Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hoe goed ken ons mekaar?

’n Tydelike verblyf in Lusaka het Dawid Kuyler laat wonder hoe goed ons mekaar as mense in Suid Afrika ken.

Dawid Kuyler

Sedert die begin van April het ek die geleentheid om vir drie maande in Lusaka, Zambië, te woon. Ek is gasdosent by die Justo Mwale-universiteit waar ek kerkgeskiedenis aanbied.

’n Mens hoor van ’n stad soos Lusaka en jy kan op die internet en GoogleEarth kyk hoe dit daar lyk, maar die beste is om dit eerstehands te beleef.

Ek woon langs Munali Road wat vanuit die Great East Road in ’n noordelike rigting loop. Ons woonbuurt is Chudleigh wat aan Chamba Valley grens.

Elke oggend gaan stap ek vir ongeveer ’n uur en verken my omgewing.

Sommige paaie is geteer maar daar is ook baie swak grondpaaie. Langs die swak paaie kry jy hotelle en gastehuise en mooi huise. Oral word gebou en staan huise en meenthuiseenhede in verskillende stadiums van voltooiing. Zambiërs hou nie van heinings om hul huise nie, maar bou eerder mure van groot sementblokke om hul groot erwe.

Pres. Donald Trump van die VSA kan by hulle kom leer.

Op my wandelinge kom ek baie mense teë wat werk toe stap en ook baie skoolkinders in hul skoolklere. Jy sien weinig taxi’s in die woonbuurte, maar in die stad self is daar heelwat taxi’s.

Mense stap ver, maar die woonbuurte is nie soos in Suid-Afrika ver buite die stad gebou nie. Mense kan stap tot by die groot paaie wat die stad deurkruis en vandaar geleenthede kry.

Die verskil tussen ryk en arm is ook duidelik.

Die mense is baie vriendelik en groet graag. Nog nie een dag het ek onveilig gevoel nie – en ek het al deur arm en swak buurte ook gestap.

Ek het nog nie enige vet Zambiërs op my wandelinge gesien nie. Dalk is dit omdat hulle so stap en gesond eet. My vrou herinner my toe daaraan dat dit as gevolg van vertraagde groei is.

Kinders kry in hul vroeë ontwikkelingsfase nie genoegsame voedingstowwe nie en dit lei tot onder meer vertraagde groei. In Zambië is die persentasie daarvoor 45% en in sommige streke so hoog soos 65%. In Suid-Afrika is dit ongeveer 20%.

Die verskil tussen ryk en arm is ook duidelik en jy sien dit in die huise en die voertuie waarmee mense ry.

Buitelandse invloed duidelik

Die baie winkelsentrums in die stad is groot en oral sien jy winkels wat jy ook in Suid-Afrika se winkelsentrums kry.

Die bekende winkels laat jou as ’n Suid Afrikaner tuis voel. Ja op die pakkies met vleis staan daar “potjiekos” en boerewors word ook verkoop. Suid-Afrikaanse wyn en bier is ook oral beskikbaar.

Die verkeer is heel aanvaarbaar, maar in die middestad soms druk. By verkeersirkels geld Zambiese reëls maar jy kan ook dit oorleef. Hulle gee mekaar ’n kans.

Veral die invloed vanuit China is duidelik sigbaar.

Die invloed vanuit die buiteland is ook sigbaar. Veral die invloed vanuit China. By die universiteit is ’n groot Chinese konstruksiemaatskappy doenig. Waar aan paaie gewerk word, sien jy oral Oosterlinge: óf Chinese óf Indiërs. Die Chinese is besig om ’n groot hospitaal te bou met ’n mediese skool.

Op een van my staproetes is daar groot watersuiweringsaanlegte wat deur die VSA befonds is en dit word op ’n groot bord aangekondig.

Suid Afrikaners is ook hier – mense wat vir groot internasionale maatskappe werk en dan ook mense wat betrokke is by boerdery.

Lusaka se kerke

Ek het een Sondagaand by die Dutch Reformed Church in Zambia ’n erediens gaan bywoon. Die is ’n NG-gemeente wat in Lusaka en buite Lusaka bedieningspunte het – veral vir Afrikaanssprekendes.

Die gemeente se lidmate is ook met Engelssprekendes getroud en daarom het hulle veeltalige dienste en alle rasse woon dit ook by.

Lusaka is ’n stad met baie kerke.

Een keer per maand het hulle ’n groot mark wat baie bekend is in Lusaka.

Lusaka is ’n stad met baie kerke en op my wandelinge sien jy oral kerkgeboue wat gebruik word, maar wat nog heelwat afrondingswerk kort. Groot borde kondig aan watter kerk dit is en wie die leraars is.

Pinksterkerke het die afgelope dekades geweldig gegroei. Op busse en taxi’s is oral godsdienstige slagspreuke. Hier en daar ry jy ook verby ’n moskee. Soos Paulus kan ’n mens sê: Mense van Lusaka ek kan sien dat julle baie godsdienstig is.

Op Palmsondag het kerke oral in die strate optogte met palmtakke gehou met orkeste aan die voorpunt.

’n Positiewe belewenis

Hoe raak Lusaka my en my belewenis van myself?

In ’n vreemde plek raak ’n mens meer bewus van jouself. Hier is ek deel van ’n klein minderheidsgroep wat ras betref, maar aan die ander kant beleef ek dat ek deel is van ’n groter mensheid.

Almal is besig om ’n lewe te probeer maak. Ons lyk dalk verskillend maar ons is eenders. Ons almal behoort aan gesinne. Ons het lief. Ons haat. Ons vrees. Ons hoop. Ons werk vir ’n lewe en ’n toekoms. Ons lewe.

Hier wonder ek opnuut hoe goed ken ons mekaar as mense in Suid Afrika?

In die Reformed Church in Zambia beleef ek Suid-Afrika se kerklike verbintenis met Zambië sedert die begin van die 19de eeu. Ek en baie Zambiërs deel ’n gemeenskaplike geloof in God. Op Goeie Vrydag het ek die geleentheid gehad om by die Reformed Church in Zambia se Northmead gemeente die diens waar te neem.

Hul kerkgebou was eers ’n Nederduitse Hervormde Kerk en die hoeksteen is deur ds. MM Grobler op 30 Oktober 1954 gelê.

Hier in Lusaka word ek nog ’n jaar ouer en hier gaan ek en my vrou op 8 Mei ook ons stem uitbring in die Suid Afrikaanse verkiesing.

Ek dink voordat ons sommer ’n mening uitspreek oor ’n plek of mense is dit goed om dit eers eerstehands oor ’n tydperk te belewe. Ek sal nie sê dat ek Lusaka en die Zambiërs ken nie maar my belewenis hier is ’n positiewe een.

Hier wonder ek opnuut hoe goed ken ons mekaar as mense in Suid Afrika? Is ons bereid om ons oop te stel vir ’n belewenis?

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawid Kuyler  |  Lusaka  |  Zambië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.