Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike waardes: Soms dien ’n hele dorp se optrede as morele kompas

Soms gebeur dit dat dit nie bloot individue is wat heldhaftig optree of as morele voorbeelde dien nie, maar ’n hele dorp of gemeenskap. ’n Voorbeeld van ’n gemeenskap waarvan dit nié gesê kan word nie, is die fiktiewe dorpie Dogville, soos verbeeld in die Deense regisseur Lars von Trier se vreemde maar briljante gelyknamige rolprent.

Dogville (2003) vertel die verhaal van ’n onherbergsame gemeenskap wat wel aanvanklik aan ’n voortvlugtige genaamd Grace (vertolk deur Nicole Kidman) skuiling verleen, maar met verloop van tyd haar op ’n ongenaakbare wyse misken, uitbuit en mishandel. Die rolprent eindig met ’n radikale oordeel wat oor die ongasvrye dorp en sy mense voltrek word.

As ’n historiese kontras tot die gemeenskap in Von Trier se rolprent, kan gedink word aan die optrede van die inwoners van die dorpie Le Chambon-sur-Lignon en omstreke tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dié hoofsaaklik Hugenote-gemeenskap in die suide van Frankryk het tussen 1940 en 1944 skuiling gebied aan meer as 5 000 mense wat Nazi-vervolging probeer ontvlug het, waaronder 3 500 Jode. Die Protestantse predikant André Trochmé en sy vrou, Magda, het hierin ’n groot rol gespeel, maar eintlik het die hele gemeenskap saamgewerk om asiel en ondersteuning te bied, ten spyte van die gevare daaraan verbonde. In 1990 is Le Chambon as dorp in sy geheel dan ook deur die Joodse volksmoord-museum Yad Vashem vir die merkwaardige hulpverlening aan Jode vereer.

Vroeër vanjaar was Le Chambon weer in die nuus nadat dit bekend geword het dat Erich Schwam, ’n Oostenryks gebore Jood, ’n beraamde bedrag van 2 miljoen uit sy boedel aan die dorp bemaak het. Hy het saam met sy ouers in 1943 as vlugteling in die bergagtige gebied aangekom, en die erflating betuig sy dankbaarheid vir die wyse waarop die dorp hulle verwelkom en help vestig het.

’n Mens kan nogal wonder wat gemaak het dat die mense van Le Chambon destyds so anders as byvoorbeeld die gemeenskap in Dogville opgetree het. En skynbaar nog steeds doen. Dalk omdat die herinnering oor die jare heen lewend gehou is dat hulle as Hugenote-vlugtelinge eeue gelede self aan vervolging blootgestel is? Wat ook al die rede, te midde van die bedreiging wat nuwe vorme van afsydigheid, stereotipering en uitsluiting in ons dag vir ons lewe saam bied, kan die gasvrye etos van Le Chambon steeds gemeenskappe inspireer en uitdaag. Soos ook die woorde wat in klip bo die ingang van die eeue oue Protestantse kerkie in die dorp gegraveer is: Aimez-vous les uns les autres (“Julle moet mekaar liefhê”). – RRV

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.