Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Luister na bome se preke oor die ‘oerwet van lewe’

Die Duitse skrywer Herman Hesse begin sy meditasie “Bome” – opgeneem in sy bundel Wanderung: Aufzeichnungen (1920); in Engels vertaal as Wandering: Notes and Sketches – met die opmerking: “Bome was nog altyd vir my die mees indringende predikers.”

Baie sal by hierdie stelling van Hesse aansluiting kan vind en kan getuig hoe bome in bepaalde oomblikke op ’n diep vlak tot hulle gespreek het.

Dit is daarom te verstane dat bome so sterk as ’n tema in die kuns en die letterkunde funksioneer, asook as ’n simbool en voorwerp vir die geestelike lewe.

En in ons huidige seisoen kan bome se kleurgloed ons eweneens tot verwondering en nadenke stem, met die woorde van Boerneef wat gepas voel: “Die najaar is nou op sy herfsste / die bessieboom se rooi is hartvanrooi.”

Vir Hesse – wat ontsag toon vir bome wat digby mekaar in woude en boorde groei, maar meer nog vir alleenstaande bome – is bome heiligdomme. Diegene wat weet hoe om met bome te praat en na hulle te luister, beleef dan ook iets hiervan.

Wat bome preek, skryf Hesse, is nie voorskrifte nie, maar “die oerwet van die lewe”.

’n Boom verkondig: “In my is verborge ’n kern, ’n vonk, ’n gedagte: ek is lewe van ewige lewe. Die waagstuk wat die ewige moeder met my geneem het, is uniek . . . Ek leef die geheim van my saad tot die einde toe uit. Ek vertrou dat God in my is. Ek vertrou dat my taak heilig is. Uit hierdie vertroue leef ek.”

Ook as ons swaarkry en die eise van die lewe vir ons ondraaglik raak, kan bome vir ons sê: “Wees stil! Kyk na my! Die lewe is nie maklik nie; die lewe is nie moeilik nie . . . Jy is angstig omdat jou pad weg van moeder en huis lei. Maar elke tree lei jou terug na die moeder. Huis is nie hier of daar nie. Huis is in jou.”

Vir Hesse is bome kragtige predikers oor temas soos geborgenheid en tuiswees. En sy oordenking van meer as ’n eeu gelede kan steeds as uitnodiging dien om groter oplettendheid jeens bome aan die dag te lê.

In die lig van ons spesifieke omstandighede mag bome weliswaar vir ons iets anders “preek” as wat Hesse destyds ervaar het.

Of ons kan dalk ook tot ’n soortgelyke insig kom as die gedagte waarmee Hesse sy bepeinsing afsluit: “Wie geleer het om na bome te luister wil nie self ’n boom wees nie, maar begeer om niks anders te wees as wat hy of sy ís nie. Dit is huis. Dit is geluk.” 

Meer oor:  Geestelike Waardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.