Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Profeet Jeremia se visie voorsien ’n ryker sosiale lewe

Heelwat mense het die afgelope maande die ontwrigting beleef dat troues of ander fees­geleenthede weens die pandemie uitgestel is, of op ’n aangepaste wyse gevier moes word. Die verstaanbare beperkinge ten opsigte van begrafnisse en gedenkgeleenthede het ook baie van ons met die versugting gelaat dat ons graag anders aan ons hartseer, herinneringe en meelewing sou wou uiting gee – dalk met meer persoonlike kontak, aanraking en samesyn.

Jeremia se profetiese visie antisipeer ’n ryker en hernude sosiale lewe.

In sy Virus as a Summons to Faith: Biblical Reflections in A Time of Loss, Grief and Uncertainty (2020) fokus die Amerikaanse Ou-Testamentikus Walter Brueggemann in een van die hoofstukke op die boek Jeremia, en spesifiek op hoe die profeet tydens ’n ramptoestand in antieke Jerusalem drie keer praat van bruilofte wat nie sal plaasvind nie. In Jeremia 7:34, byvoorbeeld, bring die profeet ’n verskriklike woord van die Here: “Ek sal in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem die geluid van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid uitdoof, want die land sal ’n puinhoop word” (2020-vertaling). En in Jeremia 16 lees ons naas die uitspraak dat die stemme van die bruidegom en bruid uitgedoof sal word (vers 9), ook dat mense nie eens begrawe sal word nie. Met geen rougeleenthede en begrafnismaaltye nie (vers 5). In Jeremia 25:10 lees ons eweneens die oordeelswoord dat die klank van vrolikheid sal verdwyn, asook die stemme van die bruidegom en bruid.

Wat Brueggemann verder in sy bespreking uitwys, is dat die profeet – buiten die drie bogenoemde tekste – ook ’n vierde keer na “die stem van die bruidegom en die stem van die bruid” verwys. Hierdie keer kom die profetiese woord egter binne die konteks van ’n boodskap van belofte en hoop. In die verwoeste, vervalle en verlate dorpe van Juda en strate van Jerusalem sal weer gehoor word: “die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van die bruidegom en bruid” (Jeremia 33:10, 11). Ook stemme van lof en dank aan die Here sal weer opklink, want die Here sal die lot van die land verander. Soos Brueggemann dit stel: “Life will resume in its rich social thickness.”

Jeremia se profetiese visie antisipeer ’n ryker en hernude sosiale lewe. Om te glo dat die lewe weer só kan wees, ook in ons dag, verg geloof en geduld. Daar is immers heelwat kontra-getuienis. En totdat hierdie visie in die toekoms gestalte kry, is wat Brueggemann oor Jeremia sê ook ’n uitnodiging vir óns: “In the meantime, he waited with truth-telling, honesty and courage.” 

Meer oor:  Geestelike Waardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.