Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hoop is ’n wentjek
Mohlopheni Jackson Marakalala

’n Blink sjokolade-omhulsel. Een plastiekbottel. ’n Gefrommelde servet. Dis die somtotaal van rommel wat sy getel het op haar 45 minute lange stappie vroegoggend deur Rwanda se heuwelryke hoofstad, Kigali, skryf Engela Duvenage.

Busvervoer is vir ons ge­reël, maar ons verkies vanoggend om dapper en stapper meer van die ordelike stad te ervaar voordat ons deur die deure van die indrukwekkende eiervormige Kigali-konferensiesentrum stap.

Meer as 1 600 mense is daar vir die 2018 Next Einstein Forum (NEF). Afrika se navorsingsuksesse word bespreek. Finansiers van talryke navorsingsprogramme in onder meer fisika, wiskunde en die biomediese wetenskappe word bedank. ’n Vaktydskrif vir studies uit Afrika word van stapel gestuur, asook ’n internetgebaseerde opleidingsprogram oor wetenskapskryfwerk vir joernaliste en navorsers.

’n Rekenaarwetenskaplike van Malawi wen ’n $25 000-innovasieprys vir haar idee om energie uit mieliestronke op te wek.

Die forum-webblad verklaar: “Ons glo die volgende Einstein sal ’n Afrikaan wees. Ons werk daaraan om Afrika ’n spilpunt vir wetenskappe en tegnologie in die wêreld te maak.”

’n Rekenaarwetenskaplike van Malawi wen ’n $25 000-innovasieprys vir haar idee om energie uit mieliestronke op te wek.

Dit is ’n uitvloeisel van die Africa Institute for Mathematical Sciences-netwerk (AIMS) en die Next Einstein-beweging wat wetenskaplikes met wortels in Afrika ondersteun. Die Suid-Afrikaans gebore Kanadese fisikus prof. Neil Turok is een van die dryfvere daaragter.

In 2013 was dr. Mohlopheni Jackson Marakalala van die eerstes wat daardeur gefinansier is. Ek neem ’n foto van hom onder ’n banier waarop sy gesig pryk.

In matriek moes hy en sy klas ’n wiskundehandboek deel en hy was die eerste leerling van sy taamlik nuwe skool in Limpopo wat universiteitstoelating gekry het.

Ná sy studie aan Harvard bestudeer dié dosent van die Universiteit van Kaapstad nou aansteeklike siektes soos tuberkulose.

Vanjaar is daar twee nuwe Next Einstein-genote van die Universiteit van Pretoria.

Dr. Sanushka Naidoo glo dat plantbiotegnologie-tegnieke voedselproduksie kan verbeter. Dr. Vinet Coetzee het pas ’n haardroër-grootte skandeerder help patenteer wat ’n mens bo iemand se hand hou om blitsig te bepaal of die persoon malaria het.

Ek voer ook ’n onderhoud met Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Suid-Afrika se minister van wetenskap en tegnologie, oor haar planne vir haar eie doktorsgraad en hoekom sy reken dat leerlinge liewer wiskunde as wiskundige geletterdheid moet studeer.

“As kinders nie reeds op laer­skool in wetenskap en wiskunde belangstel nie, sal daar nie eendag iemand wees om ons navorsingsprogramme te vul nie. Jy sal hulle soek maar hulle sal nie bestaan nie,” sê die minister, wat glo dat ons ekonomie moet wins maak uit tegnologiese ontwikkelings.

In ’n paneelbespreking sê pres. Paul Kagama van Rwanda dat hy nooit self ’n Mark Zuckerberg wou wees nie. Hy hoop egter dat sy pogings die ontwikkelaar van die volgende Facebook-gelyke sal ondersteun.

Bo alles word hoop en potensiaal by die forum bepraat. Drie dae lank seëvier die gevoel dat alles moontlik is vir ons vasteland en sy mense. Al is dit eendag.

Op die afsluitingsgeselligheid speel ’n Rwandese musiekgroep selfs Johnny Clegg se musiek. Die jonger kongresgangers raak ’n ritmiese treintjie waaragter tot die NEF-voorsitter in sy snyerspak uitgelate inval.

By my aankoms op die Kigali-lughawe het ’n veiligheidswag plegtig gevra dat ek die diefstalwerende plastiekverpakking rondom my tas afsny. Bo die vullisdrom was ’n kennisgewingbord: “Use of non-biodegradable polythene bags is prohibited.”

Plastieksakke is al sedert 2008 in Rwanda verbode en vieslike boetes is die voorland van diegene wat dit wel probeer insmokkel. Inkopies word verpak in dik kardoese.

Voor die forum begin besoek ek eers ’n museum ter herinnering aan Rwanda se drie kranksinnige maande in 1994. Tot 1 miljoen Tutsi’s is in ’n goed georganiseerde, gepropageerde en beplande veldtog deur hul landgenote vermoor, min of meer dieselfde tyd as Suid-Afrika se eie vrye verkiesing.

Daarna vra ek myself: Hoe het Rwanda enigsins ná soveel hartseer kon opstaan? En hoekom stapel die rommel in Suid-Afrikaanse strate so op? En wat dan van ons rommelstatus?

By my hotel vertel ’n kelner trots van “Umuganda”. Dis
Kinyarwanda vir “ ’n samekoms vir ’n spesifieke doel”.

Volgens wet kom alle aktiwiteite een Saterdag per maand vir drie uur lank landwyd tot stilstand. Minstens een volwassene per huishouding val dan by ’n voorafbepaalde gemeenskapsprojek in. Daar word rommel opgetel, waterpype en paaie herstel, strate skoongevee en gemeenskapsvergaderings gehou.

“Ons het nie buitelandse hulp nodig om ons eie agterplase skoon te hou nie,” sê Kagame menigmaal. Hy regeer al sedert die volksmoord – eers as minister van verdediging en sedert 2007 as president.

Verlede jaar het 98% van sy kiesers gestem dat hy tot 2034 kan lei.

Nie almal bewonder sy bestuurstyl nie. ’n Israeliese webblad skryf dat vrees vir boetes die nasie op hul tone hou. Volgens ’n 2015 Human Rights Watch-verslag is die regering ’n boelie wat Kigali skoonmaak van “ongewenstes” soos straatverkopers, prostitute en boemelaars. Dis glo sodat die stad op die oog af netjies lyk en buitelandse hulp kan bly instroom na wat voorgehou word as “Afrika se rolmodel-land”.

Op die forum se laaste dag skryf ’n Zimbabwiese vriendin en mede-kongresganger op Facebook: “Elke Afrikaland het ’n Paul Kagame nodig!!!”

Sy’t as joernalis in Kaapstad gewerk, woon nou in Kenia en reis wêreldwyd. Haar stelling kry steun én teenkanting. Sy hou voet by stuk, en wy uit oor Kigali se netjiese infrastruktuur en maklike verkeersvloei, hoe armoede en werkloosheid daal en die BBP styg.

“As ’n diktator dan nou oor my moet regeer, dan wil ek ’n funksionele een hê . . . Ek sê nie ek stem saam met onderdrukking nie. As Afrika se diktators daarop aandring om aan die bewind te bly, moet hulle ten minste die ordentlikheid hê om hul land ’n beter plek te maak. Ek het deur Afrika gereis en nooit gesien wat ek hier sien nie. Ek het ontnugter geraak, maar Rwanda gee my hoop dat Afrika kan verbeter.”

Ek is op dieselfde vliegtuig huis toe as die Malawiese innovasiepryswenner. Sy’t haar tafel-grootte wentjek onder die arm. “Dis nie ideale handbagasie nie,” erken sy met ’n trotse glimlag. “Maar hoe kan ek so iets groots net agterlaat?”

Inderdaad. Onskatbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.