaardgaande boodskap van verlossing en oorvloedige lewe tot hulle kon spreek.

Die mosaïek van die kruis as die nuwe boom van die lewe herroep verder die verwysing in die laaste hoofstuk van die Bybel waar ons lees van die boom van die lewe wat aanhou vrugte dra en waarvan die blare genesing bring vir die nasies (Openbaring 22:2).

Iets van hierdie lewegewende visie kom ook na vore in versreëls van ’n lied deur die Britse gesangskrywer Brian Wren: “Christ is risen! Hush in wonder:/ all creation is amazed./ In the desert all-surrrounding,/ See, a spreading tree has grown./ Healing leaves of grace abounding/ Bring a taste of love unknown.” 

Meer oor:  Geestelike Waardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.