Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geloof moet júís windop teen norm ingaan

Wanneer dit lyk of korrupsie en magsmisbruik die oorhand kry, moet jy juis teen die wind in beur, skryf Nelis Janse van Rensburg.

Dr. Nelis Janse van Rensburg.Foto: Nelius Rademan

Almal ken die storie oor die Joodse oom wat oor die kerk se biddag vir reën gesê het: “Julle kan traai, maar die wind waai noord.”

Vir baie mense is dit die praktiese waarheid van hul bestaan – dat jy nie van God of enigeen kan verwag om dinge na jou sin te laat gebeur as alles in ’n ander rigting dui nie.

Maar is dit nie juis wat geloof aan ’n mens doen nie? Dat jy bly hoop teen alle aanduidings, smag teen alle waarskynlikhede en droom teen alle oorwegings in nie?

Van die begin af was die kerk ’n teenkulturele beweging. Dit koester verwagtinge teen die wind in en lewer so sy beste resultate.

Dit is immers wat Jesus gedoen het. Teen die kragte van die samelewing van sy tyd in, breek hy deur die verontmensliking van die Joodse wetlike tirannie, man alleen, teen die heersende wind in, stroomop teen reinheidswette en Sabbatsreëls in raak Hy mense aan en ontsluit Hy nuwe werklikhede, teen verslaande drome in.

Meer gedeelde waarheid

Dit is dus in die kerklike DNS om teen-kultureel te wees, dwars op die gang van die wêreld. Daarvan het ek die afgelope tyd vele ervarings gehad, in groot en klein kontekste.

Destyds in Wittenberg het Martin Luther kontrakultureel die gesag van die Pous uitgedaag en ’n hele beweging windop aan die gang gesit. En vanjaar 500 jaar later kom die grootste kerklike tradisies van die wêreld sowaar totaal windop en maak ’n massiewe beweging na mekaar toe. Teen Brexit en Trump se eenkant-toe-onttrekking aan die nasies, teen die verdelende en polariserende kragte wat in die wêreld heers, versoen die kerklike strome soos nog nooit vantevore nie.

Terwyl die kultuur neig na vergryp en misbruik, stuur die kerk in die teenoorgestelde rigting van verantwoordbaarheid en omgee.

In Wittenberg verklaar die Rooms Katolieke Kerk en die Metodiste, die Lutherane en die Gereformeerdes van die wêreld dat hulle dit eens is oor kernaspekte van die evangelie en verder op reis met mekaar sal gaan op soek na meer gedeelde waarheid en groter gestaltes van eenheid. En die pous skryf ’n brief waarin hy sy steun toesê aan die gedeelde gevonde waarheid oor ons redding, enkel alleen uit genade. Kan jy glo? Net toe dit wou lyk of alles uitmekaar wil spat.

Ek sien dit ook in Suid-Afrika – hoe die kerke nou mekaar se hande neem en windop loop. Hulle loop parlement toe, hulle loop Uniegebou toe. Hulle getuig van ’n ander lewe as korrupsie en oneerlikheid.

Terwyl die kultuur neig na vergryp en misbruik, stuur die kerk in die teenoorgestelde rigting van verantwoordbaarheid en omgee. Terwyl die kragte van die samelewing verdeel en heers, is die kerk se beweging na versoening en diens.

Windop na ’n beter toekoms

In talle gemeenskappe landswyd maak die teenkulturele beweging van die kerk ’n buitengewone indruk. Kerke en plaaslike owerhede vat hande. Gemeentes en vuisvoos polisiekantore begin ’n pad saam loop. Die aangrypendste verhale ontvou.

Ek hoor van ’n veearts in die Karoo wat ’n gratis kliniek aanbied vir ’n dorp se verwaarloosde diere. Die honde word geënt en gesteriliseer. Die gemeenskap vat hande en versorg hulle diere. En dit het begin by een welwillende mens.

Gelowiges het eenvoudig in al hierdie en talle ander plekke hande gevat en windop na ’n beter toekoms gebeur.

In ’n ander dorp is die hoofstraat se geboue almal geverf. Al die families in die dorp moes hulle familiewapens bring en dié wat nie gehad het nie, het ’n nuwe wapen gekry. Al die familiewapens van al die dorp se mense is toe in die hoofstraat aan die pale aangebring om almal se eienaarskap van die dorp te bevestig. Ou klowe is oorgesteek. Mense se waardigheid is herstel.

In ’n ander dorp het die kerkmense die taximense betrek by die beveiliging van hulle plek.

Gelowiges het eenvoudig in al hierdie en talle ander plekke hande gevat en windop na ’n beter toekoms gebeur.

Een van die mooiste gesigte

Nadat wind en vuur verwoesting gesaai het in die gemeenskappe van Knysna en Plettenbergbaai, was dit ’n openbaring om die welwillendheid van mense vanoor die hele land te sien. Ongelooflik!

Die kerke kon amper nie voorbly om al die welwillendheid te ontvang en te versprei nie. Hulle het hande gevat met die owerhede en ’n nuwe wind laat waai van sorg en omgee wat dalk op plekke blywender gevolge kan hê as die skade van die ramp.

Dit bly vir my een van die mooiste gesigte wanneer branderplankryers wind in beur en juis die aankomende wind gebruik om vorentoe te skiet.

In tye van skaarste was die ondersteuning en hulp omvattend en mildelik.

Dit wil lyk of die wind in Suid-Afrika noord waai. Dit wil lyk of korrupsie en roekelose magsmisbruik nog lank met ons gaan wees. Dit wil ook lyk of verdeeldheid en haat die oorhand kry.

Die waarheid is egter dat die teenkulturele kragte van ons samelewing nie onderskat moet word nie.

Dit bly vir my een van die mooiste gesigte wanneer branderplankryers wind in beur en juis die aankomende wind gebruik om vorentoe te skiet.

Gelowiges wat nou teen die groot Wind inbeur, sal op ongekende maniere ontdek dat daar nuwe geleenthede wink om op ’n teenkulturele vaart betekenis te ontsluit soos selde vantevore.

* Dr. Janse van Rensburg is die moderator van die NG Kerk.

Meer oor:  Ng Kerk  |  Nelis Janse Van Rensburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.