Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Groot John was nie ’n man van groot woorde
Bun Booyens

Kort nadat John van Reenen in 1975 die diskus-wêreldrekord op Coetzenburg verbeter het, het hy by ons skool op Stellenbosch kom praat.

Hy was ’n bekende figuur op die dorp. Wanneer ons smiddae by die dorp se swembad rondgelê het, kon ons kyk hoe hy op die sokkerveld langsaan oefen. “Hel, hy gooi daai diskus soos ’n frisbee,” het iemand gesê.

Groot John was gewoonlik op sy eie, anders as die baanatlete wat altyd in ’n troppie gedraf het en dan saam op die gras gesit en gesels het.

Ons kon nie wag om te hoor wat hy te sê het oor sy wêreldrekord en sy wedervaringe as student ’n paar jaar tevore in Amerika nie.

In Amerika vra die mense vrae wanneer jy kom praat. Is daar enige vrae?

Dié oggend het John saam met die onderwysers op die verhoog in die saal gaan sit, hy langs mnr. Shorty de Vries, ons landloopafrigter. John was ses-voet-agt, Shorty korter as vyf voet.

Eers moes ons deur die skriflesing en gebed sit, en toe die skoolhoof se vermanings trotseer: ’n Paar belhamels (“. . . julle kan maar uitkom, ons weet wie julle is”) het ’n paar jong boompies op die speelterrein se toppe geknak. Daarna was dit die sportuitslae, met veral mnr. Volschenk se tennisverslag wat gevoel het of dit langer as die wedstryde self duur.

Toe is dit John se beurt. Ou Shorty, wat kwalik bo die kateder uitgesteek het, het die mikrofoon ondertoe gebuig en “mnr. Van Reenen” aan die woord gestel.

John het stadig vorentoe gestap, die mikrofoon weer regop getrek, afgebuk om by te kom en gesê: “In Amerika vra die mense vrae wanneer jy kom praat. Is daar enige vrae?”

En daar het hy en die donkie roerloos bly staan totdat die gordyn weer gesak het. Nie ’n woord is gespreek nie.

Doodse stilte. ’n Saalbyeenkoms was nie ’n plek vir vrae vra nie. Seker vir ’n volle minuut het ons woordeloos net gesit en kyk hoe John daar voor met sy elmboog op die kateder leun.

Ná ’n ewigheid het John effens geglimlag, sy kop geknik en weer gaan sit.

Gelukkig het ons ’n paar weke later ’n tweede kans gekry om John te hoor praat. Die dramastudente het ’n Griekse komedie deur Aristo­fanes – Paddas, as ek reg onthou – in die plaaslike teater op die planke gebring . . . met John van Reenen in die rolverdeling!

Wat kon nou beter vermaak wees as ’n lekker comedy met John daarin. Ons het verwag dat hy soos Bud Spencer in die Trinity-flieks sou wees en minstens ’n paar ouens iewers deur ’n kroegdeur gooi.

Aristo­fanes se humor uit 400 v.C. het ons verbygegaan. Ons het nie ’n enkele grap gevang nie en net effe oorbluf in die skemerte bly wag vir John om te verskyn.

Uiteindelik het die oomblik aangebreek. Hy het met ’n mak donkie aan ’n leiband agter die gordyn uitgestap en heel agter op die verhoog gaan staan. En daar het hy en die donkie roerloos bly staan totdat die gordyn weer gesak het. Nie ’n woord is gespreek nie.

Meer as vier dekades later onthou ons Groot John vir sy waardige stiltes en ons groet hom met deernis en waardering.

Meer oor:  John Van Reenen  |  Bun Booyens  |  Groot John  |  Atletiek  |  Verhoogoptrede  |  Sielsgoed  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.