Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Hy rus jou toe, berei jou voor
Laetus O.K. Lategan

Ek wonder dikwels oor Paulus se opmerking aan Timoteus om voorbereid en toegerus vir die bediening te wees (2 Timoteus 3:17).

Ek het onlangs weer hieraan gedink toe ons finalejaar-teologieklas van by-kans 30 jaar gelede weer bymekaar gebring is danksy tegnologiese platforms. Soos dit met reünies gaan, is herinneringe uitgeruil, eksamens en professore beleef, foto’s van tóé en nóú gedeel en opmerkings oor die bedieningservaring gemaak. Die mededelings was oor studie, werk en die lewe.

Wat my opgeval het, is hoe baie klasmaats hulle werkervaring tydens hulle studies gedeel het. Studies was tóé ook nie maklik nie. Ervarings as dienspligkapelane is gedeel. Die klem was nie op “die noorde”, soos daar destyds na die Grensoorlog verwys is nie, maar eerder op die emosionele bystand om diensplig te oorleef. Die verhale oor bulderende korporaals verander selde.

Waar elkeen nóú is, vertel iets van die uitdagings en verloop van die lewe: In die aktiewe bediening, akademie en besigheid. Stad en platteland, Engeland, China en Kanada is nou ons staanplek. Bediening is nie altyd aan ’n kerk gekoppel nie. Dié van ons wat in die “sekulêre wêreld” ons heil gaan soek het, se verhale was eintlik nie anders nie. Dietrich Bonhoeffer, Duitse teoloog, se vraag is steeds geldig: Hoe praat jy oor God in die tydsgees van nou?

Almal onthou die vrees as jy nie jou deel uit die Ou en Nuwe Testament kon vertaal of die taalkunde verduidelik nie.

Tydens ons studiejare was die klem op die “tale”, Grieks en Hebreeus, die nuwe koers met “Kerk en samelewing” en die openbare belydenis van apartheid as sonde. Nelson Mandela is vrygelaat en die Berlynse Muur het geval. Mense het al begin praat van die jaar 2000. Daar is toe reeds voorspel dat die kerk gróót uitdagings binne ’n veranderde samelewing sal hê.

Elkeen se verhaal vertel iets van die voorbereiding vir die bediening. Almal onthou die vrees as jy nie jou deel uit die Ou en Nuwe Testament kon vertaal of die taalkunde verduidelik nie. Boeke van eergister is weer onthou: Bavinck, Calvyn, Heyns en Jonker.

Dit was vir my altyd opvallend dat ons pastorale blootstelling besoeke aan ’n kliniek was om mense wat alkohol-afhanklik is te begelei en aan hospitale om siekes te troos. God en siekte was ’n gewilde bespreking. My herinnering was dat daar vir alles ’n antwoord en teksverwysing was. Sal die antwoorde van tóé nou nog pas?

Ek het altyd gedink die kurrikulum moes anders gewees het. Meer eietyds, meer toekomsgerig. Nou weet ek van beter.

Die “ou” teologieboeke staan steeds op my boekrak, wel agter toe deure. Ek kyk daarna as ek my boeke jaarliks afstof. Ek het nog my The Greek New Testament (in Grieks) en Biblia Hebraica Stuttgartensia (Hebreeuse Bybel). My Bybel word elke dag gelees.

Van die opmerkings tydens ons “reünie” het my in besonder aangegryp. Die hartverskeurende verlies van ’n kind word gedeel. Wat sal ’n mens nie gee om dit te kan verander nie? Maar ek hoor ook van die geloofservaring wat teleurstelling bring. Hoe kan die een sonder die ander? Dít maak jou voorbereid en toegerus.

Kerkberoepe het minder geword. Jy bly waar jy is. Jy is nie ongelukkig nie, maar wonder hoe dit moet wees om van staanplek te verander.

’n Mening wat gedeel is, het alles vir my oor voorbereid en toegerus wees gesê: Skuif as dit “goed” gaan. Dit is goed vir dominee én gemeente, maar nie sonder uitdagings nie. Stuur jou “storie”, nie ’n CV nie. Gemeentes beroep nie ’n CV nie, maar ’n mens. As jy dit nie kry nie, is dit ook goed. “Die Here het die lááste sê.” Die gemeente se toekoms hang nie van jou af nie.

Die bevestiging is oorweldigend: God maak jóú voorbereid en toegerus. Sela!

Meer oor:  Bybel  |  Studies  |  Vertaling  |  Voorbereiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.