Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Goeie hoop’ sal redding wees
Willie Spies

Dit was net nadat pres. Cyril Ramaphosa sy sogenaamde ekonomiese stimuluspakket aangekondig het dat ek die oproep ontvang het van ’n senior prokureurskollega wat reeds jare lank praktiseer en oor ’n tydperk van 40 jaar ’n goed gevestigde firma opgebou het en werk verskaf aan ’n hele klomp mense.

Die desperate oproep van die kollega was soos dié van iemand wat pas ’n doodstyding ontvang het. Hy vrees hoe hy sy personeel moet vergoed te midde van omstandighede waarin die staat oornag sy vermoë vernietig het om ’n inkomste te genereer. Die oproep sluit op ’n emosionele noot af.

Daardie aand het ek gehoor hoe ’n geharde prokureur met dekades se ondervinding in taai regstryde, onderhandeling en sakebestuur hartseer word en met ’n bewende stem totsiens sê.

In skerp teenstelling met dié desperate vriend se oproep lees ek daardie selfde aand die boodskappe in ’n Whats­App-groep vir oudparlementslede waarvan ek lid is. Verreweg die meeste groeplede is uiteraard ANC-mense.

Daardie aand het ANC-groeplede geswymel van bewondering vir Ramaphosa se leierskap.

Daardie aand het ANC-groeplede geswymel van bewondering vir Ramaphosa se leierskap. Die een beskryf hom as ’n God-gestuurde wat uitverkies is om die volk uiteindelik na die beloofde land van ’n herskikte “pro-armes”-ekonomie te lei. Hy word geloof vir sy keuse van “mense bo wins” en “sosialisme bo kapitalisme”.

Die kritiek teen die verlenging van die staat van inperking word tegelyk afgemaak as “die bekommernisse van wit mense” en die paniek van wit kapitaliste wat in ivoortorings skuil.

Dié twee gewaarwordinge op een aand het my intens bewus gemaak van die totaal strydige idee-gemeenskappe in die Suid-Afrikaanse bevolking.

Wat kos is vir die een, is gif vir die ander.

Die Saterdag ná die aankondiging van die geleidelike heraktivering van die ekonomie deur Ramaphosa het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma uitdrukkingloos voor TV-kameras die toespraak afgelees wat vlak 4-inperking verduidelik. Sy steun op Amilcar Cabral, bevrydingsleier van Guinee-Bissau, ’n piepklein Wes-Afrikaanse land wat in 1973 onafhanklik geword het.

Cabral was die vader van die revolusionêre strewe na “klasseselfdood”, wat beskou is as ’n noodsaaklike voorvereiste vir die volle bevryding van die werkersklas. Nodeloos om te sê, Guinee-Bissau is vandag, 47 jaar ná sy “bevryding”, een van die wêreld se armste lande, met 69% van die bevolking wat onder die bestaansminimum leef en 25% wat aan chroniese wanvoeding ly.

My prokureursvriend het ’n paar dae later weer gebel. Vol planne en geesdriftig. Toe ek uitvra waar sy moed vandaan kom, vertel hy van ’n TV-onderhoud met ’n filosoof wat hy gesien het. Die filosoof het genoem dekades se ondervinding van die swaarkry van die Groot Depressie en die twee wêreldoorloë het getoon diegene wat op die toekoms eerder as die hede en verlede fokus, staan ná die krisis sterker as diegene wat in die verlede bly leef of neerslagtig oor die hede geword het.

Hy noem toe dat die Christelike godsdiens se groei en oorlewing deur die eeue daaraan toegeskryf word dat dit in wese ’n filosofie van “goeie hoop” is.

Dit het hom so geïnspireer dat hy planne maak om ander te help om nuut te begin.

Watter van dié twee idee-gemeenskappe gaan bo uitkom in die maande en jare wat volg? Dié van Dlamini-Zuma se Amilcar Cabral van Guinee-Bissau of die “goeie hoop”-filosofie, waarmee elke Christen grootword?

Ek reken op laasgenoemde. Die hartseer prokureur wat weer bly geword het, bewys dit.

  • Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ingelyf.
Meer oor:  Willie Spies  |  Redding  |  Presidensie  |  Regering  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.