Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Lydenstyd laat ons onthou liefde is sterker as mag

Dit is al beskryf as een van die mees onthullende tonele in die geskiedenis van die Christendom. Vroeg in die 13de eeu verskyn Giovanni (Franciskus) Bernardone, ’n jong man uit Assisi, voor die magtigste kerklike heerser van sy dag, Pous Innocentius III. Dié ontmoeting is ook later verbeeld deur die Florentynse skilder Giotto di Bondone (1267-1337). In Giotto se muurskildery val die kontraste sterk op. Regs sit die pous verhewe, geklee in ’n glansryke en weelderige klerikale kleed, met ’n aantal kardinale rondom hom. Voor hulle kniel Franciskus en die elf ander lede van sy nuut gestigte geestelike orde om deur die pous bevestig te word, geklee in hul eenvoudige bruin monnike-drag.

Die Noord-Amerikaanse teoloog Douglas John Hall skryf in sy boek The Cross in Our Context: Jesus and the Suffering World dat Giotto se uitbeelding van Franciskus en sy orde (met hul toewyding aan armoede en diens aan ander) voor Pous Innocentius III (een van die maglustigste Middeleeuse pouse) op sigbare wyse die kontras tussen ’n theologia gloriae en ’n theologia crucis belig.

Hierdie Latynse terme kan teruggevoer word na stellings van die Duitse kerkhervormer Martin Luther tydens ’n byeenkoms van sy Augustiniaanse orde in 1518 in Heidelberg. Volgens ’n theologia gloriae (“ ’n teologie van heerlikheid”) kan ’n mens as’t ware na die hemel opklim en die heerlikheid van God volledig deurskou en só ’n greep daarop kry. Dit lei dan maklik tot ’n triomfantlike houding van wéét – ’n houding wat gou oorslaan in magsmisbruik. Soos Hall dit interpreteer: “The theology of glory, in whatever guise it assumes, is invariably tempted to be a theology of sight, not faith; finality, not hope; and power, not love.”

’n Theologia crucis (“ ’n teologie van die kruis”), daarteenoor, gaan uit van die oortuiging dat ons nie God kan ken los van God se selfonthulling in die gekruisigde Christus nie. Ons kan alleen verstaan wie God is, en wat God van ons vra, as ons deur die lens van die lyding en kruis van Christus kyk. Slegs dan kan ons dinge sien vir wat dit werklik is, aldus Luther.

In die kerklike jaar is dit tans Lydenstyd, die seisoen wat spesifiek fokus op Christus se lydensweg na die kruis. Dus ’n geskikte tyd om die kontraste te oordink soos verbeeld in Giotto se skildery en uitgedruk in die onderskeiding tussen ’n teologie van heerlikheid en ’n teologie van die kruis. En oor wat dit onthul aangaande dit wat rondom ons in die kerk en die samelewing afspeel. Asook in ons eie harte. 

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Liefde  |  Mag  |  Rrv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.