Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
God se insluitende partydigheid bring heil vir ons almal

Artikel 3 van die Belydenis van Belhar was aanvanklik omstrede weens hierdie formulering: “In ’n wêreld vol onreg en vyandskap is God op besondere wyse die God van die noodlydendes, armes en veronregtes.” Een van die besware hierteen is dat dit God skets as die God wat kies teen sommige mense.

Enkele gesigspunte help egter om dié wanopvatting uit die weg te ruim. Die Suid-Afrikaanse teoloog John de Gruchy redeneer in sy Liberating Reformed Theology dat God altyd werk van die spesifieke na die algemene. Vanuit God se vereenselwiging met armes, noodlydendes en veronregtes, kies God vir álle mense.

Die Peruviaanse bevrydingsteoloog Gustavo Gutiérrez redeneer in sy klassieke Theology of Liberation dat God se keuse vir noodlydendes ’n primêre keuse is, maar nie ’n uitsluitende keuse nie. Waar daar dus van die voorrang van noodlydendes sprake is, word bevoorregtes nie uitgesluit nie. Die ervaringe van noodlydende mense moet weliswaar nie uitsluitende aandag geniet nie, maar tog wel primêre aandag.

In sy Faith Seeking Understanding bespreek die Amerikaanse teoloog Daniel Migliore die belydenis van die katolisiteit en universaliteit, volheid en heelheid van die kerk. Hy verduidelik dat die universele insluitendheid van die kerk nie ’n verswelging van spesifiekheid en voorrang impliseer nie. Katolisiteit kry gestalte in spesifiekheid, in God se aandag aan spesifieke mense se spesifieke nood. Katolisiteit kom ook tot uitdrukking in God se voorkeur-aandag aan noodlydendes.

Ons skenk voorkeuraandag aan vroue wat onderdruk, verontmenslik, verkrag en vernietig word, sodat vroue en álle mense uiteindelik bevry kan word van geslagsgeweld.

Migliore voer verder aan dat die spesifiekheid en die voorkeuraandag aan noodlydendes geskied met die oog op die welwees van die geheel.

As hierdie voorkeuraandag aan die spesifieke nie met die oog op almal se welstand funksioneer nie, word dit ’n politieke en ideologiese instrument van tweedrag en verdeeldheid, uitsluiting en onheil.

Hierdie teologiese insigte help ons dalk. Ons skenk voorkeuraandag aan vroue wat onderdruk, verontmenslik, verkrag en vernietig word, sodat vroue en álle mense uiteindelik bevry kan word van geslagsgeweld en alle ander vorme van geweld.

Ons skenk voorkeuraandag aan mense van alle agtergronde wat op plase vermoor word sodat álle ruimtes uiteindelik veilige habitatte kan wees.

Ons skenk voorkeuraandag aan mense wat daagliks sterf aan honger en armoede sodat álle mense uiteindelik met noodsaaklike lewensmiddele kan leef.

Ons skenk voorkeuraandag aan mense van alle agtergronde wat op plase vermoor word sodat álle ruimtes uiteindelik veilige habitatte kan wees.

Ons skenk voorkeuraandag aan mense wie se lewens elke dag deur bendes bedreig word sodat álle mense in veilige woonbuurte kan leef.

Ons skenk voorkeuraandag aan swart mense wat oor die wêreld heen en oor eeue heen daagliks onderdrukking en vernedering, diskriminasie en uitwissing ervaar sodat álmal uiteindelik vry kan wees van rassisme en ander vorme van verontmensliking.

Konstruktiewe Black Lives Matter-inisiatiewe wil juis hierdie voorkeuraandag beklemtoon ter wille van die skep van ’n wêreld waar álle lewe saak maak.

Die bevryding van die spesifieke baan die weg vir die bevryding van die geheel. God se insluitende partydigheid bring heil vir almal.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Geloof  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.