Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hoe gemaak met die kraaineste van die lewe?

Daar is geen eenvoudige manier om die lewe se kraaineste te ontknoop nie, skryf Dawid Kuyler.

Dawid Kuyler

As ’n mens die Nuwe Testament lees, is dit opvallend hoe Jesus beelde uit sy eie omgewing gebruik om teologiese sake aan die orde te stel.

Die gelykenisse handel oor alledaagse dinge.

In my teologie funksioneer beelde uit my eie ervaringswêreld baie sterk. Sedert ek vanaf die begin van 2017 weer ’n voltydse hengelaar geword het, spreek beelde wat te make het met visvang tot my.

Een waaraan ek die afgelope tyd dink, is dié van ’n kraaines. Vir diegene wat nie hengelaars is nie, moet ek dit duidelik stel dat dit niks met ’n swart voël en sy nes te doen het nie.

’n Kraaines is ’n visserman se nagmerrie. Dit is wanneer ou vislyn om die een of ander duistere rede gekoek raak wanneer jy ingooi en dit soos ’n kraaines lyk. Vir diegene wat katrolle gebruik wat nie koffiemeulens is nie, is kraaineste heel bekend.

In geval van ’n kraaines help dit net mooi niks om te probeer ontleed wat verkeerd gegaan het nie. Om te weet jou sinker is dalk te swaar, of dat jy jou vislyn nie mooi egalig opgedraai het, of dat jy dalk te hard gegooi het, verander niks aan die situasie nie.

Die feit dat jy dalk 50 keer ingegooi het sonder probleme en nou skielik ’n kraaines het, verander ook niks aan die saak nie. Die feit is dat jy ’n kraaines het en dat alles tot stilstand geruk het.

Moenie dadelik na jou mes gryp en alles lossny nie.

Kraaineste verskil. Sommige kom redelik maklik weer los, ander is baie meer problematies en ingewikkeld. Om ’n kraaines weer los te maak, is daar enkele riglyne wat kan help:

* Jy mag dalk ’n paar knope los, maar sulke kragwoorde ontknoop geen kraaines nie.

* Moenie ruk en pluk nie, dit vererger die situasie.

* Moenie jou visstok neergooi en die katrol in die sand intrap nie.

* Moenie dadelik na jou mes gryp en alles lossny nie.

* Wees rustig en bekyk die kraaines eers goed voordat jy versigtig probeer om die lyn los te torring. Geduld word dikwels beloon.

Die lewe is gekompliseerd

Julle vra nou seker wat ’n kraaines met teologie te doen het?

Jy kry in die lewe soms ’n kraaines wanneer alles tot stilstand ruk en deurmekaar is.

Dit het al vir jare goed gegaan met jou huwelik, maar nou kry dit ’n kraaines. Jou goeie kinders kan dinge aanvang wat jou verhouding met hulle in ’n kraaines verander. Jou finansiële sake kan in ’n kraainessituasie verander. Siekte kan jou gesondheid in ’n kraaines laat ontaard.

In die politiek is kraaineste nogal volop – vra maar vir die ANC en die DA.

Die lewe en dinge kan so vasgeknoop raak, dat jy geen raad het nie.

’n Kraaines vertel vir my dat die lewe gekompliseerd is. Daar is geen eenvoudige manier om die lewe se kraaineste te ontknoop nie. Om bloot te sê iemand moet net glo en bid, los nie dinge op nie.

Dalk het ons nodig om soos gesoute vissermanne met geduld die kraaineste van die lewe aan te pak. Dalk het ons in die kerk ’n teologie nodig wat ons help om te aanvaar dat daar kraaineste in die lewe is en dat die oplossings nie eenvoudig is nie.

Om uit ’n finansiële krisis te ontsnap, beteken nie ek moet maar net ’n tiende van my salaris gee en God sal my seën en die krisis oplos nie.

As ek siek word, sal dagga en daggaprodukte nie die wonderkuur wees om die kraaines te ontknoop nie. Jy sal hoogstens gerook kan raak en jouself verbeel die kraaines is weg of dat dit ’n mooi kraaines is.

Die beeld van ’n kraaines help my om te begryp dat lewensituasies soms kompleks is en daar nie maklike oplossings is nie. Die uitpluis en ontknoping van sulke situasies vra geduld en tyd.

Geweld en woede is kontraproduktief – vra maar die manne wat hul katrolle neergooi en in die sand intrap. Toe ek ’n kind was en met baie kraaineste te doen gehad het, het my pa soms my visstok gevat en die kraaines losgeknoop. Ervaring en geduld help.

As ek dadelik die mes gryp, raak ek gou ontslae van die kraaines, maar ek verloor ook heelwat vislyn.

Dit het al soms gebeur dat ek ’n kraaines kry en ek my sinker en aas nie baie diep ingegooi het nie. Nadat ek met geduld die kraaines losgetorring het, besluit ek dan om nie my lyn in te trek nie en dan vang ek ’n vis naby aan die kant.

Kraaineste kan verrassend positiewe gevolge hê.

Dalk het ons nodig om soos gesoute vissermanne met geduld die kraaineste van die lewe aan te pak. Dalk het ons in die kerk ’n teologie nodig wat ons help om te aanvaar dat daar kraaineste in die lewe is en dat die oplossings nie eenvoudig is nie.

Dit vra dat ons sake geduldig sal lostorring en ook ander se hulp daarmee sal aanvaar.

Ons het baie kraaineste in ons samelewing. Gebruik die mes as ’n laaste uitweg.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawid Kuyler  |  Geweld  |  Woede  |  Visvang  |  Kraaineste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.