Ons is almal opgeskeep met stereotipes: eensydige idees oor mense wat anders is as onsself. Wanneer ons dan individue van ’n ander groep raakloop, veronderstel ons hulle moet optree soos ons stereotipiese idees oor hul gedrag, taal of gebruike. Stereotipes is gevaarlik.
As ons dit nie vasvat nie, verander dit gou in vooroordele wat ons haatdraend kan maak teenoor mense wat “anders” is as ons. Hoe gemaak? As navolgers van die Here weet ons alle mense is geskep na God se beeld.
Ons weet Christus het al die vernederende grense tussen mense, soos status en etnisiteit, afgebreek. So skryf Paulus onder meer in Kolossense 3. Wel, as ons dit weet, dan durf ons nie aan sulke vooroordele gratis stoorplek gee in ons lewe nie. So eenvoudig soos dit en so uitdagend soos dit.