Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hoe sien die reënboognasie nou vir Jesus?
Christina Landman

Ek sit dikwels en wonder hoe sien die reënboognasie nou vir Jesus?

Nie lank gelede nie het ’n kind Jesus as ’n hanswors geteken. En toe was dit verkramptes teen verligtes, en Jesus is in twee kampe laat staan.

En toe kom die Groot Rugby en oral is daar foto’s van wenspelers wat vir Jesus dankie sê. En die verligtes rep nie ’n woord nie, ter wille daarvan dat ons almal ’n hêppie oomblik saam kan hê, saam met Jesus in een kamp.

Ek sit toe nou die dag met ’n klompie kinders en gesels. Ons praat nie oor of hulle Jesus as ’n hanswors mag verf by die skool nie. Dit lyk of verf maar skaars is by daardie skool. Ons praat ook nie oor rugby nie, want rugby gaan maar by kinders verby wie se huise nie die meubels daarvoor het nie.

Ons praat oor of hulle beddens het om op te slaap. Ek het heel onskuldig vir die stuk of 30 kinders gevra waar slaap hulle. Wraggies, nie een van hulle slaap op ’n bed nie.

Hulle slaap by ouma op die vloer. Of in die sitkamer. O nee, wag, daar is een wat met sy tannie op die bed slaap, maar daarvoor word hy nou te groot.

Die man wat soms in my tuin werk, het ’n graad. Hy het ook ’n vrou wat ’n baba gaan hê, enige dag nou.

Die man wat soms in my tuin werk, het ’n graad. Hy het ook ’n vrou wat ’n baba gaan hê, enige dag nou. Hy weet nie watter dag nie, want sy is daar by die hospitaal met ’n hele klomp vroue in die ry voor haar, en nie een op ’n bed nie.

Hy weet net dat hy haar daarna gou met die taxi sal moet gaan haal.

Want vroue wat babas gehad het, sit op die vloer.

So ’n rukkie terug doen ek navorsing onder plaaswerkers. Ek het ’n assistent wat ’n kulturele interpreteerder is. Hy moet die taal en kultuur interpreteer dat ek kan verstaan wat ek doen. Met sy eerste geld gaan koop hy vir hom en sy vrou van 20 jaar . . . ’n bed.

Ek het half grootgeword met die idee dat ek die reg het om op ’n bed te slaap.

Ek het half grootgeword met die idee dat ek die reg het om op ’n bed te slaap. En al die jare het ons dit nooit onder mekaar se aandag gebring nie. Dat ’n meerderheid mense in die land – veral kinders – nie ’n bed het nie.

Ek dink toe daaraan dat Jesus ook nie ’n bed gehad het nie. En dat kerke daarom juis sensitief moet wees dat mense nie beddens het nie. En dat kerke moet kla wanneer daar by staatshospitale kamers vol beddens opgestapel staan wat nooit onder ’n pasiënt te lande kom nie.

Ek herinner my dat ek eendag diep in die arm platteland was, en dat daar ’n kerk was met gate in die dak. Maar in die agterste deel van die kerk was daar beddens – vir siek mense, en kinders, en vroue wat geboorte gegee het.

So, wanneer Jesus vir die lam man van Betesda sê om sy bed te vat en te loop, gaan dit nie net om die lam man wat weer kan loop nie.

Die man het ’n bed, en Jesus gee hom sy waardigheid.

Nie die werk van ’n hanswors nie, sou ek sê.

Meer oor:  Christina Landman  |  Reënboognasie  |  Tuinwerker  |  Armmoede  |  Jesus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.