Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Bou ’n kultuur van herstel en bied só hoop

So ’n paar jaar gelede het daar op Stellenbosch ’n gesprek plaasgevind tussen Njabulo Ndebele en Homi Bhabha, albei gerekende denkers en skrywers. Hulle het gepraat oor “Humanity in Troubled Times,” met die sielkundige Pumla Gobodo-Madikizela.

Wat my van dié gesprek bygebly het, is ’n opmerking van Ndebele na aanleiding daarvan dat daar dikwels na dinge op ons kontinent as stukkend verwys word. Ndebele het egter aandag gevra vir die feit dat daar talle mense is wat, ondanks beperkte middele, met vindingrykheid en inisiatief goed regmaak. Sy vertellinge hieroor het my met die indruk gelaat hoe belangrik dit is om ’n kultuur van herstel te versterk.

Maar, sou ons kon vra, hoe lyk so ’n kultuur van herstel, so ’n etos van regmaak? En watter bronne sou ons kon benut uit ons kulturele en godsdienstige tradisies om aan ’n etiek, politiek en teologie van omvattende herstel gestalte te help gee?

Een van die teksgedeeltes in die Bybel wat in die lig van hierdie vrae oordink kan word, is Jesaja 58. Hier lees ons die woorde van ’n profeet wat waarskynlik gerig is aan ’n gemeenskap waarvan ’n groot deel ná amper vyf dekades van traumatiese ballingskap vol hoop en vreugde na Juda teruggekeer het. Maar terug in Jerusalem is hulle gekonfronteer met die harde werklikheid van vernietiging en verval. En daar is tekens dat daar in die samelewing groeiende verdeeldheid en ongelykheid op sosiale en ekonomiese gebied heers, met onderdrukking en korrupsie aan die orde van die dag.

In so ’n konteks spreek die profeet die volk aan met die boodskap dat die Here nie behae in hul godsdienstige rituele het as daar nie geregtigheid uitgeleef word nie. As daar nie brood gegee word vir diegene wat honger is nie. As daar nie blyplek aan die armes en dakloses verskaf word nie. Saam met hierdie aksent op die herstel van geregtigheid, bied die profeet ook ’n verdere toekomsvisie van herstel en vernuwing: “Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon” (vers 12).

Ons leef in ’n ander tyd en situasie as diegene aan wie hierdie belofte destyds gerig is, maar ’n hoopvolle visie kan ons ook vandag bemagtig om deel te neem aan die versterking van ’n kultuur van herstel. Of dalk is dit juis deur besig te wees met regmaak en doen wat reg is dat hoop ontspring.

Meer oor:  Herstel  |  God  |  Geestelike Waardes  |  Kultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.