Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hallo, Eiervrug. Dis ek, Appelkosie!

Daar is meer as 1 800 emoji’s. Dis baie emosies, baie prentjies en baie geleenthede vir flirt, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Is jou lewe saai? Is dit sonder enige opwinding of romanse? Dan het ek een woord vir jou: Emoji’s!

Mense wat my ken, weet dat ek hou van kruisies. Ek plaas altyd drie kruisies ná ’n e-pos – xxx. Dit het my al in die moeilikheid gebring en verwarring veroorsaak. Want ’n kruisie beteken ’n soentjie. Kruisies is oudmodies en polities onkorrek, word ek gereeld meegedeel.

En nou dat jonger mans ook na ouer vroue vry, kom ’n mens gou agter dat hulle nie die vaagste benul het wat ’n xxx beteken nie. Want ons leef in die eeu van die emoji.

En ek haat emoji’s.

Ek verpes die goed, want dis te cute. En ek is nie die cute-tipe nie. Boonop is dit vir my meer moeite om ’n emoji te gaan haal, as om net eenvoudig drie lettertjies xxx te tik. Dalk is ek lui. Of dalk is ek net ’n koudbloedige vrou.

Volgens onlangse navorsing is mense wat emoji’s gebruik, warmer en meer lieftallig en kommunikeer hulle beter in verhoudings. Emoji-gebruikers staan ook ’n beter kans om seks te hê, want emoji’s kan gebruik word om mee te flirt.

Daar is meer as 1 800 emoji’s tot jou beskikking. Dis baie emosies, baie prentjies en baie geleenthede vir flirt. Voor emoji’s sou mense briewe skryf of oor die foon gesels. ’n Mens kan natuurlik emosies in ’n stemtoon lees en in ’n lang brief of e-pos is daar genoeg geleentheid om jou gevoelens te verduidelik. Sosiale media is egter ’n ander speletjie.

Daar het jy min tyd, min ruimte en kan dit irriterend wees om ellelange sinne te tik op ’n foon. Reeds in 1881 (ja, jy het reg gelees) het die redaksie van die tydskrif Puck besluit om emotikons te gebruik en daar was vier emosies: Geluk, hartseer, skok of verbasing en dan “indifference” of in Afrikaans vertaal as “ek voel boggeroll”.

Toe rekenaars die lig sien en mense begin kommunikeer op sogenaamde “message boards”, het dit weer nodig geword om emosies te kon wys omdat die lesers nie die verskil kon agterkom tussen ’n grap, sarkasme of ’n feit nie. Neem byvoorbeeld die sin: “Ek gaan jou doodsteek.” Een sin, vele interpretasies.

Scott Fahlman, ’n personeellid van die Carnegie Mellon-universiteit, het besluit om simbole te gebruik om emosies uit te beeld en hy het selfs lesers aangeraai om dit “sideways” te lees. Daar was twee simbole: vir ’n grappie was daar : ) en vir iets ernstigs : (

Dit was in 1982.

Daar mag nie verwarring wees oor waar jy jou broek mag aftrek en piepie in die openbaar nie.

In 1989 het Shigetaka Kurita, ’n ingenieur wat gewerk het vir die Japanse foonmaatskappy NTT Docomo, die emoji ontwerp as ’n manier waarop klante kon kommunikeer. Sy eerste stel het uit 176 emoji’s bestaan.

Die woord emoji is saamgestel uit twee Japanse woorde: “e” (prentjie) en “moji” karakter. Hy het sy inspirasie gekry van Chinese woordkarakters en die internasionale tekens vir toilette. Want as daar nou een teken is wat jy moet regkry, is dit die toilette se teken. Daar mag nie verwarring wees oor waar jy jou broek mag aftrek en piepie in die openbaar nie.

Genoeg van die geskiedenisles. Wat was dit nou weer oor emoji’s en seks?

Aaah. Foon-voorspel!

Emoji’s is perfek vir “sexting” en is handig in foonseks. Want dit word ook gebruik om seksdade uit te beeld. Die probleem is net, daar is nie sekssimbole nie, dus het die gebruikers kreatief geraak en alledaagse simbole begin gebruik - soos die eiervrug, en die appelkoos.

(Skok gesiggie.)

Dis nog die maklike gedeelte. Dan is daar ’n fortuinkoekie, vier vingers wyd uitmekaar, waterdruppels en ’n tong.

(Twee geskokte gesiggies!)

Teken maar jou eie prentjies in jou kop. Lees die Kama Sutra en dalk kom jy by die betekenis uit. Want ek mag dit nie hier in ’n gesinspublikasie vir jou uitspel nie.

Ek dink nog steeds emoji’s is laf. As dit kom by die liefdespel en liefde is dit vir my simplisties en/of kru. Want wat sou jy verkies? ’n Eiervrug of die volgende:

Ek is lief vir jou en wil jou asem in my nek voel, jou lippe teen my vel en jou hart kloppend teen myne. Sien jou vanaand . . . xxx.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Diedericks se boek Seks, leuens en die internet (Lapa) is nou landwyd op die rakke.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Internet  |  Seks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.