Jy ken dit. Ek praat van daardie kyk! Of soos wat die Engelse dit noem: “The look!” Dit is wanneer iemand jou middeldeurkyk. Of jou stukkend kyk. Of jou vuil kyk. Of jou aanstaar. Of jou op-en-af kyk.
Die groot Franse filosoof Jean-Paul Sartre het gesê sulke kyke bring ’n diep verleentheid, “ ’n skaamtegevoel,” oor jou.
Jy weet sulke kyke beoordeel en weeg jou. Jy voel of jy wil weghardloop.
Daarom is ek my pa altyd dankbaar wat vir my ’n groot waarheid geleer het doer in my kinderdae. Hy het aan my gesê ons gaan nie kerk toe om mense uit te kyk nie, maar sodat God ons kan uitkyk.
Dit is Spreuke se soort wys-heid hierdie.
In dieselfde asem is ek die Here ewig dankbaar dat Hy sy manier van kyk na ons as sy kinders verander het.
Ja, daar was ’n tyd toe Hy al wat ’n sonde is, raakgesien het. Dit het sy hart gebreek. So vertel Genesis 6:5.
Maar God het intussen baie duur betaal om weg te kyk. Hy het alles opgeoffer om vars te sien. Ek verwys na Jesus se kruis. Dit het God se visie verander. Hy kyk nou permanent daardeur na sy mense. Daarom is God se kyk sag.
Ons benodig sy soort kyk. Genadiglik het Jesus hemelse oogsalf beskikbaar vir ons (Openbaring 3:20).
Dit is verniet.
Gebruik dit elke dag, dan wen “die kyk” nie in jou lewe nie.