Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Geregtigheid en solidariteit vra dié soort nabyheid

As ons reg oor geregtigheid wil praat, moet ons begin by mense se konkrete ervarings van verontregting.

Die Gereformeerde filosoof Nicholas Wolterstorff het dié gedagte in talle publikasies oor dekades heen onderstreep, onder meer in sy Justice: Rights and Wrongs (2008) en Journey toward Justice: Person­al Encounters in the Global South (2013).

Wolterstorff se punt is dat wanneer ons nie die roep van die slagoffers van onreg kan hoor of daarop ag gee nie ons maklik verlei word om te dink dat sekere mensonterende optredes of stelsels eintlik nie so erg is nie. Ook die gesprek oor menseregte (“human rights”) moet volgens hom met die erkenning van “human wrongs” begin.

Hierdie fokus wat die partikuliere pyn van die verontregtes en lydendes as uitgangspunt neem, het betrekking op baie van die gesprekke waarmee ons vandag goed vertroud is.

“Black lives matter,” weerklink die kreet. Waarop baie reageer: “Alle lewens maak saak.” “Stop plaasmoorde,” pleit die familie en vriende van die slagoffers. Waarop die haastige reaksie van sommige volg: “Alle geweld moet veroordeel word.” “Beëindig die geweld teen vroue,” word daar geprotesteer ná die hoeveelste verkragting of insident van huishoudelike geweld. Wat sommige noop om gou te wil byvoeg: “Maar mans is ook slagoffers.”

’n Gereformeerde geloofsbelydenis wat in die 1980’s in die konteks van apartheid ontstaan het, bely dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is.” Wat sommige dadelik laat protesteer: “Maar God is tog ook die God van die rykes en bevoorregtes.”

Ja, daar is waarheid daarin dat alle lewens saak maak, dat alle geweld veroordeel moet word en dat God die God van alle mense is. Maar wat hierdie algemene waarhede soveel emosionele reaksie by verontregtes en slagoffers laat ontlok, is waarskynlik die gevoel dat die haastige uitspreek daarvan juis die eiesoortigheid van húl pyn en menswees ontken. Dit kommunikeer vir diegene met seer dat jy ver van hulle af is. Geregtigheid en solidariteit, kan ons sê, werk nie met afstandsbeheer nie. Dit vra vir die nabyheid van liggaam en hart.

Nadat sy seun in ’n bergklimongeluk dood is, het Wolterstorff Lament for a Son (1987) geskryf. Hierin merk hy op dat dié wat vanaf ’n afstand wil troos met algemeenhede nie vir hom in sy rou help nie.

“What I need from you,” skryf hy, “is that you recognize how painful it is. To comfort me, you have to come close. Come sit beside me on my mourning bench.” – RRV

Meer oor:  Geestelike Waardes  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.