Sosiale geregtigheid is belangrik in ons dag. Dit is ook reg so. Baie onregte is in die verlede gepleeg teenoor sekere groepe en individue in ons land. Sosiale geregtigheid mag egter nooit vasval in ’n slagoffer-mentaliteit nie.
As sulke soort geregtigheid ter sprake is, word geen boek op gesonde maniere toegemaak nie. Geen vrede van die hart word dan gesluit nie. Die voorwaardes vir geregtigheid word dan liefdeloos hoog, want mense se seerkry verander in wapens.
Geregtigheid moet altyd met genade gemeng word. Nee, mense se seerkry-verlede mag nooit onder die mat ingevee of geïgnoreer word nie. Dit mag egter ook nie gebruik word as aanvalswapens nie. Ons moet leer dat die roete van Christus vra dat ons onreg moet verdra. Jesus self is ons voorbeeld hier, soos wat 1 Petrus 2:21 sê.
Hy het nie tot elke prys op sy hemelse regte gestaan of vergelding gesoek vir die onregte wat Hom aangedoen is nie. Ons moet ook nie wanneer ons versoening najaag nie.