Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geestelike Waardes: Verskeidenheid en vreemdheid bied jou geen alibi nie

In studies oor die kerk en apartheid word dikwels daarop gewys dat die verhaal van die toring van Babel (Genesis 11:1-9) die teksgedeelte is wat die meeste aangehaal is om apartheid vanuit die Bybel te probeer regverdig. Volgens hierdie manier van Skrifuitleg was dit deel van God se wil dat mense ná die vloed in verskillende nasies en tale verdeel is. Maar by Babel het die toringbouers probeer om die eenheid en homogeniteit van die mensdom te bewaar. God het egter ingegryp, en deur ’n bewuste daad van taalverwarring is God se heilsplan voltrek deur mense te verdeel en te versprei.

Hierdie daad kan as ’n vloek gesien word, maar die verdedigers van apartheid het dit ook as ’n ryke seëning beskou om die sonde te beteuel en orde in die onderskeie volksgemeenskappe te handhaaf. By Babel, so lui die argument, het dit duidelik geword dat skeidinge deel van God se genadewil is.

Die taalverwarring en geskeidenheid ná Babel is dus as heilsaam beskou. Wat kritici en ontleders van hierdie soort van uitleg verder uitwys, is dat die realiteit in apartheid Suid-Afrika in feite nie ’n “ná-Babelse” situasie was nie, maar eerder ’n “Babelse” een, georden deur die maghebbers. En dat die werklike uitdagings van ’n lewe ná Babel, met die verdelings wat dit impliseer, eintlik eers later regtig na vore sou tree.

In ’n Pinksterpreek – wat deel vorm van sy artikel “The Church as God’s New Language” – merk die Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas na aanleiding van die spraakverwarring by Babel op dat die gepaardgaande skeidinge die geleentheid gebied het om met andersheid in die reine te probeer kom. Maar ons ouers by Babel, skryf Hauerwas, “used their separateness as a club, hoping to force all peoples to speak their tribe’s language.”

Die negatiewe uitwerking van hierdie soort geslote identiteitsdenke en taal-imperialisme is bekend. Gelukkig is daar darem ook stemme wat pleit vir wat die filosoof Paul Ricoeur “linguistiese gasvryheid” noem. Hiervolgens word vreemdheid en verskeidenheid nie as alibi vir geskeidenheid en eng stam-denke gesien nie, maar as uitnodiging en opdrag om te vertaal! Dit vorm deel van die begeerte na verbintenis en gemeenskap.

’n Gereformeerde belydenis wat in die 1980’s in stryd teen apartheid ontstaan het, die Belydenis van Belhar, verwoord iets van hierdie visie in teologiese taal só: “Ons glo . . . dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is vir wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God.”

Meer oor:  Kerk  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.