Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Herinneringe se reuke bring vreugde

Elke reuk herinner hom aan ’n tydperk in sy lewe: van skooltyd se dieseldampe tot die kaneel in die speserywyn van sy studentedae, skryf Willem Fransman jr.

My nooi is in ’n nartjie,

my ouma in kaneel,

daar’s iemand . . . iemand in anys,

daar’s ’n vrou in elke geur!

Willem Fransman jr.

Die digter D.J. Opperman het die vrou in sy lewe, en die reuk wat hom aan haar herinner, jare gelede op die manier verwoord.

So kan elkeen van ons reuke of geure koppel aan een of ander gebeure uit ons verlede.

As kind onthou ek hoe ons soggens met ’n ou Dodge-bakkie van die plaasvoorman na die plaasskooltjie, die N.G. Sendingkerk Laerskool De Rust in Grabouw, geneem is.

Iewers op die roete, onthou ek, was daar ’n steil opdraande wat ons moes uit. Elke keer as die bakkie die voet van die heuweltjie vat, dan begin dit effens te kreun en dan het die dieseldampe agter in die bakkie se kappie versamel. Tot vandag toe, as ek die reuk van dieseldampe kry, dan dink ek aan die oggende toe ons probeer het om ons asem vir ’n rukkie op te hou sodat ons nie die dampe inasem nie.

Die sterk reuk van Sloan’s, ’n salf wat die spiere verslap, het dikwels in die kleedkamer in Avonwoodpark gehang net voordat ons vir ’n rugbywedstryd opgedraf het.

Vir my, wat nog al die jare ’n baie sensitiewe neus gehad het, was dié reuk verstikkend. Maar as ek aan kleedkamers dink, dan kom daardie reuk dadelik na vore.

My std. 2-juffrou, Hessie Botha, het na Vinolia-seep geruik, die een met die amandelreuk.

As ek vandag terugdink aan daardie tyd, dan reken ek dat ek eerder op daardie reuk as op die juffrou verlief was.

Ek kan koffie of die reuk glad nie verdra nie.

Ek kan sigaretrook en rookdampe glad nie verdra nie. Daarom verkies ek eerder om my tjoppie op ’n elektriese braaier te braai. Miskien kom dit uit my kinderdae toe ek en my twee ouer broers soggens douvoordag die vuur in die vuurherd aan die gang moes kry. En as die hout in die winter nie betyds onderdak gebring is nie, was ’n rookgevulde kombuis en brandende neusgate jou voorland.

Maar laat ek nie ’n huigelaar wees nie.

Soveel so as wat ek rook en sigaretrook “haat”, sal ek, sodra ’n pyproker sy eerste trek aan sy stopsel ‘Rum and Maple’-tabak gee, nader staan. Dis al tabakreuk wat ek verdra.

Gevaarlike brousel

Koffiedrinkers raak liries oor die diep geroosterde aroma van koffiebone of die reuk wat koffie-baristas uit daardie swart geroosterde bone kan trek. Ek, aan die anderkant, het ’n absolute afkeur daarin.

Ek kan koffie of die reuk glad nie verdra nie. En ek maak my uit die voete sodra kollegas die koffiemaker aanskakel. Gee my liewer ’n koppie Earl Grey-tee. Dis mos nou ’n lekker brou’tjie

Gepraat van brousels. Uit my dae as student aan die Kaapse Technikon was daar een chemiese klas wat ek en my klasmaats nooit sal vergeet nie. Snaaks genoeg praat ons altyd daaroor as ons bymekaar kom.

Die goue reël in chemie is dat suur altyd by ’n vloeistof soos water gevoeg moet word en nie andersom nie. Ons dosent het dit by elke klas by ons ingeprent: “Class remember the three A’s. It is: Always Add Acid.”

Wat my bygebly het, was die verstikkende stank van asynsuur in die lug.

Een van my klasmaats maak toe die reusefout deur 200 ml asynsuur in ’n Erlemeyer-fles van 2 liter te gooi. Toe hy die suur met water wou aanvul en die eerste druppels water op daardie asynsuur drup, het die brandreuk van suur die vertrek gevul.

Die volgende oomblik veroorsaak die eksotermiese reaksie van water en suur dat die Erlemeyer-fles se boom losskeur, oor die bladoppervlak skiet en alles wat daarop gestaan het die lug laat intrek.

Die glasskyf is uiteindelik by die deur uit waar dit in ’n visdammetjie beland het. Toe die ergste skrik verby was, het ’n lagbui van verligting in die klas gevolg.

Maar wat my bygebly het, was die verstikkende stank van asynsuur in die lug.

Ma en die reuk van wonderwater

Vir my is daar geen lekkerder reuk as dié van ’n knoffelbroodjie wat in ’n mengsel van olyfolie en Balsamiese asyn gedoop is nie.

En as Opperman se nooi vir hom in ’n nartjie was, dan vind ek my ma in ’n botteltjie Keulse water met die naam van 4711. Die vrou in wie se huis sy gewerk het se ma is dood en ná die begrafnis, het hulle die ou dame se klere en ander besittings waarin hulle nie belang gestel het nie by ons huis kom aflaai.

In een van die bokse was ’n mooi klein blouerige botteltjie met ’n etiket waarop “4711 Original Eau de Cologne” gestaan het. Mamma was in die sewende hemel van geluk, want sy en die ou dame het mooi oomblikke saam deurgebring.

Die reuk van kaneel herinner my aan Kerstyd se gebak en die vrugtekoek.

Met spesiale geleenthede het daardie effense suurlemoen-reuk van die “aqua mirabilis” (of wonderwater) my ma omring. En dan wou ek naby Mamma wees, net soos ek by my std. 2-juffrou wou wees.

Die reuk van kaneel herinner my aan Kerstyd se gebak en die vrugtekoek. Die geur van kaneel roep ook herinneringe op aan my ontslape vriend en mentor prof. Werner van Wyk.

In die winter, terwyl ons weg van die huis met navorsingstudies besig was, het ons vir ons Duitse speserywyn gemaak. Rooiwyn, vrugte en kaneel en naeltjies is in ’n pot verhit tot net voor kookpunt. Ons het ons dan lekker knus rondom die kaggel tuisgemaak met ’n glasie verhitte wyn en ’n stewige stuk bloedwors. Kyk, daar is niks lekkerder nie!

Ek kan ongelukkig nou nie in elke geur ’n vrou plaas nie, maar uit elke reukervaring is daar vele herinneringe wat onlosmaaklik deel van my lewe sal wees en bly.

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noordwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Werner Van Wyk  |  Willem Fransman Jr.  |  Dirk Opperman  |  Rook  |  Tabak  |  Geure  |  Reuke  |  Kaneel  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.