Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Dié soort onthou is nodig om die verlede te oorleef

‘The past is not dead . . . it is not even sleeping,” skryf David Lowenthal in sy boek The Past is a Foreign Country. Dit is ’n sinspeling op William Faulkner se bekende woorde: “The past is not dead, it is not even past.”

Die punt van hierdie twee opmerkings is soortgelyk: Die verlede is nie bloot verlede tyd nie. Nee, dit speel op ’n komplekse en kragtige wyse in die hede mee. Dit verklaar en bepaal ons denke en optrede, ons vrese en verlangens.

Nou is dit sekerlik so dat ons dikwels voel dat ons juis nié aan die verlede herinner wil word nie, dat ons weens skaamte, skuld of trauma eerder sekere aspekte daarvan wil vergeet of uitblok.

Maar dit is uiteraard nie so eenvoudig nie. Nie net sielkundiges nie, maar ook ons eie ervaring bevestig dat die verlede nie so maklik hokgeslaan kan word nie. Dit verskyn dikwels ongenooid en onaangekondig in ons gedagtes en drome.

Iets van die aktiewe krag van die verlede word verwoord in Elizabeth Kostova se The Historian, ’n roman waarin ’n jong vrou haar donker familiegeskiedenis naspeur en spesifiek die verbintenis met die 15de eeuse bewind van Vlad die Deurboorder (in fiksie bekend as graaf Dracula).

Die inleidende nota aan die leser waarsku al: “As a historian, I have learned that, in fact, not every­one who reaches back into history can survive it. And it is not only reaching back that endangers us; sometimes history itself reaches inexorably forward for us with its shadowy claw.”

Dit is nogal ’n skrikwekkende gedagte dat die verlede só teenwoordig kan wees. Dit bevestig ook die belangrikheid, op persoonlike en kollektiewe vlak, om eerlik en verantwoordelik met die geheim en onreg van die geskiedenis te bly worstel.

Hierdie “onthou-werk” is sekerlik pynlik en is dan ook dikwels “treur-werk”. Maar die poging om die verlede reg en regverdig te onthou kan ook aanleiding gee tot onverwagse heling, tot onverdiende belewenisse van genade en tot verrassende nuwe verhoudinge en verbintenisse.

Die verlede is weliswaar nie dood nie, maar dit is ook weer nie noodwendig dodelik nie.

Teen hierdie agtergrond is daar vir my nogal heelwat sielkundige en geestelike insig in Charlie Brown se woorde aan Linus in een van die Peanuts-strokiesprente. Linus merk op dat dit seker verkeerd is om jou oor môre te bekommer en dat dit dalk beter is om eerder slegs aan vandag te dink.

Waarop Charlie Brown reageer: “No, that’s giving up . . . I’m still hoping­ that yesterday will get better.” 

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.