Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hand aan hand kan ons deur resessie kom
Donald Katts

Die nuus dat ons ekonomie in ’n tegniese resessie is, is nie net skokkend nie, maar laat ons al meer besef dat die armstes van die armes die swaarste getref gaan word.

Ons geld raak al minder werd en lewenskoste al duurder. In ’n onlangse tydskrifartikel oor die gee van tiendes lees ek dat gelowiges se bydraes aan die kerke ook afneem.

Dit is moeilike tye, en dit blyk dat nog swaarder tye voorlê.

Geweld, roof en moord, aanranding en skoolmeisies wat nou prooi is vir ontvoering en verkragting, verduister verder ons reeds donker vooruitsigte.

Dus word dit al nodiger dat ons saamstaan, maar veral moet opstaan vir mekaar.

Om na mekaar om te sien of om ’n naaste vir mekaar te wees, is ’n manier om lig te werp op ons sosiale verhoudinge en gemeenskaplike verbintenisse.

Die titel van The Hollies se “He Ain’t Heavy, He’s My Brother” (1969) kom van ’n storie wat James Wells in sy The Parables of Jesus (1884) vertel van ’n jong meisie wat haar groterige bababoetie gedra het. Toe iemand haar vra of sy nie moeg is, antwoord sy: “Nee, hy is nie swaar nie, hy’s my broer”.

Met ander woorde, ons moet mekaar help, ons moet teenwoordig wees by ander se pyn en ellende.

Dit is ook ’n Bybelse opdrag aan Christene om mekaar en mekaar se laste (soos bekommernisse, angste, siekte en langdurige lyding, gesukkel en of probleme van enige aard) te dra (Galasiërs 6:2).

Met ander woorde, ons moet mekaar help, ons moet teenwoordig wees by ander se pyn en ellende, ons moet mekaar ondersteun en ’n bron van hoop vir mekaar wees.

Só dra ons nie net mekaar nie, maar volgens Paulus vervul ons ook die wet van Christus. Christene is tog familie en Christene word broers en susters met die belydenis dat Jesus ons Verlosser is.

Geen Christen is ’n alleenkind nie, meen die Christelike skrywer Eugene Peterson. Dít is genoeg rede om mekaar se laste te help dra en mekaar te dra.

As Christene behoort ons nie net ander Christene te dra nie, maar ons moet alle mense, almal wat laste het, help om hul laste te dra. Met so baie Christene in ons land, is daar hoop as ons mekaar begin dra.

Ons kan die ekonomiese druk, asook alles wat daarmee gepaardgaan, verlig as ons bereid is om mekaar se laste te begin dra.

Almal van ons het in een of ander stadium iemand nodig – om na ons te luister, om raad te gee, ’n skouer om op te leun, of bloot net teenwoordig te wees. Baie het soms meer as dit nodig van ons.

Kom ons gee vlerke aan ons Christenskap en begin om ander se laste te help dra. Só vestig ons hoop, toon ons naasteliefde, dra ons by tot mense se menswaardigheid, en oorleef ons saam die ekonomiese resessie.

  • Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Sielsgoed  |  Resessie  |  Hulp  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.