Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike waardes: Hoe lank sal die swaarkry en die onreg nog duur?

‘Hoe lank nog, Here?” In die Ou Testament lees ons telkemale dié vraag.

In Psalm 6, byvoorbeeld, sê die digter: “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voor U uitkoms gee?” En in Psalm 13 vind ons die volgende reeks uitroepe: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? . . . Hoe lank gaan U nog van my af wegkyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?”

Talle meer voorbeelde kan uit die Psalms uitgelig word wat deel vorm die sogenaamde usquequo-tekste (van die Latyn vir “hoe lank?”). Al hierdie tekste is gelaai met rou emosie; midde-in ervarings van pyn, moedeloosheid, woede en uitsigloosheid word ’n klag, en dikwels ook ’n aanklag, tot God gerig.

In die profetiese literatuur weerklink die klag oor onreg op ’n soortgelyke wyse. In die boek Habakuk lees ons dan ook: “Hoe lank moet ek nog om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek bly kla oor geweld voordat U red?” (1:2). En ’n hoofstuk later: “Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie . . . Hoe lank sal dit nog voortduur?” (2:6).

Gegewe die feit dat die vraag “Hoe lank nog, Here?” vandag nog steeds in situasies van swaarkry, siekte, onderdrukking en geweld na vore beur, kan ons onthou dat mense ook deur die eeue dit gewaag het om met profetiese visie en spraak op dié vraag te reageer.

In sy kommentaar op Habakuk 2:6 skryf Johannes Calvyn byvoorbeeld (en dit is woorde wat dikwels in die kerkstryd teen apartheid in Suid-Afrika aangehaal is): “Wanneer mense deur hulle ambisie en hebsug die wêreld versteur, en die onskuldiges laat ly, roep almal uit: ‘Hoe lank nog?’ En hierdie uitroep word volledig en duidelik deur die Here gehoor.” Calvyn voeg selfs by: “Dit is asof God homself hoor in die klag en krete van hulle wat nie meer ongeregtigheid kan verduur nie.”

Die Amerikaanse burgerregte-leier Martin Luther King het ook dikwels die vraag “Hoe lank nog, Here?” in sy toesprake opgeneem. Bekend is die einddeel van sy toespraak op 25 Maart 1965 in Montgomery, Alabama: “I know you are asking today, ‘How long will it take?’ . . . ‘How long will prejudice blind the visions of men’ . . . ‘How long will justice be crucified?’ . . . How long? Not long, be­cause ‘no lie can live forever’ . . . How long? Not long, because the arc of the moral universe is long, but it bends towards justice.”


Meer oor:  Onreg  |  Swaarkry  |  God  |  Geestelike Waardes  |  Rrv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.