Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Gesukkel in SA laat kop Mars se kant toe staan

Nou ja, hier’s Kersfeesmaand! Sommer net so.

Blouwillem
Blouwillem

Almal laat karre diens, woonwaens en sleepwaens se wheel bearings nasien en probeer strandsambrele wat laasjaar deur die Suidooster verkeerde kant toe gebuig is op ’n manier met bloudraad en cable ties regmaak.

Terloops, die ouens wat al in die geskiedenis ’n gebreekte sambreel kon red, is waarskynlik dieselfde ouens wat nou ’n tuig op Mars laat land het. ’n Ingenieursprestasie as daar al ooit een was (ek praat nou van die sambrele).

Intussen trippel die speenvarkies en kalkoene benoud rond en begin solank van geliefdes afskeid neem, Boney M. dawer deur die winkelsentrums (ook genoem ’n mall, want jy moet mall wees om soontoe te gaan) en Sondae sing ons Koos Doep se “Somerkersfees”.

O ja, en moenie daaraan dink om nóú eers ’n Kerskaartjie te pos nie. Met ons posstelsel (of dalk possteelsel?) in ’n toestand het Dik Daan die afgelope week vir sy twee kleinseuns van nege en ses jaar oud klere gestuur vir elf en agt jaar oue seuntjies, want hy het uitgewerk dat die pakkie darem oor twee jaar in Zürich behoort aan te kom as alles volgens plan verloop. Hy het op dié briljante idee gekom nadat ou Carel Wollies vir hom sý droewe Kerskaartverhaal vertel het.

Carel vertel dat hy en Lydia weer hierdie jaar soos altyd ’n stuk of 120 Kerskaarte in die pos gegooi het (praat van ’n rotsvaste geloof!).

Twee dae later kry hy ’n kaartjie onafgelewer terug, maar besef dat hy nie hierdie jaar vir dié betrokke vriend ’n kaartjie gestuur het nie. By nader ondersoek sien hy dat dié kaartjie in November 2016 gepos is.

Maar vir veiligheid het ek solank twee jaar gelede se kaart daar opgehang.

“Wel, ten minste weet ons nou dat die terugposstelsel werk, al is dit twee jaar laat,” reken hy. Ja, ou Carel, ek sit nou maar bedags met my verkyker op die stoep en wag vir die posbeampte wat hopelik op sy pos sal wees en ons het klaar weer die tou gespan waaraan ons ons jaarlikse, hooggewaardeerde kaart sal hang. Maar vir veiligheid het ek solank twee jaar gelede se kaart daar opgehang.

En terwyl die Yanks met die hulp van twee briljante Suid-Afrikaners, Elon Musk en Japie van Zyl, op Mars land, sukkel ons nog om die rioolstelsel­ in Koppies te laat werk en moet ons nog elektrisiteit ontdek, 136 jaar nadat Thomas Edison met die gloeilamp lig na die wêreld gebring het.

Ja-nee, ons is mos terug in die Middeleeue met beurtkrag weer in sy hoeveelste fase. Toe die krag wéér Vrydagaand groet, soek ek vergeefs in die donker na vuurhoutjies in die kruideniers-kas om te kan braai, vat net ’n gloeilamp raak, klim in die kar en gaan eet uit.

Op die hoek van Lynnwoodweg en January Masilela-rylaan staan ’n tou karre by ’n donker verkeerslig.

Toe ek uiteindelik voor kom, het die straat se naam verander na February Masilela-staanlaan. Jaaa, swaer, Mars toe, sê jy?!

Meer oor:  Blouwillem  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.