Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Goedkoop fone en emosionele busse meng nie

Engels, het die lewe my geleer, is ’n taal wat ’n mens nie sonder handskoene kan aanpak nie.

Die oumense van my kleintyd het hom maar verdraai en verbuig om met hul tande en tonge saam te werk. En dit was nog donkiejare voordat fonetiek deel van die skoolsillabus was.

Hoewel oorle Oupa altyd met die Ierse bloed in sy are gespog het, was hy ook maar nie ’n uitsondering wanneer dit by die praat van hierdie taal gekom het nie.

Vele aande het hy ons stories uit die Tweede Wêreldoorlog vertel. Ons kinders sou dan oopmond rondom hom koek en grootoog ons verbeelding vrye teuels gee.

Veral wanneer Oupa sou vertel hoe sy makkers in die loopgrawe hier bo-op hom te lande gekom het wanneer die bomme en mortiere sommer hier digby hulle ontplof het. Jare lank het ek gewonder watter nasie die “Jêrmans” nou eintlik was na wie Oupa altyd sou verwys. Eers in my laat laerskooldae het dit tot my deurgedring dat dit eintlik die Duitsers was wat Oupa sommer so uit Engels na Afrikaans verdraai het.

Ons het gereken dat as hy ’n perd op sy herrie kan gee, sou daar net ’n bloedkol oorbly as hy een van ons onder hande sou neem.

Dan was daar destyds nog op my geboortedorpie ook ’n onverskrokke en gevreesde polisieman met die van Paramore. Onder die grootmense van my tyd het hy as Pêremoer bekend gestaan.

Ons laaities het altyd wye draaie in die dorp om hom geloop. Want ons het gereken dat as hy ’n perd op sy herrie kan gee, sou daar net ’n bloedkol oorbly as hy een van ons onder hande sou neem. Maar dit nou daar gelaat.

’n Mens sou mos nou dink dat dinge met die aanbeweeg van die dekades verbeter en tonge vir dié taal meer geslyp geraak het. Tot ek nou anderdag ná ’n lang tyd weens die hemelhoë brandstofprys weer van openbare vervoer gebruik gemaak het.

In die romp van ’n halfvol luukse bus was ek net besig om vroegaand ewe gemaklik op die agterste sitplek in te sluimer toe ’n medepassasier in die sitplek voor my se selfoon lui. Skril en irriterend – kenmerkend van ’n goedkoop model.

Terwyl die ontvanger van die oproep praat, tel ek die frustrasie in sy stem op. Kort-kort druk hy sy een oor toe en buig sy bolyf tot op sy skoot om beter te kan hoor.

So tussen die gedreun van die bus se wiele op die teer weergalm ook enkele van die passasiers se gesnork deur die bus terwyl hy teen bogemiddelde spoed die kilometers opvreet.

Kort voor lank gee hy die stryd gewonne: “Sorry, my friend, I cannot hear you. I will call you back later. The bus is very emotional.”

Dis toe dat ekself ook emosioneel raak. Tot so ’n mate dat ek my getroue winterjassie oor my kop trek en my lag op dese agtersitplek met ’n hoesie verbloem.

Ja-nee, op ’n “emotional” bus kan jy nie ’n gesprek oor ’n goedkoop selfoon voer nie.

Meer oor:  Taal  |  Foon  |  Sielsgoed  |  Engels  |  Bus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.